Handelinge 19:11-20
Die vraag wat baie gelowiges, dikwels met groot huiwering vra, is of daar werklik sulke goed soos bose geeste of bose magte is? Kan hulle jou lewe oorneem of beset? Hierdie is ‘n baie omstrede vraag, en baie mense maak dit summier af as pure snert. Ek is beslis nie ‘n kenner op hierdie gebied nie, maar ek het ook al dinge gesien wat my nekhare laat regop staan het. Jare gelede het ek een Saterdagoggend ‘n Hindoe fees bygewoon, nou nie juis my gewone soort Saterdag-vermaak nie! Dit was bitter koud, en die reën het saggies neergesif, maar dit het nie die feesgangers afgesit nie. Met hulle kleurvolle karretjies, versier met blomme en prente van derduisende afgode, het hulle in groot getalle op Tongaat saamgetrek vir die groot dag.
Ek het een van die feesgangers dopgehou terwyl hy regmaak vir sy aandeel in die fees. Oosterse musiek het oor die sportveld gesweef en die geur van wierook het dik en swaar oor alles gehang. Die kêrel het sy klere uitgetrek en geklee in slegs ‘n kortbroekie in die koue gestaan en bibber langs sy waentjie. Die byna driemeter hoë waentjie was versier met blomme en volgepak met prente van die een of ander bizarre goddelike wese. Met ‘n brandende olielampie in sy hand, begin hy al om en om die waentjie stap terwyl hy die een of ander Oosterse wysie sing. Hy kry koud, maar hy byt vas!
Tien minute later tree ‘n metamorfose in, en die bedremmelde figuur verander voor my oë in ‘n selfversekerde, vreeslose dier-mens. Van koudkry is daar geen sprake nie, en sy oë is onbeskryflik wild en dierlik. Hy steek sy tong ver uit, en sy handlangers steek dik breinaalde deur sy tong en wange, totdat hy later soos ‘n ystervark lyk. Nie ‘n druppel bloed is te bespeur nie. Groot vishoeke word deur sy rugvel gehaak, en hy is gereed om sy swaar wa die opdraende op te trek aan toutjies wat aan die vishoeke vasgemaak is.
Ek het ‘n groot begeerte om baie vinnig huistoe te gaan. Ek stap verby talle soortgelyke dier-mense wat die grusaamste dinge met hulle liggame aanvang sonder om pyn te voel. Is dit nie besetting van bose magte nie?
Lukas beskryf Paulus, nie alleen as ‘n prediker nie, maar iemand wat tallose wonderwerke verrig en ook bose geeste uit mense uitdryf in die Naam van Jesus. Maar in dieselfde asem noem hy ook van towenaars wat gesien het wat Paulus doen, en toe dieselfde dinge probeer doen het. Alhoewel bose magte ‘n werklikheid was, het mense in daardie tyd feitlik elke siekte gesien as die besetting van ‘n bose gees, en daar was talle bygelowe hieroor. Daar was dan ook die “uitdrywers” wat ‘n goeie bestaan gemaak het daaruit om mense uit die mag van die geeste te bevry. Gewoonlik het hulle die een of ander towerspreuk, amulet of homeopatiese medisyne hiervoor gebruik. Dit was veral Joodse uitdrywers wat baie gewild was, want Jode het glo oor ‘n baie spesiale toorkrag beskik! As die Naam van die Here (Jahweh) in ‘n towerspreuk gebruik is, dan het dit die mense se asems skoon weggeslaan.
Die sewe seuns van Skeva het aanspraak gemaak daarop dat hulle pa ‘n hoëpriester was, en dit het hulle natuurlik hoë status gegee. Toe hulle hoor van Paulus se suksesvolle bediening, wou hulle ook sy “metodes” toepas om hulle florerende uitdryf-besigheid nog méér winsgewend te maak. Jesus se Naam word toe bygesleep by hulle volgende sessie, want hierdie Naam het groot krag! So het hulle reeds by Paulus gesien. Maar toe ontplof die hele ding in hulle gesigte. In plaas daarvan dat hulle pasiënt se bose gees kragtig uitgedryf word, laat hierdie gees hulle in geen onduidelike terme verstaan dat hulle baie beslis nie in dieselfde liga as Paulus en Jesus is nie. Toe raak die man wat hy beset het wreedaardig en rand die Skeva-seuns so erg aan dat selfs hulle klere van hulle lywe gestroop is!
Inderdaad het hierdie insident ‘n baie positiewe gevolg gehad, want die mense van Efese het bewend na Paulus gehardloop vir hulp, en talle mense het tot bekering gekom. Selfs towenaars het hulle towerboeke in die openbaar verbrand. Die waarde van die boeke is bereken op ‘n man se salaris vir 136 jaar! Beslis ‘n groot prys om te betaal vir bekering!
O ja, Jesus bied vandag steeds bevryding van alle magte wat ‘n mens gevange kan hou. Om egter die duiwel aan te vat, moet jy weet presies waarvoor jy jou inlaat. Dit kan baie gevaarlik wees as jy nie daarvoor opgewasse is nie, soos die Skeva-seuns op die harde manier ontdek het! Moet ook nie probeer om die Evangelie tot jou eie voordeel aan te wend nie - dit loop elke keer op ‘n ramp uit.
Daar is egter ook ‘n ander waarheid wat ons uit die vertelling leer, en dit is dat bekering ‘n hoë prys het. Dit vra dat ons ‘n radikale breuk moet maak met ou sondige praktyke. ‘n Mens kan nie ‘n Christen wees en terselfdertyd voortgaan met ‘n sondige leefstyl nie! Jy kan nie tegelyk vir God én Mammon dien nie!
Gebed:
Here, ek besef vanoggend dat die bose soos ‘n brullende leeu is, daarom vra ek dat U my sal bewaar van sy aanslae, en my sal staande hou en paraat maak.