Lukas 21:25-33
In die dorre Laeveld is dit winter. Al die diere is honger! Die gras is al lankal op en die grasvreters kry swaar. Die veld is leeg en morbied. Maar tóg is daar iets in die lug - splinternuwe, kraakvars blaartjies is besig om te vorm in die uitgemergelde bome. Dit is asof alles in afwagting is! Die veld is gevul met opgewondenheid want die lente en die somer met sy oorvloed van kos en lewe is op die punt om uit te bars. Klossies spierwit blommetjies pop alreeds in die knoppiesdoringbome. Al die inwoners van die Laeveld smag na daardie wonderlike tyd van die jaar waar niemand honger hoef te gaan slaap nie.
Maar nie almal sien uit na die somer in die Laeveld nie, want saam met die somer kom ‘n ondraaglike hitte wat dikwels diep in die veertigs draai, en af en toe selfs die moordende vyftigs haal. Vir baie mense is hierdie ondraaglike hitte nét te veel. En natuurlik kom daar saam met die hitte die alewige muskiete - dié soort wat dodelike malaria in hulle byt saamdra.
Wat vir sommige ‘n verskrikking is, is vir ander weer ‘n uitkoms en ‘n wonderlike tyd om na uit te sien.
Rondom Jesus sit ‘n skare van mense wat hang aan Sy lippe. Met kloppende harte luister hulle na die dinge wat Hy vertel - dinge wat in baie van Sy hoorders se harte ‘n verskriklike angs laat opbou. Hy vertel van natuurfratse wat gaan kom, sons- en maansverduisterings en skrikwekkende dinge wat met die sterre gaan gebeur. Maar dit gaan die mensdom nog nader aan die lyf raak wanneer die allerverskriklikste vloedgolwe die aarde gaan tref en die gebulder van die see mense tot raserny gaan dryf. Alles gaan ontwrig wees, die aarde sowel as die hemelruim. Mense gaan beswyk by die blote gedagte van dit wat besig is om te gebeur.
Dink maar net ‘n bietjie aan die gebeure van die afgelope paar jaar, hoe verskriklik alles ontwrig was. Daar was gerugte van reuse meteoriete wat op pad was na die aarde toe. Aardverwarming laat ons harte inmekaar krimp - wat gaan gebeur as die pole smelt? Tsoenamis saai verwoesting oor die aardbol. Aardbewings, verwoestende orkane en modderstortings eis duisende lewens. Kovid-19 swaai sy dood-sekel dwarsoor die wêreld en eis miljoene lewens. Knellende droogtes en hongersnood is die voorland van baie Afrika lande. Lugbesoedeling en die allerverskriklikste waterbesoedeling is besig om ons mooi Suid-Afrika te verswelg. En werkloosheid en armoede raak by die dag erger!
Ja, dit is ‘n baie donker prentjie wat ek skilder, maar Jesus sê vir Sy bekommerde hoorders: “As hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want dan is julle verlossing naby.” (Luk. 21:28). Dieselfde dinge wat die ongelowige in sak en as laat sit, is vir gelowiges die wonderlikste nuus ooit, want dit beteken dat die wederkoms van Jesus baie naby is, en dat ons al die gloed kan opmerk van die nuwe Jerusalem wat besig is om neer te daal - daardie asemrowende stad van goud waarvan Johannes skryf in Openbaring.
Jesus vertel ‘n gelykenis oor die natuur - iets wat ons almal verstaan. As die vyeboom begin bot, dan wéét ons mos dat die somer aan die kom is. Hier aan die kus van KwaZulu-Natal sien ons nie werklik die lente uitbreek nie want alles is regdeur die winter groen. Ek beny eintlik die ouens wat in die binneland bly want die asemrowende ervaring van bome wat oornag ontplof in ‘n massa wit en pienk is iets om te ervaar! In die Laeveld is dit die Mopaniegranate, liederlik-lelike ou deurmekaar boompies wat skielik oornag die vlaktes omtooi in ‘n lushof van reuse liggeel ruikers wat die lof van God se skeppingswonder uitbasuin. So ver as wat die oog kan sien, is dit net een groot geel massa blomme!
As hierdie dinge gebeur, dan wéét ons dat die somer hier is. Aan die begin het ons gesien dat die somer slegte nuus is vir sommige. Ja, die eindtye beteken dat genadetyd besig is om uit te loop vir die ongelowige. Hoeveel keer het die Here nie al boodskappers gestuur op die pad van die ongelowige om hulle te probeer oortuig nie! Nog nooit in die geskiedenis van die wêreld het die boodskap so helder weerklink soos juis vandag nie. Die TV is propvol kanale wat die Lewende God verkondig. Internet is tot beskikking van feitlik elke mens, en waar hulle nie deur hierdie twee bereik kan word nie, is daar radio uitsendings wat die boodskap van verlossing regoor die wêreld uitbasuin. Boonop waag groot getalle gelowiges hulle lewens om die boodskap te bring aan onbereikbare mense.
Tóg leef mense voort in hierdie vrees vir die eindverskrikking, want God se verlossingsplan is nie vir hulle logies nie.
Liewe medegelowige, hierdie boodskap vandag is nie een van vrees en verskrikking nie, maar vir jou en my is dit die boodskap van verlossing. Ons is amper daar! Nog net ‘n kort tydjie, dan is ons verlos van ons aardse gebondenheid, en kan ons heerlik ontspan saam met Jesus in die onbeskryflike lig van God!
Gebed:
Here, ek sien só uit na U wederkoms - kom tog gou, Here Jesus!