Christelike Vryheid

10 September, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Christelike Vryheid

1 Korintiërs 8:1-13

Kyk die Video

Hoe ver strek my Christelike vryheid? Hierdie is ‘n vraag wat elkeen van ons seker alreeds gevra het. Iemand vra my anderdag of ‘n gelowige varkvleis mag eet? Dit word tog baie duidelik in die Ou Testament verbied. Iemand anders was weer baie bekommerd oor die kos waarop die “Halaal” stempeltjie van die Moslems geplaas is, want hierdie kos is toegewy en geseën deur ‘n priester. Is dit nie dalk afgodsoffers nie? Dis mos gevaarlik!

Baie jare gelede was een van ons gemeentelede onder tug geplaas deur die kerkraad omdat hy tydens een van die Hindoe-feeste, van die lemoene wat geoffer was en wat op die strand uitgespoel het, opgetel en geëet het. Tydens die Hindoe fees, Divali, maak die Hindoe vroue spesiale disse wat geoffer word. Hulle kom deel dit dan gewoonlik uit aan die mense saam met wie hulle werk. Dis mos afgodsoffers! Mag ek dit eet?

Die gemeente in Korinte se probleem was nog baie groter, en hulle wou van Paulus weet wat hulle te doen staan. Aanbidding van afgode was in Korinte natuurlik baie groot, en die gelowiges was maar ‘n klein minderheid. Wanneer ‘n dier geoffer is, is die vleis in drie verdeel. Die vel en bene word geoffer. Die priester kry ‘n deel van die vleis, wat hy gewoonlik dan op die mark verkoop het. Die derde gedeelte kry die persoon wat die offer gebring het, en hy het dan gewoonlik sy vriende genooi vir ‘n feesmaal waar hierdie vleis voorgesit is. Vir die gelowiges was dit natuurlik ‘n baie groot probleem, want hulle het nie geweet of die vleis wat hulle op die mark koop dalk afgodsoffervleis is nie. En om sake te vererger, het hulle nie geweet of hulle by ongelowige vriende mag eet nie, want dit was dalk afgodsoffers wat aan hulle voorgesit sou word.

Paulus moes hierdie saak baie omsigtig hanteer, want hy wou verhoed dat enige gelowige seerkry in sy geloof. Daarom begin hy deur ietsie te vertel oor hierdie afgode. Is hulle werklik die magtige gode wat hulle aanbidders wil voorgee dat hulle is? Vandag is daar by die Hindoes die “magtige” gode Chrishna, Vishnu en Shiva en nog ‘n swetterjoel ander. Paulus stel dit onomwonde dat daar slegs een ware God is. Dit beteken natuurlik nie dat daar geen ander bonatuurlike wesens bestaan nie. Die duiwel het ‘n baie groot houvas op die ongelowiges, en sy demone doen hulle baie kunstig voor as “gode” sodat die duiwel oor die ongelowige kan heers!

Paulus se argument is: as daar dan geen ander ware gode is nie, kan ‘n gelowige maar met vrymoedigheid enige afgodsoffer eet. Alles is immers deur GOD geskep, en ons mag nie wat Hy rein geskep het onrein verklaar nie. Daar is egter ‘n baie groot voorwaarde aan verbonde: wanneer jy iets eet wat jy weet ‘n afgodsoffer was, moet jy bogenoemde in gedagte hou. As jy enigsins daarmee die afgod in aanmerking neem, dan gee jy nie meer die eer aan GOD nie, maar aan die duiwel, en dan is dit sonde.

Daar is egter ook ‘n ander kinkel in die kabel: nie alle gelowiges staan ewe sterk in hulle geloof nie. Vir meeste van ons is hierdie saak gladnie ‘n probleem nie, maar iemand wat swak is in sy geloof, kan maklik struikel wanneer so ‘n ding oor sy pad kom. As hy my (wat sterk is) dus sien afgodsoffers eet, dan kan hy dink dat dit maar reg is om eer aan die afgod te bring. Dus, om sy onthalwe sal ek my liewer daarvan weerhou.

Wat is die praktiese implikasies vir ons vandag? Die meeste van ons kry tog nooit te doene met afgodsoffers nie? Ons kan dit byvoorbeeld toepas op baie van ons kerklike tradisies. Om ‘n voorbeeld te noem: in die NG Kerk is die eredienste vir baie jare “stil en stemmig” gedoen. Daar is nooit hande opgesteek of hande geklap of dergelike “onstemmighede” nie, want dit is “sektaries”. Dit gebeur egter nou al hoe meer dat lidmate hulle Christelike vryheid gebruik om uit hierdie tradisies weg te breek. Vir sommige lidmate is dit egter ‘n groot probleem, en ter wille van hulle moet ons maar versigtig wees om nie sommer alles met ‘n groot gejuig te verander nie. Ongelukkig word die term “swak broer” dikwels totaal misbruik, en skuil mense agter dit om hulle eie sin te kry.

Op ‘n ander vlak is daar egter kwessies soos byvoorbeeld die gebruik van drank. Vir sommige gelowiges is enige gebruik van alkohol, selfs wyn, ‘n baie groot probleem. Vir ander is dit weer gladnie ‘n probleem nie, solank dit net nie misbruik word nie. Ter wille van die persoon wat ‘n probleem het, is dit beter as jy saam met hom liewer gladnie drank gebruik nie. Net so sou dit ‘n Joodse gelowige baie grief as ek saam met hom eet en varkvleis voorsit, want hulle hang gewoonlik nog die ou Joodse tradisies aan.

Die groot geheim is liefde: as ons in liefde omgaan met ons mede-gelowiges, sal hierdie dinge vir niemand ‘n probleem wees nie.

Gebed:

Here, dankie vir die wonderlike vryheid wat U my as gelowige gegee het. Help my asseblief om dit nie te misbruik nie.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026