Bose Duister

21 February, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Bose Duister

Johannes 3:19-21

VIDEO OUDIO

Versigtig sluip ek na die ou “spookhuis” met my twee bewende niggies agterna.

Toe ek hoor dat die twee kom kuier, besluit ek om die twee bangbroeke ‘n poets te bak. Die ou huis ‘n entjie van ons plaashuis af, was baie verwaarloos. Daar was lankal nie meer vensters in nie en die plafon en mure was pikswart gerook deur ‘n lekkende koolstoof. Ek het ‘n spookfiguur uit koerantpapier geprakseer om hierdie besoek van die twee meisiekinders een te maak wat hulle nie gou sou vergeet nie. Ek moes al my ingenieursvernuf inspan om ‘n katrolstelsel te laat werk, om my spook vlerke te gee wanneer ek ongemerk die toutjie trek.

Ek kon nie wág dat dit skemer moes word om die twee op ‘n “toer” te neem nie. En so sluip ons drietjies gemaak-versigtig die nag in. In die skemerdonker doem die ou spookhuis voor ons op. Die swartgerookte mure skilder ‘n prentjie so reg uit ‘n rillerfliek. Die skeefgetrekte deur kraak kermend as ek dit stadig oopstoot. Ek moet sluk om my lag in te hou as ek sien hoe die tweetjies bewe van bang-geit. Die donker in die huis omklem jou hart en hulle wil-wil net omdraai. Ek kry my toutjie beet, en trek. En dan verrys die wit gedaante hier vlakvoor ons oë. Al gillende sien jy net haakskeentjies soos hulle hardloop na die ou plaashuis waar die warm, helder lig van die Aladden lamp hulle met ope arms in die eetkamer verwelkom. Ek lê soos ek lag. My truuk het gewerk!

Duisternis word geassosieer met die bose. Rolprente maak baie deeglik gebruik daarvan en tonele wat angs en verskrikking en veral bose dinge wil uitbeeld, is alyd gehul in ‘n kleed van duisternis - hoe donkerder, hoe boser. Waarom? Die bose het bitter baie dinge om weg te steek. Die bose laat jou net sien wat hy jou wíl laat sien. In die ou spookhuis was die enigste ding wat die meisies moes sien, daardie “spook” van my. Johannes sê in vers 20 dat diegene wat kwaad doen die lig haat. Hulle vermy lig soos die pes, want in die lig kom hulle bose dade in die ope.

Die duister boesem van nature vrees by ‘n mens in. Ek onthou nog, toe ons uiteindelik op die plaas ‘n Lister kragopwekker gekry het, was dit ‘n blye dag. Toe het ons elektriese ligte in die huis gehad! Die probleem was egter dat daardie enjintjie saans slaaptyd afgesit moes word. En dit was my plig! Ek het die knoppie gedruk om die ding dood te maak, en dan moes ek hardloop dat die stof so staan terwyl die liggie al flouer en flouer word, om betyds in my kooi te spring voordat dit hééltemal donker was. Dit het altyd gevoel asof daar iets agter my was in daardie donkerte, terwyl ek hardloop vir my kooi!

Lig, aan die ander kant, bring rus en vrede in jou gemoed. Kyk maar net hoe koek almal saam om die warm gloed van ‘n vuurtjie in die bos, veral as jy boonop weet dat daar allerhande kriepiekrôlies in die donker skuil. Lig verdryf die duister. Waar daar lig is, kan daar nie duisternis wees nie. Toets dit maar: gaan in ‘n pikdonker vertrek in, en steek ‘n ou piepklein kersie op. Onmiddellik is die duisternis weg! Skakel jy egter ‘n groot buislig met sy blou-wit lig aan, dan is selfs die donkerste hoekie helder verlig.

Jesus het as Lig by uitstek na hierdie donker wêreld gekom. Donker was dit inderdaad tydens Sy koms, want nie alleen was die ganse wêreld regeer deur die ysterhand van die heidense Romeinse regering met al sy afgode nie, maar in die Joodse geledere was die Israeliete oorskadu deur die Fariseërs wat God se wette totaal ondraaglik en onmoontlik vir die mense gemaak het. Twee absolute uiterstes het die lewe baie donker gemaak.

En toe kom Jesus! Helder het Sy lig geskyn, en die mense gewys dat daar Iemand was wat waarlik vir hulle omgegee het, Iemand wat nie van hulle vereis om die swaar laste van die wet te dra nie. Die bose het baie hard probeer om elke greintjie lig uit te doof, maar Jesus het die duisternis verdryf toe Sy lig begin skyn. Verby was die tyd dat jy deur harde werk en die onderhouding van die wet jou saligheid moes verdien. Deur slegs in Jesus se Lig te leef, kon jy die saligheid verkry, nie uit jou eie verdienste nie, maar suiwer uit genade. Die donker wolk van God se oordeel was nou vervang met die helder lig van bevryding en vergifnis.

Dit is so tragies dat daar steeds soveel mense is wat leef in die duister. Die lig van bevryding skyn helder daar buite, maar hulle verkies om ‘n gevangene van die duister te wees. Die oordeel hang pikswart oor hulle, en al wat hulle moet doen om daaruit te kom, is om die geskenk van Jesus se verlossing te aanvaar.

Ek weet dat hier vanoggend iemand is wat hierdie dagstukkie lees, wat steeds onder daardie donker wolk leef. Dalk is dit jy, en daar is ‘n brandende begeerte in jou hart om daar uit te kom. Kom dan na die Lig, en gryp Jesus se aanbod!

Gebed:

Here, dankie dat U die Lig na die wêreld gestuur het. Dankie dat U ook vir my daardie Lig gegee het. Ek bid inniglik vir elkeen wat hierdie stukkie lees, en steeds in die duister is.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026