Bekommernisse

27 March, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Bekommernisse

Lukas 12:22-34

VIDEO | OUDIO

Regstelling: In gister se dagstukkie het ek verwys na Adriaan Vlok wat Desmont Tutu se voete gewas het, dit was inderdaad Frank Chikane se voete gewees.

Petrus is 'n baie bekommerde man: “Meester, ons het niks om te eet vanaand nie. Judas sê dat ons beursie leeg is. Wat gaan ons doen?”

“Ja,” voeg Thomas by, “vanaand slaap ons alweer onder die sterre en hierdie weer lyk juis nie lekker nie. Dit gaan bitter koud wees!”

Johannes wil ook sy opinie lug: “En dit is nou al meer as twee jaar wat ons so rond trek. My klere is al vodde en Petrus s'n lyk óók of hulle beter dae geken het. Ons sal iets móét doen om geld in die hande te kry.”

Jesus lag vir die manne: “Kom, Ek sê nou vir julle dat julle nie bekommerd moet wees oor die lewe nie. Julle stres verniet oor kos en klere en julle liggame. Maar die lewe is baie belangriker as hierdie aardse goed. Kyk na die kraaie: hulle werk nie, maar God sorg vir hulle. Dink julle miskien dat julle nie belangriker is voor God as hulle nie? En dink julle miskien dat julle kommer een enkele uur by julle lewens gaan voeg?”

“Maar Meester.......” protesteer Petrus. “Dis alles goed en wel, maar dit los nog nie ons probleem op nie!”

“Julle verstaan nog nie,” sê Jesus terwyl hulle verby 'n lappie asemrowende mooi lelies stap, “kyk byvoorbeeld na hierdie lelies, is hulle nie mooi nie?”

“Ja Meester?” Petrus se kop is alweer plat. Wat het lelies dan met hulle dilemma te doen?

“Doen hulle iets om hier in die vlei te groei? Beslis nie! Hulle maak nie klere nie en hulle swoeg nie, maar kyk net hoe mooi is hulle! Selfs die flambojante koning Salomo met al sy prag en praal, was nooit so mooi aangetrek soos hulle nie! God sorg vir hulle. Hoeveel te meer sal Hy nie vir julle, Sy kinders sorg nie.”

“Ja Meester, maar ons kan darem tog nie hande gevou sit en hoop dat God sal voorsien nie?” Petrus probeer prakties dink. “Ons moet tog immers eet vanaand en iets hê om te drink. En op hierdie stadium is daar niks!”

“Petrus, waar is jou geloof? Julle is bloot kleingelowig! Moenie julleself gedurig afvra wat julle gaan eet en drink nie. En moenie besorg wees nie. Los daardie dinge vir die ongelowiges! Onthou: julle Vader in die hemel weet presies wat julle nodig het. Hy vra van julle om te konsentreer op die dinge van Sy koninkryk – dit is waarvoor julle hier is! Los die bekommernisse oor wat julle nodig het vir Hom. Hy kán al hierdie dinge hanteer.”

Petrus voel skuldig en skaam dat hy so kleingelowig gereageer het. Maar hy is maar net 'n mens en hy kan dit nie help nie. En steeds bly die kommer aan hom knaag, want stééds het hulle nie kos vir vanaand nie!

Ja, en hy besef dat hy eintlik gladnie sit en niksdoen nie – hy en sy maats werk mos baie hard elke dag in die Koninkryk van God, waar hulle vir Jesus help! En as hy nou mooi dink daaroor, dan onthou hy nie van een enkele keer waar hulle honger gaan slaap het nie. Soms bitter ongemaklik ja, maar honger? Nooit!

“Moenie bang wees nie, My kuddetjie,” bemoedig Jesus hulle, “My Vader gee die Koninkryk vir julle!”

En dan sê Jesus weer iets wat Petrus laat regop sit van skok: “Verkoop julle besittings en gee die geld vir die armes. Julle moet vir julle 'n beursie kry wat nooit leeg raak nie.”

“Meester? Maar nou verstaan ek gladnie – daar bestaan mos nie so 'n ding nie?” Petrus is tegelyk geskok en uit die veld geslaan. Sy Meester kan soms totaal onverstaanbare dinge sê.

“Petrus, julle het 'n onuitputlike bron van rykdom in die hemel, daar waar diewe nie kan steel nie en selfs die motte nie julle goed kan opvreet nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”

'n Paar jaar gelede het ek myself bereid verklaar om vir die Here te werk. Dit het beteken dat my inkomste maar bitter skraal was en nie eers naastenby genoeg om vir al my verpligtinge te betaal nie. Aanvanklik was daar nie eers geld vir kos, klere en verblyf nie!

Weldra het ek egter agtergekom dat daar tóg elke maand genoeg was vir alles! Wanneer ek my sommetjies maak, dan balanseer dit net eenvoudig nie uit nie. Tóg word daar telkemale voorsien, dikwels uit die mees onverwagse oorde.

Aanvanklik het ek en Mosbolletjie ons elke keer siek bekommer, maar ons het mettertyd geleer dat die Vader voorsien op onverklaarbare wyse, nét soos wat Jesus dit aan Sy dissipels probeer verduidelik het.

Luukshede is daar steeds nie, maar soms word ons selfs lekker bederf as iemand ons byvoorbeeld uitnooi vir 'n ete in 'n restaurant.

En ons het wonderlike vriende wat uit hulle pad sal gaan om te help as ons die dag in die nood is. Die Here is baie goed vir ons! Voorsien die Here? Beslis!

Gebed:

Here, dankie dat U so mildelik voorsien en dat ons nooit nodig het om te bekommer nie!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026