Beskeidenheid

7 October, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Beskeidenheid

Lukas 14:1-14

VIDEO OUDIO

Ten spyte van die vyandigheid van die Fariseërs en ander kerkleiers teenoor Jesus, skilder Lukas tóg vir ons ‘n toneel waar Jesus by ‘n vooraanstaande Fariseër gaan eet. Het die man dalk bedekte motiewe gehad om Jesus uit te nooi vir ete? As jy tussen die lyne lees, dan lyk dit wél of sy motiewe dalk gladnie so suiwer was nie!

Dit was ‘n Sabbatdag, en almal het om die tafel aangelê vir ete. Saam met hulle was ‘n aantal kerkleiers, en Lukas vertel dat hulle die situasie baie fyn dopgehou het! Hulle het net gewag dat Jesus iets verkeerd moes doen sodat hulle Hom kon veroordeel. Saam met hulle aan tafel was ‘n man wat aan water retensie gely het, ‘n siekte wat veroorsaak dat jou liggaam opswel omdat vloeistof ophoop. Moontlik het die Fariseërs hierdie man daar “geplant” as ‘n strik vir Jesus! Maar Jesus het dwarsdeur hierdie spul huigelaars gesien. Meesterlik het Hy die bal in hulle baan gegooi met ‘n vraag of jy iemand op ‘n Sabbatdag mag gesond maak. Streng gesproke sou dit werk beteken, wat natuurlik taboe sou wees. Maar genesing op ‘n Sabbat was nêrens in hulle stringe wette ingeskryf nie. Hulle het nie ‘n antwoord gehad op Jesus se vraag nie. Sou hulle “nee” sê dan sou dit lyk asof hulle gladnie omgegee het vir die siek man nie. Maar hulle was ewe bang om “ja” te sê, want dan sou dit mos lyk asof hulle sélf die wet verontagsaam het. Hierdie vraag het hulle in ‘n baie netelige posisie geplaas!

Jesus het eenvoudig ongestoord voortgegaan om die sieke te genees. Toe herhaal Hy sy vraag oor wat ‘n mens op ‘n Sabbat mag doen en wat nie. “Wie van julle sal, as sy seun of os in 'n put val, hom nie dadelik uithaal nie – selfs al is dit op die Sabbat?” Weereens het die Fariseërs soos die graf geswyg. Hulle het net eenvoudig nie ‘n antwoord gehad nie. Wat hulle ookal sou antwoord, sou hulle in ‘n baie slegte lig stel, dus het hulle liewer heeltemal stilgebly!

Hierdie voorval het net weereens bevestig dat Jesus se uitspraak wat Hy in Lukas 6:5 gemaak het, dat Hy Here is van die Sabbat, ‘n werklikheid is. Selfs die Fariseërs moes erken dat Jesus reg was, al het hulle geweier om dit hardop te sê!

Jesus was egter nog gladnie klaar met die huigelaars nie. Hy het opgemerk dat die belangrike manne die beste plekke vir hulleself uitgesoek het en die res moes maar sit waar hulle ‘n tweederangse plekkie kon kry. Dan vertel Hy twee gelykenisse om te verduidelik watter plek nederigheid in jou lewe moet hê.

Hy vertel eers van die kêrel wat die beste sitplek raaksien, en dan daar gaan sit, min wetende dat dit eintlik bedoel was vir ‘n eregas. Tot sy skande vra die gasheer hom dan om iewers anders te gaan sit. So kan ‘n mens se ambisie en eie eer jou dikwels in die skande bring. Die eer wat die man gesoek het was eg menslik, maar dit het uitgeloop op vernedering. Dit is omdat ‘n mens dikwels vals waardes probeer nastreef en vir jouself eer probeer kry, gewoonlik ten koste van iemand anders wat eintlik daardie eer verdien.

Jesus verduidelik dat dit baie beter is om eerder nederig te wees en die agterste sitplekke in te neem. As jy dan waarlik eer verdien, sal die gasheer jou ten aanskoue van almal op die eresitplek kom laat sit. In die praktyk beteken dit dat jou prestasies nie ongemerk verbygaan nie, al voel dit dikwels vir jou so. Moenie jouself adverteer nie, maar bly nederig en beskeie. Uiteindelik sal jy wél beloon word, dalk selfs baie meer as die persoon wat uitgesproke oor homself is en dit vir die wêreld vertoon!

Die tweede gelykenis rig Jesus op die gasheer: As hy ‘n maaltyd reël, dan moet hy nie net die elite nooi sodat hulle hom later weer na húlle grênd etes kan uitnooi nie. Nooi eerder die armes en gebreklikes uit, van wie jy niks terug kan verwag nie. Wat dit op neerkom is dat jy goed doen uit die liefde van die saak, en nie om iets daaruit terug te kry nie. Iemand wat ‘n sopkombuis bedryf vir die armes, en ure voor die potte swoeg en sweet, kry absoluut niks daaruit nie. As hy nie boonop nog sélf vir die bestanddele moet betaal nie, kos dit hom minstens om bakhand te gaan staan by supermarkte en bedel vir bydraes. Daar is absoluut niks glansryk aan so ‘n onderneming nie, en dikwels kry jy nie eers ‘n dankie van baie van die armes wat in die tou staan nie! Waarom doen jy dit dan nog? Omdat Jesus soveel meer vir jou gedoen het, en aan jou soveel meer liefde bewys het! Dit is maar net om vir Jesus dankie te sê vir alles wat Hy vir jou gedoen het.

Dit bring my by die vraag: Waarom gee ek my dankoffer vir die Here? Waarom gee ek my tiende? Is dit dalk om die Here se guns te “koop”? Is dit dalk omdat ek verwag dat as ek my tiende gee, dat die Here dit tienvoudig vir my gaan terug gee? Dieselfde geld ook vir die werk wat ek vir die Here doen. Doen ek dit omdat ek guns terug verwag van die Here? As dit die geval is, dan doen ek dit om totaal verkeerde redes. My enigste motivering moet wees: Dankbaarheid! Die Here het alreeds soveel vir my gedoen, en nou dien ek Hom uit dankbaarheid en omdat ek daarmee ook wil wys dat ek Hom liefhet, sonder dat ek enigiets van Hom terugverwag.

Gebed:

Here, leer my asseblief om nederig te wees, en om my dankbaarheid teenoor U ten volle uit te leef.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026