​​​​​​​Apollos

12 November, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie ​​​​​​​Apollos

Handelinge 18:18-28

Na ‘n jaar-en-’n-half in Korinte besluit Paulus dat dit eers tyd was om ‘n blaaskansie te neem. Lukas noem dat Paulus sy hare laat afskeer het oor die een of ander gelofte wat hy gemaak het. Daar is nie werklik sekerheid oor die omstandighede nie. Lukas sê net eenvoudig te min daaroor.

Die gebruik was dat wanneer iemand ‘n Nasareërgelofte afgelê het, dan het hy sy hare laat groei vir die duur van die gelofte. Aan die einde word dit dan afgesny om te sê dat die gelofte iets van die verlede is.

Hierna vertrek Paulus en sy twee dierbare vriende, Priscilla en Akwilla uit Korinte. Paulus is op pad na Antiogië. Hulle eerste stop is totaal van hulle koers af: Efese. Dit was daardie jare die belangrikste handelstad, asook die hoofstad van Asië. Priscilla en Akwilla besluit om hulle hier in Efese te kom vestig, en Paulus neem natuurlik soos gewoonlik weereens die kans waar om in die sinagoge te gaan preek. Wonder bo wonder kry hy hierdie slag ‘n goeie ontvangs van die Jode. Soveel so, dat toe hy wou vertrek, het hulle hom gesmeek om langer te bly! Hy belowe egter dat hy op ‘n later geleentheid sou probeer om terug te kom.

Hierna vertrek Paulus per skip na Sesarea. Hy bring eers ook ‘n besoek aan Jerusalem om die gemeente daar te gaan groet voordat hy na Antiogië gaan, waar hy vir ‘n tydjie oorgebly het.

Terwyl Paulus in Antiogië laaglê, verskuif Lukas se vertelling 1500km weswaarts na die stad Efese. Uit die groot kultuurstad Aleksandrië het daar op ‘n mooi dag ‘n Jood in Efese aangekom met die naam Apollos. Hierdie besonder begaafde man was nie alleen baie wel ter tale nie, maar hy het ook ‘n deeglike kennis van die Skrif gehad. Die belangrikste was egter dat hy intussen ook gelowig geword het. Hier in Efese het hy besluit om die wonderlike gawes wat God hom gegee het te kom uitleef. As ons so tussen die lyne deur lees, klink dit of hy gepreek het dat die biesies bewe! Die mense het behóórlik aan sy lippe gehang.

Daar was egter een tekortkoming in Apollos se sielvolle prediking: hy het nie mooi verstaan oor die doop nie. Om die waarheid te sê, het hy die “boetedoop” wat Johannes die Doper toegepas het in sy bediening gepreek en toegepas. Dit was ‘n doop wat vooruitgewys het na die koms van Jesus as Messias. Apollos het nooit gehoor van die doop wat Jesus sélf ingestel het kort voor sy hemelvaart nie. Priscilla en Akwilla het Apollos in die sinagoge in Efese hoor preek, en toe besef hulle dadelik dat Apollos nog heelwat skaafwerk nodig het in die boodskap wat hy met soveel oorgawe oordra. Hulle nooi hom uit na hulle huis toe, waar hulle vir Apollos ‘n “opknappingskursus” aanbied, en hom in die volle waarheid van die Woord onderrig.

Twee dinge val ons dadelik op oor hierdie begeesterde egpaar: hulle beskou dit as hulle plig om ander gelowiges in die volle waarheid van God se raadsplan te onderrig. Dit is ‘n persoonlike ding, en hulle neem die man na hulle huis toe vir die nodige opleiding. Hulle gaan sit nie agteraf en skinder omdat die man ‘n “dwaalleer” verkondig nie! Hulle doen egter iets daadwerklik daaraan en help hom in liefde reg waar hy verkeerd is.

In die tweede plek sien ons ook dat beide Priscilla sowel as Akwilla aktief betrokke is. Die vroue het in daardie tyd slegs ’n agtergrondstatus, of eerder totaal géén status gehad nie. Nou het hulle egter ‘n splinternuwe status gekry. Priscilla onderrig nou selfs ‘n leraar, iets wat voorheen beslis slegs vir mans gereserveer was!

Vandag leer ons uit hierdie egpaar se optrede dat ons as gelowiges by mekaar betrokke moet wees. Ons moet mekaar se geloof help opbou en mekaar begelei in die volle raad van God. Christenwees is nie maar ‘n paadjie waar elkeen op sy eie die mas probeer opkom nie. Ons het mekaar bitter nodig om mekaar te ondersteun en te bemoedig. Verder leer ons dat ons ook moet herbesin oor die stereotipe rolle wat ons deur die eeue vir mans en vroue uitgekerf het. Dit is veral vroue wat steeds nie altyd hulle Godgegewe gawes in die kerk kan uitleef nie.

Apollos was nét op die regte tyd in Efese. Toevallig? Nooit! Natuurlik het God dit in sy groot raadsplan so bepaal dat hy daar vir Priscilla en Akwilla moes ontmoet. Sy wonderlike talente van Woordkennis en bedrewenheid as spreker, gekombineer met die onderrig wat hy van hierdie twee ontvang het, het 'n wenkombinasie gemaak! Die tyd het aangebreek dat hy moes aanskuif, en die stad Agaje het op hom gewag. Aanbevelingsbriewe het gehelp dat hy daar sommer dadelik sou tuisvoel.

En so kom Apollos dan in Agaje aan. Natuurlik was daar die gewone Jode wat totaal teen die Evangelie gekant was, enige prediker se nagmerrie! Apollos se talente het egter hierdie Jode sprakeloos gelaat. Hulle was nie gebore in staat om enige van sy argumente te weerlê nie, en vir die gelowiges in Agaje was Apollos ‘n reuse aanwins.

Kom ons raak betrokke, ek en jy!

Gebed:

Dankie Here, dat ek nie alleen staan in my geloof nie, maar dat daar ‘n skare van mense saam met my die pad loop en my onderskraag. Help my om ook by ander betrokke te raak.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026