Babel, Edom en Arabië

4 August, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Babel, Edom en Arabië

Jesaja 21

Dis die blond, dis die blou, dis die veld, dis die lug. En 'n voël draai bowe in eensame vlug. Dis al.

Dis 'n balling wat kom oor die oseaan, dis 'n graf in die gras, dis 'n vallende traan. Dis al!

'n Pragtige gedig van Jan F E Cilliers met hartroerende woorde! Maar agter hierdie woorde sit 'n baie diep betekenis. As jy die beelde letterlik wil interpreteer, en jy ken nie die agtergrond nie, bly dit net mooi woorde. Dis al!

Nét so met Jesaja 21. Hierdie is eintlik 'n gedig wat wemel van beeldspraak wat jy beslis nie letterlik kan interpreteer nie. Vers 1 is vertaal met: “'n Uitspraak van die Here teen Babel.” In Hebreeus word die woord Babel nie eers gebruik nie, en daar staan letterlik “’n Uitspraak teen die woestyn van die see.” Jesaja bedoel met die “see” waarskynlik die Eufraatrivier, en die “woestyn” sinspeel daarop dat die gebied rondom die Eufraat, dus Babel, verwoes is om soos 'n woestyn te word.

In vers 1 en 2 vertel Jesaja van “iemand uit die woestyn waarvoor almal bang is” wat verwoesting saai. Hier gaan dit oor die Siries-Arabiese woestyn, en twee magte, die Mediërs en Elamiete (vandag Iran) wat onstuitbaar soos 'n warrelwind optrek teen Babel. Hulle verwoes dan ook uiteindelik die Babiloniese Ryk, en so bring hulle 'n einde aan die pyn en lyding wat Babel veroorsaak. Wat ons egter baie duidelik moet besef, is dat dit die Here is wat die opmars van hierdie magte bewerkstellig het om Babel te straf vir sy wandade.

In verse 3 tot 5 sien ons hoedat Jesaja hom boeglam skrik wanneer hy hierdie verskrikking aanskou. Hy besef dat dit God se finale ingrype is in die wêreld wat hy aanskou, en dit maak hom baie bang! “My verstand staan stil, angs oorweldig my, die rustigste deel van die dag is nou vir my 'n verskrikking.” (v. 4). Dit is immers die dag van die Here!

Intussen leef die Babiloniërs nog ewe rustig. Hulle hou vrolik partytjie, salig onbewus van die katastrofe wat op hulle wag! En terwyl hulle besig is om die tafel te dek om rustig te eet en drink, kom die bevel vir die oorlog: “Leiers, wees gereed! Smeer die skilde met olie!” (v. 5)

In verse 6 tot 10 sien Jesaja hoedat die volle oordeel van God op Babel uitgegiet word. Daar is strydwaens met perde, donkies en kamele. (Ek kan my nie 'n strydwa met donkies voorstel nie!) Einde ten laaste kom daar 'n strydwa met perde verby gejaag, al skreeuende: “Geval, geval het Babel, al sy afgodsbeelde lê stukkend op die grond!” (v. 9) Nou is dit uiteindelik klaarpraat met Babel!

Vir hierdie volk van God wat letterlik vertrap is op die dorsvloer deur Babel, is dié gebeure 'n pragtige troosboodskap. Die Here staan inderdaad gereed om in te gryp in hulle verdrukking. Hy is die een wat die gang van die geskiedenis kan verander, want die wêreld is mos in Sy sterk hande!

Vandag, wanneer ons moedeloos die verskrikking rondom ons aanskou met 'n swaar hart, dan moet ons óók hierdie woorde onthou. Wanneer ons sien hoedat Kovid 19 verwoesting saai onder mense, dan moet ons wéét, God is in beheer.

Sondagmiddag het 'n klomp gelowiges op die parkeerterrein van die hospitaal in Ballito bymekaar gekom en vir die pasiënte en personeel gebid. Iemand wat deelgeneem het vertel, dat om net die dankbaarheid in die hospitaal personeel se oë te kon sien en beleef was wow! Te midde van die aakligheid van die virus, weerklink die boodskap van Jesus se verlossing!

In verse 11 en 12 word daar verwys na Duma en Seïr. Dit is twee gebiede in Edom. Die Edomiete is die afstammelinge van Esau. By hulle is dit nag! Die verskrikking is groot, en hulle sien verlangend uit na die môre, wanneer alles tog net verby sal wees. Hulle nood is bitter groot, maar die môre wil nie aanbreek nie. Weereens is dit God se oordeel oor hierdie goddelose volk.

In verse 13 tot 17 kom Arabië aan die beurt. Hier hoor ons drie name wat eers verklaar moet word voordat die gedeelte vir jou sin maak, Dedan, Tema en Kedar. Dedan en Kedar is beide Arabiese stamme, en Tema is 'n oase in die noordweste van Arabië. As gevolg van die groot bedreigings, word die skatryk handelaars van Dedan met hulle karavane kamele, swaar gelaai met handelsware, gedwing om in die bosse in die woestyn te oornag, weg van die oase af. Hulle skuil in die woestyn omdat hulle vir die oorlog vlug. Nou word die mense van die oase by Tema gevra om vir hulle kos en water te stuur.

Jesaja se uitspraak is dat daar 'n einde kom aan die ryk handelaars van Dedan en Kedar se rykdom. Die Here God van Israel het dit sélf gesê! Sy heerskappy is nie net oor Israel nie, maar selfs oor die afgesonderde Arabiese stamme in die woestyn. Niemand staan buite Sy invloedsfeer nie!

Gebed:

Here, dankie dat ons kan weet dat U ook in beheer is, selfs van die lande waar Christene wreed vervolg word, en dat U wél op die regte tyd sal ingryp.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026