Jesaja 10
Dikwels wil ons dit uitskreeu: “Maar dis só onregverdig!” Diskriminerende wetgewing wat gemaak word, of die regstelsel wat toelaat dat gevaarlike kriminele skotvry daarvan afkom. Een so ‘n diskriminerende wet, is die wet op aborsie, wat toelaat dat duisende ongebore babas vermoor word.
Menselewens word bedreig, mense se bestaan word vernietig, eiendom word verwoes deur talle betogings wat soos ‘n stormwind deur ons mooi land woed. Maar niemand word tot verantwoording geroep vir hulle onmenslike dade nie. Dis nie regverdig nie!
Ons samelewing is siek!
Jesaja skryf oor ‘n situasie wat presies soos ons s’n vandag lyk, ‘n siek samelewing waar die regstelsel en wetgewers korrup is. Sommige regters doen net wat hulle wil en die wetgewers bevorder die kwaad met hulle onregverdige wette. Die reg word verdraai en die weerloses, die weduwees, armes en hulpeloses word liederlik uitgebuit.
Daarom sal die dag van afrekening vir hierdie onregverdige regters en wetgewers kom. Daar sal niemand wees na wie hulle sal kan hardloop om hulp nie. Die einde is onafwendbaar vir diegene wat dink dat hulle God kan ignoreer.
Vervolgens, in verse 5-19 kondig Jesaja God se oordeel aan oor Assirië. Ons het by ‘n paar geleenthede alreeds gesien dat God Assirië gaan gebruik as instrument om Sy volk te straf. Enige instrument het slegs mag sover as wat die hanteerder van die instrument dit toelaat of gebruik. En dit is presies ook die geval met Assirië. Sy mag is beperk, want God regeer, en daarom staan Assirië onder God se oordeel.
Assirië is dus ‘n stok in God se hand waarmee Hy die volk tugtig. Hulle (Sy volk) is goddeloos en godloos, daarom word Assirië gebruik om hulle te plunder en te vertrap soos modder in die strate.
Dit wil ál onregverdig lyk dat God Assirië oordeel terwyl Hy hulle gebruik. Maar ons moet onthou dat Assirië steeds uit eie magsbeheptheid handel. Hulle roei uit en verniel, nie omdat God dit toelaat nie, maar omdat hulle wil.
Kom ek verduidelik. Ek sien my kind is besig om te lol met ‘n perdebynes. Ek waarsku hom om weg te bly, maar hy ignoreer my bloot en lag die waarskuwing af. Wat doen ek? Gaan vernietig ek dadelik die nes? Doen ek dit, dan verwyder ek die gevaar, maar op ‘n ander geleentheid sal hy wéér met ‘n nes speel, en dan kan dit dalk lelike sake beteken. Dus los ek maar die perdebye en laat toe dat een hom steek. Dis bitter pynlik, maar tóg nie lewensgevaarlik nie. Hy sal wél volgende keer weet om ag te slaan op my waarskuwings!
En die perdebye? Nóú gaan ek die nes vernietig, want hulle bly steeds ‘n gevaar. Ek het hulle dus gebruik deur die kind ‘n waardevolle lewensles te leer. Maar dit neem nie die feit weg dat hulle gevaarlik is nie, en daarom straf ek hulle.
Assirië loop hom dus só vas teen die ware God. Hy besef nie dat hy slegs ‘n werktuig in God se hand was nie, en hy dink hy is die een wat in beheer is en nie God nie. Niks bly uiteindelik van Assirië oor na God se oordeel nie.
Nadat God egter die oordeel oor Assirië én Juda voltrek het, sal dié wat in Israel oorgebly het egter ‘n nuwe gesindheid openbaar. Jesaja praat van die klein oorblyfsel. Hulle sal begin besef dat slegs die Here vir hulle hulp kan bied, en dan begin hulle weer hulle vertroue in die Here stel. Die Here het vas besluit om die hele land te verdelg, maar vir God se kinders is daar selfs in die donkerste tye hoop. Hier was hoop, want ‘n klein handjievol getroues het oorgebly.
In vers 24 sê Hy dan ook vir hulle dat hulle nie bang moet wees nie. Die volk staan voor die grootste krisis van hulle bestaan, maar die handjievol getroues hoef nie bang te wees nie. Hulle leer hier ‘n baie belangrike geloofsles, die les van vertroue op God ten spyte van omstandighede.
Vandag leef ons dikwels ook in angs wanneer ons al die dinge rondom ons sien gebeur. Maar soos God vir die gelowiges in Juda gesê het, sê Hy vandag ook vir jou en my. Nog net ‘n klein rukkie, dan sal God jou lot verander. Vertrou net op Hom!
Ja, die Assiriërs het gekom, onheilspellend het hulle opgetrek teen Jerusalem, en een-vir-een swig die stede voor hulle opmars. Uiteindelik is hulle só naby, dat hulle na die Sionsberg beduie. Juda het alle rede om paniekbevange te probeer wegkruip.
Maar alles is nie verlore nie, want God is in beheer. Hy stuit die opmars en vernietig Assirië, kap hulle letterlik uit soos ‘n houtkapper ‘n bos afkap.
Omdat God in beheer is, kan Sy kinders bly glo, al lyk die oormag ook oorweldigend.
Gebed:
Here, rondom ons dreig Kovid 19, geweld, die intuimeling van die ekonomie. Maar U is in beheer. Ek plaas al my vertroue op U!