Damaskus

17 October, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Damaskus

Handelinge 9:1-25

VIDEO | OUDIO

Ons wil die Fariseërs van ouds sien as 'n bose klomp, maar eintlik was hulle doodgoeie mense. Hulle het geglo dat dít wat hulle doen, reg was volgens die Wet en dat hulle besig was om God se wil te doen. Om die waarheid te sê, het hulle voluit vir God gelewe en baie hard probeer om elke moontlike en onmoontlike wet in die Skrif na te kom tot die laaste tittel en jota. Om sake vir hulleself en veral ook vir die man op straat makliker te maak, het hulle ‘n klomp ekstra wette ingevoeg sodat daar nie dalk per ongeluk uit onkunde ‘n wet verbreek kon word nie.

Maar toe kom Jesus. Hy het alles waarin die arme Fariseërs geglo het omver kom werp. Dit het hulle woedend gemaak en uiteindelik het hulle daarin geslaag om van Hom ontslae te raak. Maar toe begin hulle éintlike nagmerrie eers want oornag ontplof Jerusalem in ‘n klomp volgelinge van daardie selfde Jesus en hulle getalle groei en groei soos ‘n potbrood-deeg op ‘n warm somerdag. Hulle was desperaat om van die klomp Jesus-volgelinge ontslae te raak want hulle was besig om die ganse volk te "vergiftig" met hulle "wettelose" Godsdiens!

Saulus was een van die mees fanatiese van hierdie Fariseërs. Net soos die ander, was hy heilig oortuig dat hy die regte ding doen deur die Christene wat besig was om die eeue-oue wette te verontagsaam te vervolg. Toe daar nou nie meer Christene in Jerusalem oor was nie, maak hy dit sy taak om hulle te gaan uitsnuffel dáár waar hulle heen gevlug het en hulle terug te sleep Jerusalem toe om daar vir altyd toe te sluit sodat hulle nie verder sulke "snert" in die mense se koppe kon inpraat nie. En so vertrek Saulus na Damaskus, ‘n stad in die Romeinse provinsie Sirië, op ‘n wrede vervolgingstog in die Naam van die Here. Só het hy ten minste geglo!

Vandag sit ons kerk dikwels ook vol “Fariseërs.” Hulle is mense wat vas glo dat die dinge wat hulle vir die kerk doen die regte ding is. Fanaties word hulle taak dikwels uitgevoer in die vaste geloof dat dit vir God is wat hulle dit doen, maar intussen kry mense seer as gevolg van hulle optrede. Dikwels kos dit ‘n “Damaskuservaring” om so ‘n persoon tot sy sinne te ruk, soos wat met Saulus gebeur het.

Saulus was al naby Damaskus toe 'n verblindende lig uit die hemel skielik op hom skyn en hom en sy reisgenote omstraal. Saulus val op die grond neer as ál sy lewenskrag uit sy liggaam vloei in die teenwoordigheid van die lewende, opgestane Jesus. Terselfdertyd kom daar ‘n stem uit die hemel en Saulus word in sy moedertaal, Aramees aangespreek: “Saulus, waarom vervolg jy My?”

Wat ‘n ontnugtering moes dit nie vir Saulus gewees het nie! Al die tyd was hy onder die indruk dat Jesus dood was en begrawe lê iewers in Jerusalem en skielik moes hy hoor dat Jesus leef! Al die jare het hy gedink dat hy die regte ding doen en nou word sy borreltjie gebars en hy moet uitvind dat hy totaal die pad byster geraak het! Die ergste van alles was egter dat hy moes besef dat ál sy godsdienstige geesdrif die groot struikelblok was in die pad van Jesus, die ware Messias!

Jesus verander hierdie verskriklike struikelblok deur Saulus se lewe in ‘n oogwink te verander. Maar wanneer hy daar opstaan van die grond af met wankelende knieë, moes hy met ‘n verskriklike skok agterkom dat hy skielik blind geword het. Angsbevange soek hy hulp by sy medereisigers, wat hom dan na Damaskus lei soos wat Jesus hom beveel het. Drie dae lank leef Saulus in die angsvolle, onsekere pikdonker van blindheid. Drie dae waarin hy waarskynlik baie tyd gehad het om na te dink oor alles wat met hom gebeur het. Vir drie dae sit hy nie sy lippe aan kos nie. Ek is oortuig daarvan dat Saulus die grootste deel van daardie tyd deurgebid het.

Terwyl Saulus in angsvolle duister sit, gebeur daar ‘n tweede wonderwerk. Die Here praat met Ananias, een van die gelowiges en Hy stuur hom na Saulus. Ananias wou eers heftig teenstribbel want Saulus se reputasie het hom vooruitgeloop. Saulus was 'n gevaarlike man! Maar die Here het hierdie taak vir Ananias uitgesonder en uiteindelik gehoorsaam hy die Here en loop met bewende knieë na Saulus se kamertjie toe. Nadat hy vir Saulus die hande opgelê het, word Saulus ook gedoop as teken dat hy as kind van God nou ook deel van die kerk was.

Saulus se bekering was ‘n uiters dramatiese ervaring en dit het sy lewe so drasties verander dat hy kort daarna in Damaskus se sinagoges gaan preek het. Hierdie slag het hy egter ‘n totale nuwe boodskap gebring, nou nie meer oor die gevaar van die Jesus-volgelinge se dwaalleer nie maar die boodskap van Jesus se verlossing! Vol van die Heilige Gees, kon hy nie anders nie as om vir die mense van Damaskus te vertel dat Jesus die ware Verteenwoordiger van Israel is, die Een wat die wil van die Vader aan mense kom openbaar het.

Saulus se nuwe entoesiasme laat hom in die moeilikheid beland. Die Jode sweer saam om hom te vermoor en hy moes vlug vir sy lewe. Van sy medegelowiges laat hom met 'n mandjie deur 'n opening in die stadsmuur afsak sodat hy van die bloeddorstige skare kon ontsnap. Skielik was hy nie meer die vervolger nie maar die vervolgde!

Gebed:

Here Jesus, vul asseblief my lewe met liefde en met U Heilige Gees sodat ek nie in dieselfde slagyster sal trap as Saulus destyds nie!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026