Atene, Groot Kultuurstad

22 May, 2026
Luister Na Hierdie Dagstukkie Atene, Groot Kultuurstad

Handelinge 17:10-18

VIDEO | SPOTIFY

In die donker sluip Paulus en sy geselskap soos skelms uit Tessalonika. Hulle reis neem hulle na die volgende stad, Berea. Weereens gaan hulle reguit na die sinagoge, soos Paulus nou al gewoonte gemaak het. Met groot belangstelling sit die Jode en luister na Paulus. Maar hulle eet nie alles wat hy sê sommer vir soetkoek op nie. Nee, hulle gaan toets dit aan die Skrif om seker te maak dat hy hulle nie probeer ore aansit nie. Die mense is ontvanklik vir die Woord, en baie van die Jode sowel as Grieke word gelowig, óók 'n aantal vooraanstaande vroue.

Dalk moet ek net hier noem, dat vroue in die Joodse tradisie nooit saam met die mans aanbid het nie. Hulle was uitgesluit uit die sinagoge. In die Grieks-Romeinse wêreld was dit egter 'n héél ander saak, en hier was vroue wél ingesluit. Sommige vroue het selfs leiersposisies in party van die sinagoges gehad! Daar was soms welgestelde vroue wat sinagoges geborg het, en in ruil daarvoor het hulle ereposisies beklee. Dis daarom dat ons in gister se dagstukkie gehoor het van die vooraanstaande vroue wat in die kerk ingeskakel het en wat aangeraak was deur Paulus se prediking.

Ons kan gerus gaan leer by die versigtige Jode van Berea wat gaan oplees het in die Skrifte of Paulus reg was. Ons moet óók die boodskap wat ons van leraars kry gaan toets aan die Woord. Nie alleen maak ons só seker dat hy nie iewers dwaal nie, maar dit versterk ook dít wat ons geleer het!

Dit wil vir ons klink asof die bootjie glad geseil het in Berea, maar ongelukkig was dit nie die geval nie. Natúúrlik sal die duiwel mos nie gelukkig wees as die Evangelie seepglad versprei nie! Gerugte oor Paulus-hulle se suksesse in Berea het die ore van die Jode in Tessalonika bereik. Dadelik stuur hulle 'n afvaardiging om ook dáár te gaan onrus stook.

Inderhaas word Paulus na die kus geneem waar hy op 'n skip gesit word om hom na Atene te neem, eintlik 'n totaal onbeplande besoek. Silas en Timoteus bly egter agter in Berea om eers sake daar af te handel. Wanneer Paulus in Atene aankom, vra hy vir die mense wat hom daarheen geneem het: "Ag, stuur asseblief my twee reisgenote so gou moontlik hierheen sodat hulle by my kan aansluit!"

Wanneer Paulus in Atene aanland, kom hy baie gou tot die besef waarom almal praat van Atene as die groot kultuurstad van die wêreld. Nie alleen is dit die bloeipunt van filosofie en kuns nie, maar boonop is dit die geboorteplek van demokrasie. Die groot reuse van die filosofie soos Sokrates en Plato het hier gebly.

Baie gou sien Paulus egter óók dat hierdie mooi dinge alreeds besig is om ten gronde te gaan. Atene is slegs 'n skaduwee van daardie eertydse glorie. Baie huise staan leeg, en die bevolking het gedaal na 'n skamele 5000 inwoners. Ten spyte hiervan is daar nog steeds filosowe wat graag elke dag vir ure lank betrokke raak in allerhande ingewikkelde redenasies wat uiteindelik uitloop uit net mooi niks!

Wanneer Paulus die eerste dag in die straat afstap op soek na 'n sinagoge, is hy geskok tot in sy siel oor die talle afgodsbeelde wat om elke hoek en draai staan. Hy is uiters verontwaardig, want die mooi kultuurstad is letterlik vervuil van afgodsbeelde!

By die sinagoge redeneer hy saans met die Jode en die Godvresendes, maar dit voel vir hom asof sy redenasie nêrens inslag vind nie! Dit bly bloot net by redenasies. Bedags gaan hy na die stadsplein en probeer dáár gesprekke aanknoop met die verbygangers, óók sonder veel sukses…..

Op ‘n dag kom daar egter 'n paar wysgere verby wat met hom betrokke raak in diep gesprekke. 'n Epikuriër skud sy kop meëwarig as hy Paulus se verduideliking van die Evangelie aanhoor. Sý filosofie is dat die hoofdoel van die lewe is om lewensvreugde te ervaar. Hy vermy ten alle koste dinge soos pyn, vrees en bygeloof. Volgens hierdie man bestaan daar géén God nie. Jy lewe bloot voluit vir hier en nóú, en wanneer allesverby is, dan is dit verby! Klaar!

'n Stoīsyn verduidelik weer vir Paulus dat alles in die lewe gaan oor innerlike vrede en om in harmonie met die natuur te lewe. Inderdaad is daar, volgens hom, wél 'n goddelike voorsienigheid. Dit is egter nie 'n god nie maar eerder 'n vae, onpersoonlike goddelike mag!

Paulus is verslae. Die mense spot hom: hy is niks anders nie as 'n "saadplukker", dit is nou iemand wat dinge kwytraak wat hy sélf nie eers verstaan nie. Ander sê weer dat Paulus 'n boodskapper is van vreemde gode. Waar kom hy tóg aan sulke verspotte gedagtes?

Paulus is radeloos: "Wat moet ek doen, Here?"

Die vraag is: hoe redeneer jy met sulke mense? Selfs Paulus was moedeloos. Die eenvoudige antwoord is, dat jy nié met sulke mense kán redeneer nie! Ek het dit al probeer, en hulle het tien argumente vir elke een van jou. Dit is nie binne my vermoë om iemand van Jesus te oortuig nie. Alleen die Heilige Gees kan dit doen.

Beteken dit dan nou dat ek maar hande gevou moet gaan sit en niks doen nie? Nee, beslis nie! Die Here vra van ons om die eenvoudige boodskap van Jesus oor te dra, dit is ál! Dit is vir daardie persoon om sélf te besluit wat hy daarmee wil doen. Dit is dalk nét moontlik dat hy sy hart sal oopmaak om na die Heilige Gees te luister!

Gebed:

Here, gee my asseblief die moed en wysheid om by elke moontlike geleentheid die boodskap van redding aan mense oor te dra!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026