Danklied

12 August, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Danklied

Jesaja 26

Vertrou altyd op die Here,
want die Here God is 'n veilige toevlug. (v. 4)    

Die verhouding tussen God en Sy volk is verbreek toe hulle aanhou sondig het, en hom verwerp het. Maar nou kom herstel God weer hierdie verhouding, sodat die verlostes met vreugde kan sing. Die stad Sion was verwoes as gevolg van die volk se sonde, maar God het dit weer 'n sterk stad, 'n vesting gemaak wat Sy kinders beskerm met sy hoë mure. En nou verwelkom die stad hulle met poorte wat wyd oop staan.

Na al die slegte nuus wat hierdie volk in die eerste klompie hoofstukke gekry het, is hierdie uitspraak 'n koel lafenis, en daarom kan die volk hierdie danklied sing. Waar hulle vertroue eers op alliansies met ander volke asook op hulle eie rykdom gegrond was, vertrou hulle nou na al die swaarkry op die Here, daarom kan Jesaja vra: “Gee aan hulle vrede en voorspoed, Here, want hulle het hulle vertroue op U gestel.” (v. 3)

Eintlik is dit gladnie die stad met sy sterk mure wat vir die volk daardie veilige vesting is nie. Dit is die Here wat vir hulle die toevlug is, wat hulle beskerm. Dink maar weer aan Jerigo wat agter sy ondeurdringbare mure geskuil het. Sonder dat iemand daaraan geraak het, het hulle eenvoudig ineengestort en die stad weerloos gelaat. Ons moenie ons vertroue op aardse dinge vestig nie, hulle kan óók soos die Jerigomure verkrummel!

En dit is presies wat Jesaja in vers 5 en 6 sê: “Hy bring dié wat in hoë vestings woon, af grond toe, Hy gooi hulle hoë stadsmure om.”

Dan sê Jesaja iets in vers 8 wat die verskil tussen 'n gelowige en ongelowige baie duidelik teken: “Ook wanneer U straf, Here, vertrou ons op U.” Vir die volk het dit op daardie stadium beteken dat hulle die oordeel van God aan hulle lywe voel, maar dat dit hulle nie moedeloos moet maak nie. Hulle moet net op God vertrou – Hy sál uiteindelik die uitkoms gee. Vandag beteken dit vir jou en my dat ons ons nie moet blindstaar teen al die dinge wat ons bedreig nie, of dit nou die goddelose se verskriklikhede is wat hulle aanvang, en of dit dinge is soos die aaklige Kovid 19, aardverwarming ens. Ten spyte van al hierdie dinge, is daar net één ding vir ons om te doen, en dit is om onwrikbaar op God te vertrou.

Persoonlik sien ek nie die swaarkry wat ons as gelowiges beleef as straf van die Here nie, maar wel as tugtiging of loutering. Inderdaad sien ek die hand van God daarin, maar ek aanvaar dit met blydskap en vertroue, want ek weet dat dit my geloof versterk en my nader bring aan die Here.

In teenstelling hiermee, sien die ongelowige dit as straf. Dit bring hulle nie nader aan God nie, maar deur hulle eie siening dryf dit hulle selfs verder weg van God af. Sou dit dan help om eerder aan hulle goed te doen? Inderdaad nee! Hulle erken nie eers die hand van God daarin as Hy aan hulle goed doen nie. Hulle sien slegs hulle eie bekwaamheid in die goeie wat hulle tref. Met ander woorde, daar is géén vertroue op God nie, maar slegs in hulleself!

Uiteindelik kom alles neer op die woordjie “vertroue.” Waar lê jou vertroue? Is dit op die goeie pos wat jy beklee? Jou stewige pensioenfonds? Jou goeie gesondheid en streng oefenprogram?

Die probleem is dat so baie dinge totaal buite ons beheer is. Hier het ons dit nou weer gesien met die uitbreek van Kovid 19! Talle mense met 'n goeie, gevestigde en florerende besigheid is binne enkele maande bankrot as gevolg van die inperkings.

As gelowige bely ek prontuit dat ek my vertroue op God plaas. Maar dan wankel my vertroue by die geringste ou dingetjie wat skeefloop. Dan is my vólle vertroue mos nie op Hom nie? Vertroue beteken dat ek onvoorwaardelik op Hom vertrou, selfs al lyk omstandighede maar baie duister vir my. Habakuk het dit so mooi gesê, dat al loop álles skeef in die lewe, sal hy nogtans jubel in die Here. Dit beteken dat hy selfs dán steeds op God vertrou.

Ons het oor die afgelope maand se dagstukkies telkemale gesien dat God steeds regeer, en in volle beheer is. In vers 12 beklemtoon Jesaja dit weereens: “U regeer in vrede oor ons, Here!” Dit is Hý wat nasies toelaat om sekere dinge te doen. Dit is ook Hý wat hulle sal stuit wanneer dit binne Sy raadsplan val. Daarom kan ek daarby berus wanneer dit die dag sleg gaan met my, want die Here laat dit toe met 'n doel. Één ding weet ek egter verseker, nie alleen regeer Hy nie, maar Hy sorg ook vir my!

In die laaste twee verse gee Jesaja 'n troos wanneer dit begin sleg gaan: “Gaan in julle slaapkamers in, my volk, sluit die deure agter julle toe. Kruip 'n rukkie weg totdat God klaar is met straf.” Ja, hulle moet die straf wat die goddeloses gaan tref, te wagte wees. Maar hulle moet moed hou, alles sal uiteindelik ten goede uitwerk vir die gelowiges.

Gebed:

Here, dankie dat U ons ook vanoggend moed inpraat terwyl dit met ons sleg gaan, en dat ons kan wéét dat uitkoms vir ons wag.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Getsemane
29 October, 2026
Die Wingerdstok
28 October, 2026
Die Paasmaal
27 October, 2026
Voorberei vir die Dood
26 October, 2026
Voetewas
23 October, 2026