Boustene van Geloof

14 May, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Boustene van Geloof

Judas:20-21

Oor die afgelope jare het ek talle briewe gekry van desperate mense, mense wat almal getuig dat hulle ‘n oorgawe aan Jesus gemaak het, maar hulle bly twyfel. Hulle gebede slaan teen die plafon vas. God voel vêr weg. Die laste van sonde druk swaar op hulle skouers. Sal God hulle ooit vergewe?

Voel jy nie dalk ook vanmôre so nie? En die probleem is dat jy te bang is om dit vir iemand te sê. Jy is dan mos ‘n gelowige! “Julle, geliefdes, moet egter voortgaan om julle lewe te bou op julle allerheiligste geloof.” Met hierdie woorde wil Judas jou dan vandag bemoedig. Nie alleen maak dit ‘n onderskeid tussen jou en die ongelowige nie, maar op hierdie manier gaan jy die probleme wat hier bo uitgestippel is te bowe kom. En die wonderlike is dat jy dit nie in jou eie krag hoef te doen nie, want die Heilige Gees is daar vir jou!

Maar waar begin jy met hierdie soort bouwerk? Jy begin deur ‘n intieme, persoonlike en lewende verhouding met God op te bou. So ‘n verhouding kom ongelukkig nie oornag nie, maar hoe meer jy sélf daar insit, hoe gouer gebeur dit. Dit verg van jou baie selfdissipline.

Die eerste bousteen is ‘n lewe van gebed. Een van ons grootste probleme is onafhanklikheid. Ons wil op ons eie twee voete staan en niemand in die oë kyk vir hulp nie. Dit is ‘n natuurlike reaksie, maar ongelukkig deel van ons sondige natuur. Die dag as jy begin besef hoe geweldig afhanklik jy van God is, dan is jy op die regte pad. Gebed is nie die aframmel van ‘n wenslysie nie, maar in die eerste plek sê jy met jou gebed dat jy totaal afhanklik is van God vir alles in jou lewe. Dit is só belangrik om te besef dat jy nooit, óóit in jou geloof slaag as jy dit op jou eie krag probeer doen nie. In jou gebed moet jy die Heilige Gees se genade, krag en wysheid afsmeek, want daarsonder kan jy die ganse Bybel deurlees en steeds nie verstaan waaroor dit gaan nie.

Nou sê jy dalk vir my: maar jy sukkel selfs om te bid! Hoe gaan jy nog by die hoë dinge bykom! Gaan lees gerus wat in Romeine 8:26-27 staan: “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit volgens die wil van God, vir die gelowiges.” Die Heilige Gees sal jou leer bid, maar Hy vra van jou kant af die gewilligheid om daaraan deel te neem. Gebed kom ook nie sommer so vanself nie, dit kos oefening van jou kant af. Baie mense verkeer ook onder die wanindruk dat gebed slegs die formele aanroep van die Here is tydens jou stiltetyd of tydens ‘n erediens. Hierdie is maar één aspek van gebed. Gebed is ‘n gesprek met God wat enige tyd en enige plek kan plaasvind. As jy sal onthou dat God nie ver verwyder is, iewers in die hemel nie, maar deur Sy Heilige Gees binne in jou, kan jy gesprek voer met Hom regdeur die dag, ook daar waar jy besig is om te werk of terwyl jy deur die tuin stap. Gesels met Hom en vertel Hom van jou blydskap, angste en droefheid. En as jy iets mooi sien, dank Hom daarvoor. Op hierdie manier leer jy om ‘n persoonlike verhouding met Hom aan te knoop, en leer jy al meer en meer hoe afhanklik jy werklik van Hom is.

Die tweede bousteen is ‘n lewe van liefde. Wat is hierdie liefde? 1 Joh. 4:10 beskryf dit so: “Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening van ons sondes.” Ware liefde is dus ‘n daad van selfopoffering. Dink eers mooi oor die onverdiende liefde wat God jou gegee het, en dan tree jy só op teenoor ander - onselfsugtig, dienend en opofferend, selfs al verdien die mense teenoor wie jy so optree dit nie!

Die derde bousteen is ‘n lewe van verwagting. Moenie doelloos lewe, soos so baie mense doen nie. Vir die ongelowige is die lewe ‘n gejaag na plesier, rykdom, losbandigheid, mag. Vir die ernstige gelowige is die lewe egter geborduur rondom die wederkoms van Jesus. Wanneer gaan Hy kom? Dit kan oor ‘n honderd jaar wees, maar dit kan ook dalk vandag nog wees. ‘n Navorser vertel my 'n tyd gelede dat die aarde ‘n katastrofe in die gesig staar: ons is besig om die maan te verloor! Die maan is besig om teen ‘n onrusbarende tempo van die aarde af weg te beweeg, en dit kan die einde van alle lewe op die aarde beteken.

Ontstellend? Nee, net interessant, want as dit die geval is, dan is dit net nóg een van die tekens dat die wederkoms nou baie naby is, en ek sien met groot verwagting uit na daardie wonderlike dag!

Die volgende boustene raak moeiliker, maar daaroor gesels ons DV more. Kry met die hulp van die Heilige Gees hierdie drie eers goed onder die knie, en jy sal sien hoe jou geloofslewe skielik blom!

Gebed:

Here, leer my asseblief bid, en herinner my asseblief die heeldag lank dat U teenwoordig is, en dat ek van U afhanklik is.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026