Besetene in Kapernaum

1 August, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Besetene in Kapernaum

Markus 1:21-28

VIDEO * OUDIO

Jesus se bediening het ‘n aanvang geneem, en sommer dadelik kom ons agter dat mense geluister het na wat Hy gesê het. Hy het met gesag gepraat. Sy boodskap was vir eers kort en kragtig: “Bekeer julle en glo die Evangelie” (Markus 1:15). Maar is dit werklik nodig dat ‘n boodskap lank en ingewikkeld moet wees? Onthou jy nog wat Jona se boodskap was in Nineve? “Nog net veertig dae en Nineve word verwoes!” Dit was al wat Jona gesê het. Maar God het daardie eenvoudige boodskap in mense se harte laat werk sodat die hele stad tot bekering gekom het!

Jesus se boodskap het soveel gesag gedra, dat mense nét gelos het dit waarmee hulle besig was, en Hom gevolg het om Sy dissipels te word. Elkeen wat Hom gehoor het, het notisie geneem van wat Hy gesê het.

Jesus het Sy openbare bediening ‘n skamele dertig kilometer van Sy tuisdorp, Nasaret af begin. Langs die see van Galilea het Hy Sy eerste dissipels gekry, en daarvandaan het Hy na ‘n baie dekadente stad aan die noordoewer van die see van Galilea, Kapernaum gegaan. Dit was ‘n baie ryk en welvarende stad met 1500 inwoners. Daar het die Romeine ook ‘n hoofkwartier gevestig vir verskeie leërafdelings, en dus was die nie-Joodse invloed baie groot.

Jesus het Sy bediening begin uitbrei. Nou was Hy egter nie meer net die “Straatprediker” wat preek: “Bekeer julle!” nie. Ons sien dat Hy op Sy eerste Sabbatdag in Kapernaum, reguit na die sinagoge gegaan het en vir die mense gepreek het. Dit was egter veel meer as maar net nóg ‘n preek deur een van die hooggeleerde Skrifgeleerdes. Jesus se preek was totaal anders. Die mense was gewoond daaraan dat die slim manne dikwels meer hulle eie beuel geblaas het as wat hulle die Woord verkondig het. Toe Jesus egter begin praat het, het daar ‘n doodse stilte toe oor die hoorders toegesak. Hulle monde het oopgehang, want hier was Iemand wat met groot gesag en terselfdertyd kinderlike eenvoud met hulle gepraat het. Hulle kon verstaan wat Hy sê, en Hy het reguit tot hulle hart gespreek, nie dwarsoor hulle koppe soos die ander nie!

Ek wil amper dink dat die groot jaloesie en vyandigheid van die Skrifgeleerdes en Fariseërs alreeds daar begin het, want hierdie “ongeleerde” Jesus het baie meer aandag as hulle gekry.

Maar op hierdie eerste Sabbatdag in Kapernaum sou daar iets gebeur wat die ganse gemeenskap tot in hulle fondamente sou ruk. As hulle gedink het dat Jesus slegs mooi kon praat, dan was hulle ver verkeerd!

Al die aandag was op Jesus terwyl Hy gepraat het. Maar skielik was daar iemand wat die ganse sinagoge versteurd laat omkyk het, ‘n man wat waansinnig begin skreeu het. Almal het probeer om hom te kalmeer, maar hy het net aangehou skreeu. “Dis ‘n bose gees wat in hom is!” het dit deur die gemeente geruis. “Die arme man is nou totaal van sy trollie af!”

Toe draai die man na Jesus en gluur Hom met wilde oë aan terwyl hy gil: “Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret?” Die mense het hoorbaar na hulle asems gesnak. Hoe sou hierdie nuwe rabbi hierdie dilemma hanteer?

“Het U gekom om ons te verdelg?” het die man voortgeskreeu terwyl sy wilde oë in hulle kaste gerol het. Almal kon duidelik sien dat hierdie man vasgevang was in die mag van die aller-verskriklikste demone wat volle beheer oor sy lewe gehad het. “Ek weet wie U is!” Met ‘n bewende vinger het hy reguit na Jesus gewys: “U is die Heilige van God!”

“Wat sou hy daarmee bedoel?” het almal hardop gewonder, terwyl die man bewend daar staan en kwyl het.

Deur al hierdie dinge het Jesus rustig Sy kans om iets te kan sê, afgewag. Toe Hy uiteindelik praat, het alle oë na Hom gedraai. Met groot gesag het Hy gesê: “Bly stil en gaan uit hom uit!” Slegs dit!

Skielik het die man die allerverskriklikste stuiptrekkings gekry. Hy gee een oorverdowende gil, en toe slaan hy neer tussen die mense en bly doodstil lê (so lees ons in Luk 4:35). Sy gesig was nou egter rustig, en daar was géén teken meer van die besetenheid wat hom geteister het nie.

“Wat het hier gebeur?” het dit deur die sinagoge gegons. Mense kon nie glo wat hulle so pas beleef het nie. “Selfs die onrein geeste gehoorsaam Hom”, het dit deur die vertrek gedreun. Die nuus het soos ‘n veldbrand versprei, en binne enkele dae het die hele Galilea van hierdie insident geweet. Dit was ál waaroor die mense gepraat het! “Daardie nuwe rabbi het selfs mag oor bose geeste!”

Dit was nog ‘n groot nederlaag vir die duiwel. Hy het ‘n leërmag van demone in hierdie man ingestuur, maar Jesus het hulle verslaan. Nou was dit oorlog! Hy sou die groot kanonne moes uithaal!

Een ding wat almal baie duidelik moes besef, is dat die persoon wat Jesus sou volg, verbind sou wees aan die mees gesagvolle Leermeester wat hulle nog óóit teëgekom het.

Vandag is dit steeds nét so waar, en as ek en jy ons aan Hom verbind, het ons deel aan die mees gesagvolle Persoon wat die geskiedenis óóit geken het. Jesus is nie alleen “Liefde” nie, maar Jesus is ook Mag! Almag! Saam met Jesus is absoluut niks onmoontlik nie. En dit is nie maar net wensdenkery nie! Talle en talle mense kan daagliks daarvan getuig.

Gebed:

Here Jesus, dankie dat U my uitgekies het om deel te wees van U gesin, en dat ek kan weet dat niks te groot of moeilik is vir U nie.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026