Bybelse Tevredenheid

18 March, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Bybelse Tevredenheid

1 Timoteus 6:3-16

VIDEO | OUDIO

Wat is die primêre motief agter jou betrokkenheid in die gemeente? Dis nou ‘n baie snaakse vraag om te vra! Maar dis geensins so voor-die-hand-liggend nie. Daar is bewerings dat Godsdiens een van die mees winsgewende besighede op aarde is, en dat daar evangeliste is wat skatryk geword het uit hierdie bedryf!

Maar kom ons begin voor: Paulus was bewus van die feit dat daar in Efese mense was wat geldelike voordeel uit Christelike Godsdiens wou put. Ons moet dit nie hier verwar met ’n behoorlike vergoeding vir predikers, soos wat ons in ’n vorige dagstukkie gesien het nie. In daardie tyd was daar rondreisende filosowe wat onderrig gegee het en goed geld gemaak het daaruit. Evangeliste het hierdie gaping gesien en ook in daardie winsgewende bootjie ingeklim, dié slag met die Evangelie. Hulle primêre doel was nie om die Evangelie te verkondig nie, maar om geld te maak. Die groot probleem was dus dat hulle motiewe totaal verkeerd was!

Wanneer ons met die verkeerde motief by Godsdiens betrokke raak, dan is die simptome gewoonlik twis, jaloesie en beledigings wat rondgeslinger word. “Ek is die enigste een wat die volle waarheid het en al die ander gaan verlore!” Dis gewoonlik die boodskap van so ‘n persoon en hy het ‘n obsessie om altyd reg te wil wees! Mettertyd begin hy Jesus Christus, die Een wat die sentrale punt van sy boodskap moet uitmaak, na die kantlyn skuif. Jesus is nie meer die boodskap van verlossing nie maar sy ideologie word sy boodskap van verlossing.

In verband met wat ons hier bo gesê het, moet ons ook byvoeg dat rykdom gevaarlik kan wees. Paulus sê dit baie duidelik in vers 9. Nee, dis gladnie ‘n sonde om ryk te wees nie! Ek ken pragtige gelowiges wat skatryk is en terselfdertyd hulle geloof ten volle uitleef. Rykdom wemel egter van allerhande soorte versoekinge en die ryk persoon moet daarom tien keer so hard werk aan sy geloof as die arm man. Die probleem is dat as jy ryk is dan kan jy bekostig om jou oor te gee aan die versoekinge wat die wêreld bied - peperduur dobbelplekke, bandelose partytjies en nog baie meer. ‘n Ander, dalk nog groter gevaar is die een van geldgierigheid. Iemand wat baie het, is gewoonlik nie tevrede met wat hy het nie en dit word naderhand ‘n obsessie om meer en meer te kry. In die proses gee hy naderhand nie meer om op wie se kop hy trap om héél bo uit te kom nie. “Geldgierigheid is die wortel van allerlei kwaad,” sê Paulus in vers 10. Die grootste gevaar daaraan verbonde is dat die obsessiewe najaag van geld ‘n mens uiteindelik jou geloof kan kos. Ek het al self gesien hoe verwoestend so ‘n obsessie kan word…...

Saam daarmee kan ‘n ryk persoon só maklik vergeet van sy volle afhanklikheid van God. Ons mag nóóit vergeet hoe afhanklik ons van Hom is nie, al is ons skatryk!

In teenstelling hiermee, moet jy tevrede wees met wat jy het, al is dit net die klere aan jou lyf en iets om te eet. As jy God met die regte motief dien, sal jy tevrede wees met jou besittings. Hier moet ons dalk onderskei tussen ‘n Bybelse en sekulêre tevredenheid. Wanneer iemand bloot lui en sonder ambisie is, is dit 'n sekulêre tevredenheid. So 'n persoon gaan sit gewoonlik op ‘n hopie en doodgaan sonder om die gawes wat die Vader hom gegee het te benut. In Matt. 25 vertel Jesus van die diensknegte wat die talente gekry het om mee te woeker. Ware Bybelse tevredenheid is om ten volle te vertrou dat jy deur Jesus ‘n kind is van die Vader en dat Hy daarom geestelik en liggaamlik vir jou sorg. Uit dankbaarheid daarvoor, kom jy pligsgetrou jou roeping na. Die voordeel is dat jy nou kan fokus op die regte verhouding met die Here, en dat die sorge van die lewe jou nie hoef onder te kry nie. Natuurlik beteken dit nie dat jy maar net bakhand sal gaan staan en wag vir manna om uit die hemel te val nie! Hy het jou immers talente gegee om jouself mee te onderhou en jy durf nie jou talente verwaarloos nie!

In vers 12 beskryf Paulus die stryd om Bybelse tevredenheid as ‘n wedloop wat deur God uitgeroep is en waaraan gelowiges deelneem. Die wegspringblokke is die geloof wat die Heilige Gees jou gegee het. Voor by die eindstreep wag die groot trofee, die Ewige Lewe. Soos met enige wedloop, is ook híérdie een nie maklik nie en dit verg uiterste inspanning. Tussen die wegspringblokke en die eindstreep is daar talle hindernisse wat jy moet oor, hindernisse soos selfsug en gierige motiewe in die diens van God. Dit kos harde werk, konsentrasie en uithouvermoë om op die baan te bly. Dan moet jy ook deurentyd in die regte verhouding met die Here bly.

Soos in enige wedren, gaan jy nie maar jou eie paadjie volg en eers ‘n draai maak op die pawiljoen, of erger nog, in die kantien op pad na die wenstreep nie! Daar is sekere reëls wat stiptelik en onberispelik nagekom moet word, anders kan jy dalk net gediskwalifiseer word!

Die wenstreep, Jesus se wederkoms, is alreeds in sig! Hou jou oog gevestig op Hom en gooi al jou krag in om daardie laaste treë na die wenstreep met deursettingsvermoë en onderskeiding te hardloop!

Gebed:

Here, gee my asseblief ‘n Bybelse tevredenheid en gee my krag om die wedloop met onderskeiding te voltooi!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026