Begeertes

26 October, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Begeertes

Lukas 18:18-30

VIDEO OUDIO

Begeertes was al baie mense se einde. Die hele ding met begeertes het al in die paradys begin, toe Eva so ‘n verskriklike begeerte gekry het vir daardie verbode vrug. Ek meen, die ganse tuin was tot boordens toe vol van die sappigste vrugte om van te kies en te keur! Maar Eva? Sy wóú opsluit dáárdie een waarop God ‘n verbod geplaas het hê. Ja, en die geskiedenis het bewys dat sy haar vrug gekry het en dat sy vir Adam ook verlei het daarmee en dat hulle uit die tuin geskop is!

Jare gelede het ek ‘n boshuisie gehad in Marloth Park. Daar was nie ‘n normale groen grasperk nie maar ‘n kaal stuk grond om die huis waarop daar nie eers ‘n ou enkele grassprietjie gegroei het nie. Dit was nie my eie keuse dat dit so moes wees nie. Oorspronklik het ekn grasperk aangeplant en dit het weelderig gegroei. Die vlakvarke het dit nét op die regte lengte gehou. Maar toe kom daar ‘n groot droogte en toe skoffel die wielsnoete alles uit totdat daar naderhand net hier en daar ‘n sliert oorgebly het.

Die volgende somer plant ek wéér ‘n grasperk. Toe die eerste ou groen sprietjies hulle koppies bo die rooi grond uitstoot, sien ek al hoe die begeertes in die vlakvarke se kraalogies glinster, begeertes vir mý lappie groen gras. Ek het hulle verjaag, maar dit was puur verniet. Ek het doringtakke oor die brose ou grassies gegooi, maar die varke se begeertes was oorweldigend dat hulle eina-eina hulle snoete tussen die dorings ingewurm het om my grassies te kom uitpluk. En dit terwyl daar ‘n oorvloed van groen gras in die veld was!

Die tiende gebod sê dat jy nie mag begeer nie. Dit is die héél moeilikste van al die gebooie om te onderhou. En dit is juis die probleem van die ryk jong man met wie Jesus gesels het. Hy was ‘n goeie kêrel - het sy bes probeer om streng volgens die wet te leef. Hy het ook groot respek gehad vir Jesus en hy het presies geweet waar om te soek vir die één antwoord wat hom bly ontwyk het, hoe om die ewige lewe te kry. Jesus hetn rits gebooie genoem en die man het eerlik gesê dat hy hulle almal van kleintyd af onderhou het. Eén gebod wat Jesus egter aspris uitgelaat het was daardie tiende gebod. Hy het geweet dat hierdie gebod ook die jong man se groot struikelblok was.

Verkoop alles wat jy het, en deel die geld aan die armes uit.Jesus het sy vinger reg op die seer kol gedruk. Die arme man het nét daar omgedraai en weggestap sonder dat hy dít waarvoor hy gekom het kon kry, die ewige lewe! Die man was so verknog aan sy aardse besittings dat dit tussen hom en God kom staan het.

Maar nou het hierdie my aan die dink gesit oor die varke op my grasperk. Was ék nie dalk die vark in die verhaal nie? Dalk was ék juis die skuldige omdat ek nie my grasperk met die vlakvarke wou deel nie. Dalk het ek so verknog geraak aan my ou heilige groen grassie, dat dit tussen my en ware geluk gestaan het. Dalk moes ek vrede maak daarmee dat ek net gras geplant het vir die varke!

Terwyl die man so met geboë skouers weggestap het, het Jesus na sy dissipels toe gedraai en Hy vir hulle verduidelik dat dit feitlik onmoontlik is vir ‘n ryk mens om in die Koninkryk te kom. Hy het die voorbeeld gebruik, dat dit makliker is om ‘n reuse kameel deur die piepklein gaatjie van ‘n naald se oog te druk as vir ‘n ryke om in die hemel te kom!

Sy dissipels was verslae! Maar dan is dit mos totaal onmoontlik om óóit in die hemel te kom! Niemand sal dit ooit daarheen maak nie! Jesus het hulle gerusgestel, want by God is niks onmoontlik nie. Wat vir ons totaal onmoontlik lyk, is by God tweede natuur. Die feit is dat as jy bereid is om die Here toe te laat om jou lewe te verander, dan kan jy ‘n totale nuwe mens word, selfs in die mees onmoontlike omstandighede.

Let wel dat Jesus nie hier sê dat dit sonde is om ryk te wees nie. Dit is egter wat jy met jou rykdom doen wat sonde kan wees. Alles kom neer op gesindheid: met watter soort gesindheid in jou hart hanteer jy jou geld? Ongelukkig is dit so dat rykdom baie maklik ‘n mens se afgod kan word. As die miljoene begin instroom, dan klou jy krampagtig vas aan elke sent wat jy verdien het. En hoe verder dit gaan, hoe moeiliker raak dit om jou rykdom te deel met die armes. Jy begin as’t ware ‘n muur bou tussen jou en God met geld en besittings.

Ek ken egter ook baie skatryk mense wat diep gelowig is en gedurig met ‘n oop hand staan. Vir hulle is hulle besittings slegs deur God aan hulle geleen. Hulle is die rentmeesters om hierdie besittings en geld te gebruik tot eer van God en tot diens aan hulle medemens. Daar is ‘n paar van hulle in ons eie gemeente, en jy kan duidelik sien hoe die geluk en liefde uit hulle lewens straal. Maar daar is ook arm mense in ons gemeente met dieselfde gesindheid - mense wat bereid is om die ou bietjie wat hulle het óók met minderbevoorregtes te deel. Die regte begeerte om te koester, is die begeerte om naby aan die Here te leef, en om Sy wonderbare liefde ten volle uit te leef!

Gebed:

Here, leer my asseblief om nie so verknog te wees aan my besittings nie!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026