Bruilof!

10 February, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Bruilof!

Johannes 2:1-11

VIDEO OUDIO

Die nuwe Rabbi, Jesus, en Sy handjievol eerste dissipels kry ‘n uitnodiging na ‘n bruilof. Nou weet ons dat bruilofte in Israel ‘n baie jolige en lang uitgerekte affêre was wat maklikn week lank kon duur. Ons wil amper vir Jesus sê: “Here, daar is nie tyd vir sulke alledaagse onbenullighede nie - die tyd is kort! U wéét mos dat U net drie jaar het om alles af te handel!” Maar dan hoor ons Jesus se rustige stem: “Toemaar, moenie bekommerd wees nie, hierdie bruilof is ‘n baie belangrike mylpaal.”

Kom ons stap vanoggend saam met hierdie groepie manne na hierdie bruilof toe en gaan kyk wat daar aangaan. Ek is nogal nuuskierig!

Van ver af hoor ons al die musiek en gelag en vrolikheid. Hierdie is sommern baie jolige affêre! As ons daar aankom hang my mond oop, want dit dans en sing en vier fees dat die biesies bewe! Heimlik wonder ek waarom Jesus Hom met sulke lawwigheid ophou. Is Sy bediening op aarde dan nie veronderstel om iets baie ernstig te wees nie? Ons maak ons gemaklik by een van die tafels. “Haai, maar dis mos Maria, Jesus se moeder hier by die tafel langs ons!” Sy is bly om vir Jesus te sien en hulle gaan sit by haar. Die tafels is oorlaai met eetgoed en die atmosfeer is een van groot vreugde.

Maar gou sien ons dat alles nie so baie kosjer is nie - ek mis my ou rooiwyntjie, wat so kenmerkend van ‘n bruilof is! Dan sien ek hoe Maria oorleun na Jesus toe - sy lyk bekommerd. Ek spits my ore om te kan hoor wat sy sê bo die lawaai uit. “Die wyn is op,” is al wat ek kan uitmaak. Dis ‘n ramp! Wat gaan Jesus doen? Ons is teleurgesteld as Hy sy kop skud - nee, Hy gaan nie help nie! Dan besluit Hy tóg om die arme bruidegom, wat veronderstel is om die wyn te voorsien, uit sy verknorsing te help. Hy beduie iets vir Maria, en dan verdwyn sy. Die volgende oomblik begin die kelners water aandra na die groot klipkanne toe wat gebruik word vir die reinigingsrituele. Al sewe van hulle word propvol gegooi. En dan beduie Jesus vir die kelners om van die water uit te skep en vir die seremoniemeester te gaan gee. Ons wonder wat Hy besig is om te doen?

Ek sien hoe die man se gesig ophelder as hy die “water” proe: Dis nie water nie - dit is wyn! Héérlike wyn! ‘n Volle 700 liter daarvan! Ek loer in die rigting van Jesus se dissipels - hulle is in ekstase! Nou wéét hulle dat hulle keuse om Jesus te volg die regte een was.

Wat is die betekenis van al hierdie gebeure?” vra jy. Ek wonder sélf hieroor. Dan gaan daar skielik vir my ‘n liggie op. Jesus het met ‘n doel na hierdie bruilof toe gekom! Dit was beslis nie maar net om te kom partytjie hou nie! Hy het simbolies hier die pligte van die bruidegom kom oorneem deur die wyn te voorsien. En dan onthou ek dat Johannes in Openbaring 19 geskryf het van die “bruilof van die Lam” waar Jesus beskryf word as die Bruidegom. Soos dit ‘n goeie bruidegom betaam, voorsien Hy in oorvloed! Wie sal ooit 700 liter wyn opdrink byn bruilof?

Maar daar is meer: Amos het mos geprofeteer van hierdie wyn wat so in oorvloed sou vloei met die koms van die Messias. Gaan lees gerus weer daardie laaste hoofstuk (Amos 9:13-14), waar hy sê dat die wyn van die berge sal afdrup. Dis nou vir jou oorvloed!

Skielik begin dinge vir my in plek val. Ek kyk na die klipkanne - daar is iets omtrent hulle! Waarom het Jesus nou juis besluit om Sy wyn in reinigingskanne te maak? Dit maak nie sin nie! Dan gaan daar vir my ‘n liggie op. Daardie kanne is gebruik vir reinigingsrituele, soos die wet dit vereis. Dit is met ander woorde simbolies van die rigiede Joodse wet. Wat doen Jesus? Hy verander dit in iets waarmee ’n mens feesvier. Hy verander die wetskanne in feeskanne! Omdat Jesus die ware Bruidegom is, is ons nou nie meer aan die wet gebonde nie, maar kan ons saam met Hom feesvier!

Iets wat my laat wonder het, is waarom Jesus eers geweier het om aan Maria se versoek te voldoen, en toe doen Hy in elkgeval die wonderwerk? Ek dink dat Jesus dalk daarmee wou sê dat Hy nie deur mense voorgesê kan word wat om te doen nie, nie eers deur Sy moeder nie. Maar wat Hy gedoen het was die wil van Sy Vader, en daaraan alleen was Hy gehoorsaam.

Ek sien hoe Jesus se dissipels in verwondering na hulle Meester kyk. Vandag het hulle geleer dat Hy nie sommer enige Rabbi is nie, maar Hy het mag en heerlikheid! Is Hy dalk waarlik die Messias?

Hoe sien ek en jy vir Jesus? Ons is geneig om Hom te soek in die bonatuurlike. Dalk moet ons ‘n slaggie ons oë oopmaak en Hom soek in die doodgewone, alledaagse dinge van die lewe, selfs soos ‘n bruilof! Om Jesus te herken, moet ons bereid wees om die klein wonderwerke wat elke dag in ons lewens gebeur raak te sien en Jesus in geloof daarin te herken. Maar dan moet ons ook die regte ding doen, en Hom al die eer gee vir hierdie dinge. Loof Hom met jou hele hart!

Gebed:

Here Jesus, U is God en Heer - dankie vir al U wonderdade wat ek elke dag kan beleef.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026