Bestaan God Werklik?

21 August, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Bestaan God Werklik?

1 Korintiërs 1:18-31

Haarkappers is spraaksame mense, want hulle kliënte verwag van hulle om ‘n gesprek aan die gang te hou terwyl hulle daar sit. Al die sake van die dag word aangeraak - die politiek, die weer, die ekonomie, maar sekere onderwerpe is egter taboe, soos om oor godsdiens te gesels.

Op ‘n dag sit ‘n kêrel in die barbier se stoel, toe die haarkapper skielik uit die bloute die bom laat bars: “Ek glo nie dat God werklik bestaan nie!” Die arme kêrel val amper van die stoel af, hy kan sy ore nie glo nie! Hoe kan énigiemand óóit so dink?

Nadat hy oor sy ergste skok gekom het, vra hy half huiwerig: “Nou waarom sou jy só ‘n stelling wou maak?”

Stap maar net in die straat af, dan sal jy baie gou agterkom dat dit onmoontlik is dat God bestaan. As Hy ‘n werklikheid was, sou daar rêrag nog so baie siek mense gewees het? Kyk maar net hoe gaan die mense op strepe dood aan kanker! En wat van al die straatkinders wat krepeer van die ellende? Dink jy nou vir een oomblik dat as God bestaan het, dat Hy sou toelaat dat hierdie kinders sommer net so weggegooi word?”

Hy knip-knip-knip, en dan stoom hy gebelgd voort: “Sê my, dink jy miskien dis logies dat God al hierdie pyn en lyding sou toelaat? Ek sê jou nou: ek glo nie vir een enkele oomblik dat ‘n God van liefde óóit sou toelaat dat al hierdie liederlike dinge gebeur nie!”

Daarmee was die barbier tevrede, hy het sy punt gemaak! Die kliënt het maar in stilte gesit en wonder oor die skokkende stelling, maar hy wou nie in ‘n nuttelose argument betrokke raak nie. Hoe oortuig jy in elkgeval iemand wat nie wíl glo nie? Toe hy klaar is, mompel hy ‘n “totsiens” en stap uit.

Minute later is hy egter weer terug met ‘n vonkel in sy oog. Hy het sy antwoord gekry! Hy beduie vir die barbier na ‘n man wat op die sypaadjie sit, vuil en met ‘n deurmekaar baard en lang, ongekamde toutjieshare. “Weet jy wat? Ek glo nie dat haarkappers bestaan nie!”

Die barbier is totaal uit die veld geslaan - wat sou die simpel man hiermee bedoel? “Hoe kan jy so ‘n onnosele ding wil sê?” Hy is skoon vererg! “Hier staan ek in lewende lywe voor jou, en natuurlik is ek ‘n haarkapper! Ek het dan so pas jou hare gesny, en boonop nog jou baard ook netjies gemaak! Hoe kan jy so ‘n absurde bewering wil maak?”

O, ek is oortuig daarvan!” Die kêrel is sommer baie seker van sy saak. “As daar ooit haarkappers bestaan het, sou daarrdie ou met die toutjieshare mos ‘n netjiese haarsny gehad het. En wat van al die ander mense daar buite met lang hare en deurmekaar baarde? Dink jy nie hulle sou almal netjies gewees het nie?”

Nee, maar nou is jy darem baie onredelik! Wil jy nou net dáároor beweer dat haarkappers nie bestaan nie? Natúúrlik bestaan haarkappers. Maar kom ek sê jou nou: dít is wat met mense gebeur wat hulle nie verwerdig om na ‘n haarkapper te kom sodat hy hulle hare kan skeer nie!” Hy raak sommer omgekrap en meegevoer in sy argument: “Mense dink mos hulle is te goed om na ‘n haarkapper toe te kom. Hulle minag my professie!”

Presies!” sê die kêrel tevrede. “Dis júís die punt! Natúúrlik bestaan God ook! Maar presies dít wat jy nou net genoem het, is wat gebeur as mense nie na Hom toe gaan nie. Dit is waarom daar soveel pyn en smart in die wêreld is. Mense minag en verwerp God, en daarom is daar soveel ellende.”

Hierdie is eintlik ‘n oorvereenvoudiging van die probleem. Dit is oneindig meer kompleks as hierdie storie, en ons het nie werklik die volle antwoord op al die kwelvrae nie. Ons weet nie wat God se raadsplan is nie, en ons weet nie wat Sy doel is met dinge wat gebeur nie. Waarom laat Hy dit toe? Vir die ongelowige is dit ‘n reuse probleem, en dalk ‘n “bewys” dat God nie bestaan nie.

Vir die gelowige is hierdie dinge egter nie ‘n probleem nie, want ons wéét en glo dat God ‘n plan het met elke gebeurtenis, en dat Hy in volle beheer is. Nee, God wil nie dat slegte dinge (sonde) gebeur nie, maar soms laat Hy toe dat ongelowiges sonde doen as deel van ‘n baie groter raadsplan, wat dikwels baie ver bokant ons begrip is.

In 1 Kor 1:18 skryf Paulus: “Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir die wat verlore gaan, maar vir die wat gered word is dit die krag van God. Dit is juis die probleem: as jy nie wíl glo nie, word al hierdie dinge vir jou totale onsin. Dan wil jy die vraag vra: “Waar was God toe......?” met elke ramp wat ons tref. In die volgende hoofstuk vra ons dan juis ook hierdie vraag, en dan sien ons die hand van God in elke situasie, en sien ons Sy groot genade, dáár waar ongelowiges slegs die donker en God se afwesigheid sien.

Gebed:

Here, dankie dat ek vanoggend met sékerheid kan weet dat U nie alleen bestaan nie, maar dat U ten volle in beheer is, al wil dit soms vir my lyk asof dinge totaal handuit ruk.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026