Johannes 15:1-17
In die vorige dagstukkie het Jesus die beeld gebruik van die wingerdstok. “Bly in My”, het Jesus gepleit! Ons het gesien hoedat die lewenssap bruis deur die lote en lewe gee in oorvloed. Die sap gee ongekende groei en dit laat die loot heerlke, stroopsoet, sappige druiwe dra. Die lote (dis nou gelowiges) wat in Jesus bly, is vasgeanker aan die Wynstok. Dis nie alleen die ewige lewe wat nou ter sprake is nie, maar ‘n geestelike lewe wat bruis en groei en vrugte dra. Die rede is dat Jesus die “lewenssap” deur jou are laat bruis, net soos in die Kaapse wingerd.
Wat is die doel agter alles? Sodat die Vader hierdeur verheerlik kan word! So lees ons in Johannes 15:8.
Jesus het al by verskeie geleenthede gesê dat die Vader Hom liefhet en dis baie belangrik om dit te weet. Nou vergelyk Hy die Vader se liefde teenoor Hom met Sy liefde teenoor ons. Hy het Sy dissipels net so lief as wat die Vader Hom het. Dit geld natuurlik ook vir jou en my! Dit is ‘n baie groot liefde!
Jesus vra egter ook iets van ons - dit durf nóóit by ‘n eensydige liefde bly nie! Die vraag is al dikwels gevra, hoe bewys ek my liefde teenoor Jesus? Hy gee hier persoonlik daardie antwoord in baie eenvoudige taal. Hy begin deur te verduidelik dat Hy beslis nie iets van ons vra wat onmoontlik is nie. Hy het sélf die voorbeeld kom stel deur die opdragte van die Vader te kom uitvoer as bewys dat Hy ook die Vader liefhet. Op dieselfde wyse móét ons Jesus se liefde beantwoord deur Hom ook lief te hê. Die bewys van ons liefde vir Hom, is om Sy voorbeeld na te volg en Sy opdragte uit te voer. Let wel, die opdragte wat ons van Jesus kry is nie eers náástenby so moeilik as die opdrag wat Hy van die Vader gekry het nie!
Wat is Jesus se opdrag aan ons? Dit is ‘n verskriklike moeilike een: “Julle moet mekaar liefhê.” Is ek snaaks as ek sê dat dit baie moeilik is? Nee, want dit kom sommer so van nature om liefdeloos op te tree. Dit kos inspanning en selfbeheersing om in alle omstandighede mekaar lief te hê, veral as iemand in ‘n krisis beland. Dit is só maklik om daardie persoon te beskinder en swart te smeer. Jy maak hom letterlik dood met jou woorde. Dis moord! Liefde is om niks te sê wat iemand anders kan seermaak nie maar eerder positief teenoor daardie persoon op te tree en te probeer help.
Om Jesus se opdrag uit te voer, beteken om liefde te dink, liefde te voel, liefde te doen, liefde te leef! Liefde moet die totale rigsnoer van jou lewe wees. Het Jesus nie juis presies só geleef nie? Wat ‘n wonderlike voorbeeld om na te streef!
Dit wil tóg vir my lyk asof daar twee norme gestel word wat die uitleef van ons liefde betref. In die eerste plek is daar die liefde wat in die wet beskryf word, dat ek my naaste moet liefhê soos ek myself liefhet. Dit is die minste wat die Here van my verwag. Maar die liefde wat Jesus hier beskryf is ‘n baie meer intieme en intense liefde. Dis die liefdesband tussen medegelowiges. Jy gaan immers jou eie broer of suster baie meer liefhê as ‘n vreemdeling, is dit nie so nie? Wel, in Jesus is álle gelowiges boeties en sussies. Dit is dus egte naby-familiebande wat ons aan mekaar bind.
Wat behels so ‘n liefde? Paulus het dit baie duidelik uitgespel in 1 Kor 13, waar hy onder meer sê dat liefde geduldig is en vriendelik, nie grootpraterig, afgunstig, liggeraak of verwaand nie. Onwelvoeglikheid en eie belang is twee dinge wat nie in liefde se woordeboek voorkom nie en van boekhou oor die kwaad is daar géén sprake nie. As jy Jesus se liefde in jou het, sal jy jou nie verlekker in onreg nie, maar eerder bly wees as die waarheid seëvier.
Maar weereens moet ons besef, soos ek reeds hier bo genoem het, dat alles uiteindelik primêr gaan oor die Vader en dat Hy ook in die uitleef van ons liefde verheerlik word. Dink so daaraan: as twee broers sou baklei - wie is dit wat die seerste kry? Hulle ouers word deur hulle koppestamp seergemaak! Dis húlle wat die meeste ly uit die boeties se onenigheid. Aan die ander kant, het jy al ooit gehoor hoe ‘n pa kan spog as hy vertel van sy kinders wat so lief is vir mekaar? Kinders wat énigiets sal doen om mekaar te beskerm se pa wil bars van trots! Daar is niks in die lewe wat hom meer plesier verskaf nie!
God is ons Vader, en op presies dieselfde manier maak ons Hom bly as ons ons liefde prakties en op ‘n baie tasbare wyse teenoor ons boeties en sussies in die geloof uitleef. Liefde teenoor ons medemens en veral ons medegelowige, is onlosmaaklik deel van ons liefde teenoor God. As ons mekaar nie liefhet nie, is die uitleef van ons liefde teenoor God nutteloos.
Jesus sluit hierdie perikoop af deur terug te kom na die gedagte van die wynstok. Die dissipels (en dit sluit ons in) is aangestel om uit te gaan en vrugte te dra. Soos die heerlike soet, sappige druiwekorrels aan die wingerdlote, moet ons liefde ook vir mekaar wees, soet, sappige vrugte. Maar dit is nie maar net ‘n versoekie van Jesus nie - dit is ‘n bevel! “Dit beveel Ek julle:”, sê Jesus, “Julle moet mekaar liefhê!” (v. 17)
Gebed:
Here, ek staan vanoggend diep skuldig voor U, want my liefde vir my medegelowiges is maar bitter flou. Help my asseblief om hulle onvoorwaardelik lief te hê!