Broedermoord!

29 January, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Broedermoord!

2 Samuel 13:23-39

VIDEO | OUDIO

Die verkragting van sy dogter Tamar deur haar eie broer Amnon, het vir Dawid geruk, maar die lewe gaan voort. Maar een persoon wat hierdie walglike daad nie vergeet het nie, was Dawid se oudste seun Absalom. Vir twee jaar lank krop hy sy gevoelens op en die wraakgedagtes broei in hom. Hy koester hulle en stadigaan werk hy met ‘n plan om vir Amnon terug te kry. Sy suster leef met die smet van verkragting in haar, terwyl Amnon vry rondloop asof niks ooit gebeur het nie. Pa Dawid het hom nie eers gestraf oor sy verfoeilike daad nie!

Toe breek skeertyd aan, iets wat altyd gepaard gegaan het met ‘n groot fees. Absalom het nou sy planne mooi agtermekaar gehad. Sy skape sou in Baäl-Gasor geskeer word, ‘n dorpie 9 km noordoos van Bet-El. As hy hier op Amnon sou toeslaan, sou dit hom oorgenoeg tyd gee om weg te kom as iemand hom dalk wou agtervolg.

Absalom het ‘n baie groot partytjie beplan. Al die paleispersoneel was genooi om te kom deel in die joligheid, ook Koning Dawid. Maar Dawid wys die aanbod van die hand want hy wou nie vir Absalom ‘n oorlas wees nie. “Maar ek wens jou voorspoed toe vir jou partytjie - geniet dit!”

Absalom het baie goed geweet dat Dawid nie sou kom nie. “Maar Pa, dan wil ek vra dat Amnon tog maar na my partytjie toe kom,” het Absalom gepleit.

“Waarom dan juis Amnon?” wou Dawid weet. Iets was beslis nie pluis nie! Sou Absalom dalk iets onbesonne wou aanvang? Maar Dawid het die gedagte uit sy kop geskuif toe Absalom aanhou. “Goed dan, as al jou ander broers ook genooi word,” het Dawid uiteindelik ingestem.

Die dag van die skaapskeer-partytjie het daar ‘n groot menigte mense by Absalom opgedaag. Die wyn het gevloei en almal was baie jolig. Absalom het egter sy lyfwagte instruksies gegee oor Amnon: sodra hy goed gedrink en baie jolig was, moes hulle hom gryp en doodslaan. En hulle het niks gehad om te vrees nie, want Absalom was immers die Kroonprins, die toekomstige Koning van Israel!

Amnon was baie vrolik en uitbundig, want vir die eerste keer in twee jaar het sy broer weer met hom gepraat! Skielik het die lyfwagte reguit op hom afgeloop. Sy gesig het verstar, want die kyk in hulle oë het niks goed voorspel nie! Voor al die gaste se verdwaasde oë word Amnon hardhandig uitgesleep en brutaal vermoor ten aanskoue van almal!

Skielik het die koningseuns begin besef dat Absalom agter alles sit. Hy het uit sy maag gelag en hulle het doodbang geword. Hulle het almal op die vlug geslaan - op hulle muile gespring en teruggejaag na Jerusalem.

Intussen bereik ‘n berig Dawid: “Majesteit,” het die man na sy asem gehyg, “’n verskriklike ding het gebeur!”

Dawid het sommer dadelik gewéét dat dit iets met Absalom en Amnon te doen gehad het, maar toe die man sy asem terugkry, moes Dawid hoor dat dit baie erger was: “Dis Absalom - hy het al u seuns doodgemaak - daar het nie ‘n enkele een oorleef nie!”

Vir Dawid was hierdie nuus nét te erg! Hy het sy klere geskeur en op die grond gaan lê en bitterlik begin huil. ‘n Nefie van Dawid, Jonadab kon hierdie storie nie mooi glo nie en hy vra die man uit: “Het jy persoonlik gesien dat Absalom almal doodmaak?”

“Nee,” het die man gebieg, maa hy het wél gesien hoedat die wagte vir Amnon gryp en hom doodslaan! Maar toe was daar chaos! Hy het gehardloop voordat die res ook uitgemoor was!

Jonadab het vir Dawid gaan troos en hom vertel dat niks werklik seker was nie en dat dit waarskynlik net Amnon was wat gesterf het. Kort daarna het die paleiswag ‘n groot klomp mense op muile uit die noorde aangejaag sien kom. “Kyk, daar kom u seuns Majesteit!” het Jonadab sy vermoede bevestig. “Dis nét soos ek gesê het!”

Dit was ‘n groot verligting vir Dawid om sy seuns te sien, maar Amnon was dood! Dawid en sy seuns en almal by hom het bitterlik gehuil oor die groot tragedie. Dawid het lank oor Amnon getreur…...

Absalom het inderhaas gevlug na Gesur, na sy Oupa (aan sy ma se kant), en daar het hy vir drie jaar lank geskuil uit vrees dat Dawid hom dalk sou vervolg. Weereens het Dawid egter niks gedoen nie!

Dalk kan ons sê dat Amnon gekry het wat hom toegekom het! Absalom kon egter nie verskoon word vir sy veragtelike daad nie! As hy maar net die saak met Amnon wou uitpraat, kon daar dalk vergifnis gewees het maar hy het geweier om met sy broer te praat. Kom ons leer hieruit - moenie dat verskille op ‘n tragedie uitloop net omdat ons nie dinge kon uitpraat nie. Maar die belangrikste is om te vergewe. God vergewe ons menige sondes - kom ons vergewe mekaar! “Vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree” bid ons (Mat 6:12). Is ons gebed opreg? Bedoel ons wat ons sê?

Gebed:

Here, gee my asseblief ‘n vergewende hart!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026