1 Korintiërs 3:9-17
Die afgelope ruk moes ons met afgryse sien hoedat groot geboue inmekaar getuimel het, meeste met talle sterftes omdat dit nie volgens die regte standaard gebou was nie. Enige bouer, argitek en ingenieur sal weet hoe belangrik verál die fondamente van ‘n gebou is. As grondtoestande swak is, dan is daardie fondament des te belangriker.
Ek het vir veertig jaar gewerk as tekenaar wat geboue ontwerp het, en in daardie tyd het ek dikwels gesien watter gevolge swak fondamente kan hê! Geboue kan uitmekaar bars as die fondamente nie volgens voorskrif is nie. Meeste kusdorpe is op reuse sandduine gebou wat die nadeel het dat die sand baie maklik onder die fondamente kan uitspoel. As daardie fondamente nie streng volgens ‘n ingenieur se spesifikasies gegiet is nie, sal die gebou intuimel!
Tweeduisend jaar gelede het mense al geweet presies wat die waarde is van stewige fondamente. Toe is dit egter nie in beton gegiet nie, maar reuse rotsblokke is onder die grondoppervlak gepak, waarop die gebou opgerig is. Wanneer ‘n gebou eers op so ‘n fondament opgerig is, is dit onmoontlik om die fondament onder die gebou suksesvol uit te haal en te vervang. Alles moet afgebreek word en die fondament moet met groot moeite uitgehaal word voordat ‘n nuwe fondament gelê kan word. Dan moet bouwerk van vooraf gedoen word!
Paulus gebruik hierdie baie bekende beeld om te verduidelik hoe belangrik die fondament is waarop jy jou geloofslewe moet bou. Paulus skryf in 1 Kor. 2:11: “Die Fondament is Jesus Christus.” Net soos wat die fondament van ‘n gebou nie onderhandelbaar is nie, so is die fondament in jou geloofslewe ook nie onderhandelbaar nie. Die enigste “goedgekeurde” Fondament is Jesus Christus, en slegs Hy alleen! As jy in ‘n gebou se fondament ‘n spul bourommel en klippe saam met die beton gooi, verswak jy dit, en jou gebou gaan kraak. Op dieselfde wyse durf ons ook géén ander voorwaardes in ons geloofslewe voeg saam met Jesus nie, want dan gaan ons geloofsgebou óók kraak.
As die manier waarop sakramente bedien word vir jou verlossings noodsaaklik is, dan is daar probleme met jou fondament. En as politieke oortuigings bepaal of jy die saligheid gaan kry, dan lig ek my wenkbrou! Ek sien eenmaal ‘n videogreep wat tydens ‘n troue geneem is, waar die priester besig was om Nagmaal te bedien aan die bruidspaar. Die stukkie brood val per ongeluk uit die priester se hand voor by die bruid se rok in. Vir hom was dit ‘n doodsonde as die nagmaalsbrood verlore gaan, en om die saak te beredder, steek hy summier sy hand voor by haar rok in en grawe die brood daar onder uit waar dit jou laat bloos. Dit was skreeusnaaks, maar dit het my laat wonder oor die suiwerheid van die fondament in daardie priester se lewe…...
Daar is egter ‘n tweede saak wat belangrik is in enige bouwerk. Die gebou sélf moet van ‘n goeie gehalte wees, anders kan daar probleme kom. Dit help nie dat jy ‘n fondament het wat uit die boek is, en jy bou ‘n ou sinkpondokkie daarop nie. Jou bouwerk moet pas by die fondament, anders kan dit dalk ‘n belediging wees vir die fondament waarop jy bou.
In ons geloofslewe geld dieselfde. Ons stem reeds saam dat Jesus as Fondament nie onderhandelbaar is nie. Wat jy egter met jou geloofsgebou maak, is elkeen se eie saak. Hoe jy jou geloofsgebou oprig, gaan dalk nie jou saligheid in gedrang bring nie, maar die vraag is of dit nie dalk die Naam van jou Fondament, Jesus, in die skande gaan bring nie? Hoe lyk my geloofsgebou? Dit hoef nie ‘n paleis te wees nie! Nie almal van ons is tog Billy Grahams nie! Ek moet egter baie deeglik onthou dat die Heilige Gees in my woon, en dat my huis daarom, hoe klein hy ookal is, skoon en netjies moet wees. Elkeen van ons moet bou volgens sy vermoë, maar dít wat ons bou moet goed wees, en tot eer van die Here.
As jy jou lewe bevuil deur losbandigheid, vuil taal, liefdeloosheid, luiheid, dobbelary, vraatsug en dies meer, is jy besig om die Fondasie waarop jou geloof gebou is tot skande te maak. ‘n Ongelowige mag dalk jou bouwerk sien en sê dat as dít is hoe ‘n gelowige lyk, dan wil hy beslis niks met Jesus te doen hê nie! Dit maak van jou ‘n geestelike moordenaar, want dan is jy die oorsaak dat iemand wat dalk die ewige lewe kon hê, daardie lewe kwyt is! Ja, jy sal dalk sélf nog steeds die ewige lewe kry. Jesus het dit immers vir jou gegee, maar jy gaan volgens 1 Kor 3:15 nét-nét deurskraap! Wat ‘n skande!
Hoe lyk jou bouwerk?
Gebed:
Here, ek wil nie vir U tot skande wees nie. Help my asseblief om my geestelike gebou mooi en netjies, en ‘n sieraad vir U te bou!