Bedrog Deur Gelowiges

9 January, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Bedrog Deur Gelowiges

Genesis 27:30-47

Mens voel gewalg oor die bedrogspul van die aardsvaders, Isak en Jakob. Isak spreek ‘n seën uit in die teenwoordigheid van die Here. Die Here word hier aangeroep en Sy gawes word aan die ontvanger (veronderstel om Esau te wees) belowe. Maar Isak spreek hierdie seën uit in die geheim. Waarom wil hy dit wegsteek? Omdat hy presies geweet het van die Godspraak wat Rebekka gekry het. Hy was deeglik bewus dat Jakob die regeerder sou wees, maar hy het nie hiermee saamgestem nie. Hy wou dit op sy eie manier doen en die mag vir Esau gee.

Jakob, aan die ander kant, wil die seën ontvang in die teenwoordigheid van die Here, maar hy doen dit met bedrog. ‘n Mens wil dit uitskreeu: “Maar hoe kón hulle? Hulle is dan die heilige voorvaders van die volk van God!”

Maar kom ons gaan dink ‘n bietjie mooi oor die saak: die Here word hier misbruik as 'n blote werktuig. Hy is maar net ‘n Naam om ander mense te manipuleer. Ons is ook dikwels in dieselfde situasie. Ons misbruik die heilige Naam van die Here om dinge te laat gebeur. Dikwels word e-posse in die Naam van die Here misbruik om mense te beroof. Noem selfs reddende genade van Jesus om bedrog te pleeg. Ek het self al verskeie kere deurgeloop onder mense met ‘n hartverskeurende storie met soveel oortuiging in die Here se Naam om my te bedrieg.

Maar ek en jy moet lig loop daarvoor dat ons nie dalk diesélfde doen om ons doel te bereik nie!

Esau het Pa Isak se tent ingewals met ‘n lied in die hart en ‘n geurige wildsgereg om Pa in die regte luim te kry sodat sy seën baie goed sal wees. Maar baie spoedig verander die lied in ‘n donderstorm met erge reënbuie as hy uitvind dat sy broer hom bedrieg het en sy seën gesteel het. Hy skree van verbystering en woede, en sy gille vibreer deur die stil woestynlug. “Pa, seën my tog ook!” gil hy hard en bitter deur sy trane. Isak is baie ontsteld as hy verduidelik dat Jakob klaar die seën gekaap het. Met bedrog het hy Esau se seën weggevat, en nou bly daar niks oor nie. Wat gesê is, is klaar gesê!

n Mens se woorde het ‘n geweldige krag, baie groter as wat jy soms dink. Ons wil graag alles op skrif hê, want dan is dit bindend. Die gesproke woord is egter nét so bindend. Kyk maar hoeveel opslae is daar nie al gemaak deur onbesonne uitsprake van hooggeplaastes nie! Ek kan skielik aan sommer 'n hele paar gróót name dink wat bitter kwetsende dinge baie onlangs kwytgeraak het. Maar dan is die dinge wat ons sélf sê in ‘n oomblik van onbedagsaamheid óók dikwels bitter kwetsend. Ons woorde kan iemand bitter seer maak.

Het Pa nie nog ‘n seën vir my ook nie?” kerm Esau. “Het Pa dan net een seën?” Hy huil bitterlik: “Pa, seën my ook, Pa!

En dan spreek Isak ‘n seën uit oor Esau, sy geliefde seun. Maar die seën klink meer na ‘n vloek wat hy oor hom uitspreek. Hy sal van oorlog leef en gebuk gaan onder die heerskappy van sy jonger broer, die een vir wie hy nou so haat. Armoede sal sy geselskap wees en die natuur sal sy rug op Esau draai.

Dit is ‘n donker prentjie wat vir Esau geskilder word. Wat veronderstel was om ‘n dag van groot vreugde te wees, verander vir hom in die ergste nagmerrie wat ‘n mens jou kan voorstel. Deur sy bitter trane deur sweer Esau dat hy sy broer gaan vermoor sodra Pa Isak in die graf is. Hy gaan boet hiervoor!

Wanneer Rebekka hoor van Esau se wraakgedagtes, skrik sy haar yskoud. Jakob moet vlug, dis al genade! Die enigste plek waarvan sy weet wat veilig kan wees, is Haran waar sy vandaan kom. Daar het sy darem nog familie. Boetie Laban is nog daar, en hy is seker al ‘n welgestelde man met ‘n streep hubare dogters. As sy nou vir Jakob kan oorreed om daarheen te vlug, kan hy dalk wegkom van hierdie verleidelike Hetitiese meisies, en dalk met een van boetie Laban se dogters trou. Maar eers moet sy Isak gaan oorreed. Hoe gaan sy vir Isak so ver kry om uit eie vrye wil vir Jakob weg te stuur?

Wanneer Isak oor die ergste skok is en bedaar het, gaan Rebekka na haar man toe. Sy lyk baie ontsteld, en sy haal ‘n bitter seer saak aan, die een van Esau se Hetitiese vrouens: “Isak,” sê sy, baie opgewerk. “Ek is nou siek en sat vir hierdie Hetitiese vrouens van Esau.”

Ja ou vrou, ek ook,” wil Isak nog sê, maar sy gee hom nie eers kans nie. “As Jakob óók met een van hulle trou, kan ek net sowel sterf!” Isak knik sy kop: hy stem saam met Rebekka.

Wat sou jy voorstel? Wat moet ons doen Isak?” Dit is ‘n slim set van Rebekka om Isak die besluit te laat neem. Hy gaan haar help om Jakob te laat vlug vir Esau se wraak, en dit gaan lyk asof dit Isak se idee was.

Rebekka glimlag selfvoldaan as Isak reg in haar kraal speel: “Stuur die kind na Haran toe.”

Bingo!” wil Rebekka uitroep. Haar liefling seun se lewe is gered.

Gebed:

Here, plaas asseblief ‘n wag voor my mond, en bewaar my asseblief daarvan dat bedrog my hart vul.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026