Brood in Oorvloed

14 February, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Brood in Oorvloed

 Johannes 6:1-15

Jesus en sy dissipels het langs die see van Galilea in die omgewing van Betsaida-Julius gestap. ‘n Klomp mense het hulle gevolg, nuuskierig om te sien of Jesus weer groot wondertekens sou doen. Die woord het vinnig versprei en baie gou groei die groep aan tot ‘n reuse skare. Jesus sien sommer baie gou dat Hy hier onder in die vlakte verlore sou wees, dus klim Hy halfpad teen die berg op sodat daar ‘n natuurlike amfiteater vorm. Daar gaan sit Hy saam met Sy dissipels. Die verhoog is opgestel vir een van die mees aanskoulike wonderwerke óóit. Steeds groei die skare aan.

Filippus”, roep Jesus een van die manne nader. “Waar gaan ons kos kry vir al die mense?” Filippus skrik hom yskoud. Hy laat sy oë gaan oor die reuse skare wat by die minuut nog aangroei. Hy skat dat hier minstens vyfduisend manne sit. As die vrouens en kinders wat aan hierdie manne gekoppel is bygetel word, moet daar maklik vyftienduisend mense wees. Om hulle almal kos te gee, sou maklik ‘n jaar se salaris kos. En hulle is maar arm vissermanne! Hoe kan sy Meester van hulle verwag om vir soveel mense kos te gee? Hier sit ‘n skare wat helfte van Loftus gaan volpak!

Hulpeloos kyk Filippus rond, terwyl Jesus hom fyn dophou. Andreas beduie vir hom dat hier in die voorste ry ‘n jong seuntjie sit met vyf garsbroodjies en twee bokkems, gedroogde vissies. Dalk kan hulle dit gebruik? Hy lag vir sy eie grappie!

Jesus het egter lankal geweet wat Hy sou doen. Daardie seuntjie was nie verniet daar nie, en die feit dat hy daardie dag juis vyf broodjies by hom sou hê, was beslis ook nie toevallig nie. Alles was haarfyn beplan. Daar sou net mooi een broodjie wees vir elke duisend gesinne. Oorgenoeg! Jare gelede het Hy vir ‘n volle veertig jaar lank elke dag in die woestyn genoeg manna en kwartels uit die hemel voorsien vir drie miljoen mense. Om vir hierdie ou paartjies kos te gee, sou daarteenoor ‘n relatief klein ou wonderwerkie wees. Hy beduie vir die skare om te gaan sit. Die grasbedekte hange van die heuwel was ‘n ideale plek vir hierdie piekniek wat sou volg. Ek kan my indink oor wat in die mense se koppe omgegaan het. Die afwagting was groot.

Jesus dank God vir die kos, en die dissipels kry die taak om dit uit te deel. En dan gebeur die wonderwerk: Die brood en vis raak net nie op nie. Hoe meer die manne uitdeel, hoe meer word die kos! Dit klink soos ‘n byenes soos die mense praat. Hulle kan nie glo wat besig is om voor hulle oë te gebeur nie. Nee, dit kan nie anders wees nie: hierdie Jesus is beslis die Messias! Nóú is die tyd om Hom te kroon sodat Hy die volk van Herodus en Pilatus en al die Romeine kan verlos!

Maar Jesus is nog nie klaar met die wonderwerk nie. Eers moet daar ‘n ou Joodse gebruik uitgevoer word, om die oorskiet bymekaar te maak, want mens mag mos nie mors nie! As hulle daarmee klaar is, is daar nie minder nie as twaalf mandjiesvol wat oorgebly het van die vyf ou garsbroodjies, nadat vyftienduisend mense daarvan geëet het.

n Uiters aanskoulike wonderwerk, inderdaad. Maar daar steek baie meer agter hierdie wonder as net die asemrowende grootheid daarvan.

Johannes meld nie verniet in hierdie perikoop van die Paasfees wat op hande was nie. Jesus was op die punt om hierdie fees ‘n totaal nuwe betekenis te gee. Die Paasfees was natuurlik die fees van die herdenking van die uittog uit Egipte, toe God die volk verlos het uit die kloue van die Farao. Een van die groot simbole van hierdie fees was juis die ongesuurde brood wat hulle moes eet. Later, tydens Jesus se laaste paasmaal saam met Sy vriende, verwys Hy dan ook juis na die brood as Sy liggaam. Met hierdie wonder kom deel Jesus die brood oorvloedig uit. Sy liggaam sou daar in oorvloed wees vir elkeen wat in Hom glo. Maar anders as die manna wat Hy in die woestyn voorsien het, wat slegs tydelik was, is hierdie “brood” wat Hy sou gee vir ewig.

Maar daar sou meer as net brood op die spel wees. Op die paasfees speel die bloed van die lam wat geslag is ook ‘n simboliese rol. In Egipte het daardie bloed die doodsengel laat verbygaan. Jesus se kosbare bloed wat Hy gestort het aan die kruis, laat ook vandag vir jou en my wat in Hom glo, die doodsengel verby gaan, die doodsengel van die ewige verderf.

Die skare wou Jesus kroon as Koning. Dit sou rampspoedig wees, want dit sou ‘n politieke rewolusie meebring. Pontius Pilatus en die Romeinse Ryk sou onttroon word, en Jesus sou die Koning word van Palestina. ‘n Paar miljoen mense sou gered word. Jesus verkies egter om dit van die hand te wys. Sy Koninkryk is immers veel groter as net ‘n klein politieke rykie. Dit is verhewe bo enige politiek. Hy moes die ganse wêreld red van die mag van die owerste, die duiwel. Daarom is Hy vandag ook my en jou Redder.

Gebed:

Here, dankie dat U baie groter dink as mense, en dat U ook hierdie wonderlike reddingsplan uitgewerk het sodat elke mens op aarde gered kan word as hulle in U glo.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026