Beskeidenheid

5 March, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Beskeidenheid

Lukas 14:1-14

Ten spyte van die vyandigheid van die Fariseërs en ander kerkleiers teenoor Jesus, skilder Lukas tóg vir ons ‘n toneel waar Jesus by ‘n vooraanstaande Fariseër gaan eet. Het die man dalk bedekte motiewe gehad om Jesus uit te nooi vir ete? Ek dink wél dat sy motiewe gladnie so suiwer was nie!

Dit was ‘n Sabbatdag, en almal het om die tafel aangesit vir ete. Saam met hulle was ‘n aantal kerkleiers, en Lukas vertel dat hulle die situasie baie fyn dopgehou het. Jesus moes net een enkele voet verkeerd sit, dan het hulle rede om Hom te veroordeel. Saam met hulle aan tafel was ‘n man wat aan water gely het, ‘n siektetoestand wat veroorsaak dat jou liggaam opswel omdat vloeistof ophoop. Dalk het die Fariseërs hierdie man daar “geplant” as strik vir Jesus - ons sal nie weet nie. Maar Jesus sien dwarsdeur hierdie spul huigelaars, en meesterlik gooi Hy die bal in hulle baan met ‘n vraag of ‘n mens iemand op ‘n Sabbatdag mag gesond maak. Streng gesproke sou dit werk wees, wat natuurlik taboe sou wees. Maar genesing op ‘n Sabbat is nêrens in hulle stringe wette ingeskryf nie. Hulle het nie ‘n antwoord vir Jesus se vraag nie. Sê hulle “nee”, dan sal dit lyk asof hulle gladnie omgee vir die siek man nie. Maar hulle is ewe bang om “ja” te sê, want dan sal dit mos lyk asof hulle sélf die wet verontagsaam. Hierdie vraag plaas hulle in ‘n baie netelige posisie!

Jesus gaan eenvoudig ongestoord voort en genees die sieke. Dan herhaal Hy sy vraag oor wat ‘n mens op ‘n Sabbat mag doen en wat nie: “Sal jy een van jou diere red as hy in ‘n put val op ‘n Sabbat?” Weereens swyg die Fariseërs soos die graf, want hulle het net eenvoudig nie ‘n antwoord nie. Wat hulle ookal antwoord, sal hulle in ‘n baie slegte lig stel, dus bly hulle liewer heeltemal stil.

Hierdie voorval bevestig net weereens Jesus se uitspraak dat Hy wáárlik Here van die Sabbat is (Luk 6:5). Selfs die Fariseërs moet erken dat Jesus reg is, al weier hulle om dit hardop te sê.

Maar Jesus is nog nie klaar met die huigelaars nie. Hy het opgemerk dat die belangrike manne die beste sitplekke vir hulleself uitsoek, en die res moet maar sit waar hulle ‘n tweederangse plekkie kry. Dan vertel Hy twee gelykenisse om te verduidelik watter plek nederigheid in jou lewe moet hê.

In die eerste gelykenis vertel hy van die kêrel wat die beste sitplek raaksien, en dan vinnig daar gaan sit, min wetende dat dit eintlik bedoel is vir ‘n eregas. Tot sy skande vra die gasheer hom dan om op ‘n ander plek te gaan sit. So kan jou ambisie en eie eer dikwels tot skande kom. Dat die man eer soek, is maar net menslik, maar dit loop uit op ‘n vernedering. Dit is omdat jy dikwels vals waardes probeer nastreef en vir jouself eer probeer kry, gewoonlik ten koste van iemand anders wat eintlik daardie eer verdien.

Jesus verduidelik dat dit baie beter is om eerder nederig te wees en die agterste sitplekke in te neem. As jy dan werklik eer verdien, sal die gasheer jou ten aanskoue van almal vorentoe roep om op die eresitplek te kom sit. In die praktyk beteken dit dat jou prestasies nie ongemerk verbygaan nie, al voel dit dikwels vir jou so. Moenie jouself adverteer nie, maar bly nederig en beskeie. Uiteindelik sal jy wél beloon word, dalk baie meer as die persoon wat uitgesproke oor homself dit vir die wêreld wil vertoon.

Jesus vertel ‘n tweede gelykenis, dié slag gerig op die gasheer. As hy ‘n maaltyd reël, moet hy nie net die elite nooi sodat hulle hom later weer na húlle grênd etes kan uitnooi nie. Hy moet eerder die armes en gebreklikes uitnooi, daardie mense van wie jy niks terug kan verwag nie. Dit kom neer daarop dat jy goed doen uit die liefde van die saak, en nie om iets daaruit terug te kry nie. Iemand wat ‘n sopkombuis bedryf vir die armes, en ure voor die potte swoeg en sweet, kry absoluut niks daaruit nie. Dikwels moet hy boonop nog gaan bakhand staan vir die bestanddele, en by supermarkte gaan bedel vir bydraes. Daar is absoluut niks glansryk aan so ‘n onderneming nie. Dikwels kry jy nie eers ‘n dankie van baie van die armes wat in die tou staan nie. Waarom doen jy dit dan nog? Omdat Jesus soveel meer vir jou gedoen het, en aan jou soveel meer liefde bewys het. Dit is maar net om vir Jesus dankie te sê vir alles wat Hy vir jou gedoen het.

Dit bring my by die vraag: Waarom gee ek my dankoffer vir die Here? Waarom gee ek my tiende? Is dit dalk om die Here se guns te “koop”? Is dit dalk omdat ek verwag dat as ek my tiende gee, dat die Here dit tienvoudig vir my gaan teruggee? Dieselfde geld ook vir die werk wat ek vir die Here doen: doen ek dit omdat ek guns terug verwag van die Here? As dit die geval is, dan doen ek dit om totaal verkeerde redes. My enigste motivering moet dankbaarheid wees! Die Here het alreeds soveel vir my gedoen, en nou dien ek Hom uit dankbaarheid en omdat ek daarmee ook wil wys dat ek Hom liefhet, sonder dat ek enigiets van Hom terug verwag.

Gebed:

Here, leer my asseblief om nederig te wees, en om my dankbaarheid teenoor U ten volle uit te leef.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026