Boas op die Lande

4 November, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Boas op die Lande

Rut 2:4-7

Kort na hanekraai is Rut op en aan die gang. ‘n Handjievol van die gars wat sy gister opgetel het in Boas se landerye word sorgvuldig gemaal tot ‘n fyn meel. Sy is versigtig om net genoeg te gebruik sodat Naomi ‘n garsbroodjie kan bak vir hulle twee. Om die gars te maal is harde werk, maar sy is dit al gewoond, sy doen dit reeds sedert sy ‘n klein dogtertjie was.

Wanneer sy klaar is, stap sy vinnig af na die graanland waar sy die vorige dag oorblyfsels opgetel het. Dit is ‘n lang ent se stap, maar die huppel is vanmôre weer terug in haar stappie, en daar is ‘n lied in haar hart. Die lewe het beslis betekenis. Sy begin nou te verstaan waarvan Naomi gepraat het toe sy haar vertel het van God, dat Hy voorsien en dat Hy goed is. Hy is so anders as die dooie gode wat sy al die jare aanbid het. Kyk nou net hoe het Hy voorsien in hulle behoeftes. Net toe hulle kos begin opraak, gee God vir haar iemand wat haar as vreemdeling goedgesind is. Sy is so oorweldig deur die vriendelikheid van die werkers op Boas se land, dat sy al skoon vergeet het van die vorige dag se vernedering.

By Boas se graanland aangekom, daag die eerste snyers net mooi op. Sy word vriendelik gegroet. Sy kan maar net nie help om op te let dat die mense wat hier werk so anders is as die ander nie. Dit lyk asof almal hier werksbevrediging het. Hulle werk nie maar net om geld te verdien nie, maar hulle geniet dit om hier te werk.

Die voorman beduie vir Rut dat sy maar kan inval agter die snyers. Dit is harde werk van buk en hier ‘n paar are optel en dáár, en die son brand genadeloos. Maar Rut voel dit skaars, want in haar hart jubel dit. Sy kan uiteindelik ook haar deel doen vir haar en Naomi se onderhoud.

Later die oggend kom daar ‘n man aangestap uit Betlehem se rigting. As Rut opkyk, sien sy hom raak. Hy is goed geklee, nie soos die gewone werkers nie, maar soos iemand wat goed daaraan toe is. Wanneer hy by die landerye aankom, word hy baie beleefd en opgewonde gegroet deur al die snyers. Hy stap deur die graanland en gaan hier en daar gesels en skerts met die snywers. Rut kan sommer dadelik sien dat hierdie iemand is wat baie gewild is onder die werkers. Eers wanneer hy ‘n ieder en elk op die lande gegroet het, stap hy na die voorman en gaan voer ‘n diep gesprek met hom. “Dit kan seker maar net Boas wees,” dink Rut. “Ek sou beslis nie omgee om vir só ‘n baas te werk nie. Kyk net hoe vriendelik is hy teenoor sy werkers!”

Boas het dadelik die vreemde meisie op sy graanland opgemerk. “Wie is daardie meisie?” wil hy van die voorman weet.

“’n Moabietiese weduwee.” sê die voorman huiwerig. Hy is nie seker hoe sy baas daarop sou reageer dat hy ‘n heidense meisie toelaat om are op te tel nie. Dan voeg hy vinnig by: “Sy het saam met Naomi van Moab af gekom.” Dan vertel hy vir Boas dat hierdie meisie die vorige dag hier opgedaag het, en dat sy al van vroeg oggend af op die land is om oorblyfsels op te tel. Hy het haar maar toestemming gegee om agter die snyers aan te loop, want hy kon dit nie oor sy hart kry om haar weg te wys toe sy kom vra het of sy kan are optel nie. Die arme meisie het so bang en verbouereerd gelyk. “Dis maar swaar vir ‘n Moabiet om hier by ons aanvaar te word. Ons volkie is mos nie maklike mense nie.” probeer hy sy toestemming regverdig.

“Ja, my ou vriend,” lag Boas. “Jy maak asof jy so ‘n vreeslike streng toesighouer is, maar jy het maar ‘n ou sagte hartjie in jou. Natúúrlik het jy reg gedoen! Ek verkwalik jou gladnie.”

Naomi - ja, hy het gehoor dat Naomi terug is en dat haar Moabietiese skoondogter saamgekom het. Hy was so bekommerd oor Naomi toe hy verneem het van Elimeleg en sy twee seuns se tragiese dood daar in die vreemde. Wat sou tog van haar word? Hy is bly dat sy terug is, maar hy is bekommerd oor haar, want nou het sy nie eers kinders wat na haar as weduwee kan omsien nie.

Maar wat Boas nie kan kleinkry nie, is hierdie skoondogter van haar wat saamgekom het uit Moab. Wat sou maak dat ‘n aantreklike jong meisie soos Rut sou saamkom met Naomi? Sy is nou wel ‘n weduwee, maar sy is nog uiters hubaar, en hy is seker daarvan dat die manne van Moab hulle voortande sou gee vir so ‘n mooi vrou! Daar is mos niks vir haar in Israel nie? Sy moet baie lief wees vir haar skoonma om so ‘n groot opoffering te maak. “Sê vir die manne dat hulle haar moet uitlos!” waarsku hy die voorman, “Ek ken die manne, en ek weet dat hulle nie respek het vir iemand wat nie ‘n Israeliet is nie. As hulle haar pla is daar moeilikheid!”

Deernis is een van die eienskappe van ‘n gelowige se lewe wat Jesus duidelik kom demonstreer het. Dit is ‘n integrale deel van liefde. Deernis is om om te gee wanneer iemand swaarkry, maar dit mag nie slegs by ‘n gevoel bly nie. Dit móét oorgaan in die praktiese daad van liefde bewys.

Gebed:

Here, gee asseblief vir my ‘n ware hart van omgee en deernis, en gee my die ywer om dit prakties uit te leef.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Verraad in die Nag
30 October, 2026
Getsemane
29 October, 2026
Die Wingerdstok
28 October, 2026
Die Paasmaal
27 October, 2026
Voorberei vir die Dood
26 October, 2026