Darius se Dekreet

14 August, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Darius se Dekreet

Daniël 6:1-11

VIDEO | LUISTER

Koning Darius het ‘n herstrukturering van sy staatsdiens gedoen, en honderd en twintig “satrape” aangestel (2020 vertaling).

Nou vra jy seker wat die sogenaamde satrape was?

’n Satraap (Hebreeus: ʾăḥašdarpanîm, oorspronklik uit Oud-Persies) was in die tyd van die Medo-Persiese Ryk ’n soort provinsiale goewerneur of landvoog. In Daniël 6 is die 120 satrape waarskynlik goewerneurs oor verskillende streke van die ryk. Met ander woorde, ’n satraap was ’n hoë amptenaar wat ’n deel van die koninkryk namens die koning regeer het – min of meer soos ’n premiersposisie of provinsiale administrateur vandag. (bron: ChatGPT).

Darius het verder drie ministers aangestel oor hierdie satrape. Daniël was een van die drie en hy het uitgetroon bo al die ander in bekwaamheid en betroubaarheid. In die wandelgange was daar fluisteringe dat hierdie einste Daniël oor die héle koninkryk aangestel sou word. En die manne in die hoë gestoeltes het onder mekaar gebrom en gemor. Professionele jaloesie, noem die slim mense dit!

Hierdie verskynsel is vandag natuurlik baie prominent, veral in die politieke arena. Ons sien dikwels hoedat die manne daar bo mekaar opvreet, want nie een wil hê dat die ander hoër as hy moet wees nie en almal wil héél bo wees, maar dáár is net plek vir één. Allerhande onheilighede en skelmstreke word ingespan om mekaar te probeer kelder. Nou sien ons dat hierdie soort jaloesie al uit die antieke tye kom!

Die ministers en satrape het heimlik koppe bymekaar gesit om van Daniël ontslae te raak. “Wat kan ons teen hom gebruik?”

Daniël se lewe is egter silwerskoon en hulle kry absoluut niks! Dan spring een op: “Ek het dit! Sy Godsdiens!”

Sy mede-ringkoppe kyk hom vraend aan en dan verduidelik hy: “Hierdie Daniël is fanaties oor sy godsdiens! Ek weet nie of julle al opgemerk het nie, maar hy gaan bid driekeer ‘n dag by sy oop venster. Maar dis nie al nie: Ek het gehoor dat hy gladnie ons bekende gode aanbid nie….. hy aanbid glo ‘Die God van die Hemel’!”

“Nog nooit van Hom gehoor nie...… wie is Hy?”

“As ons iets kan inbring teen hom oor sy godsdiens, dan hét ons hom!”

“Maar hoe kan ons hom elimineer oor sy godsdiens? Wat kan ons doen?”

Dan spring een ou ringkop opgewonde op: “Ek het dit! Ek het dit!”

Almal kyk hom vraend aan. “Ons kry die koning om ‘n dekreet uit te vaardig dat almal vir ‘n maand lank slegs één god aanbid - en dan bedoel ek nou nie daardie een van Daniël nie. As hy nie saamspeel nie, is dit tiekits met hom!”

Nou is die manne skielik opgewonde: “Ek het ‘n beter idee, kom ons smeer die koning ‘n bietjie heuning om die mond, en laat almal hóm, Darius aanbid!”

Soos een man storm die honderd en twintig grootkoppe die koning se troonsaal binne. Ek dink Darius het amper van sy troon afgeval oor hierdie oorweldigende, ongenooide besoekie. Nog voordat hy behoorlik tot verhaal kan kom, begin die lot al te babbel: “Mag die koning laaank lewe!” en Darius voel sommer klaar baie gevlei oor hulle lofbetuiging.

Dan tree een van die voorbokke na vore en verduidelik dat hulle almal eenparig besluit het dat die koning ‘n bietjie eer behoort te kry. Gerieflikheidshalwe verswyg hy die feit dat Daniël geensins geken is in die saak nie! “Ons het nou gedink dat dit baie goed sal wees as die hele koninkryk vir ‘n volle maand lank slegs vir u, koning Darius, aanbid en vereer. Dit sal wondere vir die koninkryk beteken.”

Natuurlik is Darius gevlei deur hierdie “edele” voorstel. Maar dan gaan die spreker voort en baie slinks stel hy sy plan bekend: “Maar om dit gewig te gee, sal dit dalk goed wees as ons dit ‘n koninklike dekreet van die Mediërs en Perse maak wat onveranderlik vas sal staan. Dit sal maak dat niemand uitgesluit sal wees nie. En om dit interessant te maak, stel ek voor dat diegene wat nie wil saamspeel nie in die leeukuil gesmyt word!”

Darius ril by die gedagte, maar hy plaas nogtans sy stempel op die dokument, sonder om eers navraag te doen oor die ware motief agter hierdie verering. ‘n Mens wonder waarom Darius hom so aan sy neus laat lei het - was hy dalk maar net ‘n strooipop?

Daniël het gehoor van die dekreet. Was hy ontsteld? Wie sou nie wees nie! Nogtans sien ons Daniël dieselfde dag nog waar hy doodluiters voortgaan en doen wat hy glo reg is en vreesloos die trappies op na sy dakkamer opklim. Hy maak die vensters wawyd oop, en soos sy gebruik is kniel hy daar in die oop venster wat kyk in die rigting van sy geliefde Jerusalem. Met volle oorgawe aanbid hy God en loof en prys hy Hom. Maar valkoë hou hom fyn dop!

Ek en jy het ‘n reuse taak op ons skouers, om die lig van die evangelie te laat skyn, selfs wanneer die donderwolke oor ons saampak. Moenie bang wees om op te staan vir Jesus nie!

Gebed:

Here, dikwels lyk die oormag van ongeloof so oorweldigend - hou asseblief my hand vas, en gee my die onverskrokkenheid om vir U op te staan!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026