​​​​​​​Antichriste en Gelowiges

14 August, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie ​​​​​​​Antichriste en Gelowiges

1 Johannes 2:18-27

Die antichris is ‘n onderwerp waaroor daar al baie boeke geskryf is, en waaroor daar baie bespiegel is. Baie mense het gereken dat Nero die antichris was, of Hitler. Selfs sommige Amerikaanse presidente is al uitgesonder om die antichris te wees. Ek het selfs eenmaal gehoor dat ’n kêrel sy gehawende ou Landrover die antichris genoem het, omdat hy die arme man se geloof so verskriklik beproef het! Wie is hy, of wie sal hy wees? Nee, ons weet nie. Wat wel ter sake is, is die “baie antichriste” waarvan Johannes skryf in vers 18. Hy skets ‘n kontras tussen die antichriste en die gelowiges om eerstens te sê dat 'n gelowige baie versigtig moet wees vir dwalings. Maar in die tweede plek gebruik hy ook hierdie kontras om te toon hoedanig ons lewe as gelowiges moet wees.

Wie is die antichriste waarvan Johannes hier skryf? Nadat ek eenmaal ‘n klomp nuwe adresse gekry het om dagstukkies voor te stuur, het een kêrel my baie bitsig terug geantwoord. Hy was bitter ongelukkig omdat ek gewaag het om vir hom sulke “snert” te stuur, en ek moet nie sommer net aanneem dat alle mense Christene is nie, en ek moenie nou wil staan en van hom ‘n Christen probeer maak nie!

Is dít dalk die soort van antichriste waarvan Johannes skryf? Nee, hy is bloot ‘n ongelowige wat weier om te luister na die Evangelie. Daar is miljoene sulke mense, en die sendelinge se primêre taak is om juis húlle met die Evangelie te probeer bereik. Die antichriste waarvan Johannes skryf is egter mense wat reeds die Evangelie gehoor het en wat deel geword het van die Christelike gemeenskap. Vanuit die binnekring van die gemeente, uit eie geledere, waar jy dit die minste verwag, verraai hulle vir Christus en rig reuse skade aan.

Hoe is dit dan moontlik?” sou jy dalk vra, “Iemand wat Jesus aanvaar het kan tog nie uit Sy hand weggeruk word nie?” Baie waar, maar wat het met Judas Iskariot gebeur? Hy was deel van Jesus se intieme groepie dissipels. Hy sou later 'n apostel word. Hy het elke dag saam met Jesus geloop, Sy wonderdade gesien, Sy boodskap oor en oor gehoor. Nogtans het hy vir Jesus op die mees verraderlike wyse verkoop, verraai. “Ja, maar dit was anders!” sou ons dalk kon sê. Was dit werklik soveel anders?

Ek dink Judas het ander aspirasies vir Jesus gehad. Hy het Jesus dalk as politieke figuur gesien wat Israel van die Romeine sou verlos. Toe Judas begin agterkom dat Jesus iets totaal anders beplan, het hy teen Hom gedraai. Dalk wou hy met sy verraad vir Jesus probeer dwing om tot aksie oor te gaan. Hy het Jesus nie gesien vir die Persoon wat Hy waarlik was nie. Gebeur dit nie ook dikwels in die kerk nie? Dink maar: waarom aanbid ons God? Suiwer uit liefde en dankbaarheid vir wat Hy alles vir ons gedoen het, natuurlik. Hy is immer die Koning van alle konings! Wat daarvan as jy God aanbid om Hom te manipuleer tot jou eie voordeel? Dit klink kras, maar dit gebeur dikwels! God moet net regstaan en spring om te voorsien in jou eie behoeftes, en wanneer dit nie gebeur nie, is jy kwaad vir die kerk wat kwansuis ‘n halwe waarheid verkondig. Hulle is net ‘n spul skynheiliges! Jy vat jou goedjies en loop, en beswadder daardie klomp “heilige koeie”. Hierdie is die antichriste waarteen Johannes waarsku. Sondae sit hulle dikwels saam met jou in die kerkbanke!

Hoe lyk die lewe van ‘n ware gelowige? Hy is in die eerste plek deur Christus gesalf met die Heilige Gees. So sê Johannes in vers 20 en 21. God het Sélf deur die Heilige Gees jou as gelowige bevestig of verseël in Christus om ‘n intieme, persoonlike verhouding met Hom te hê en om nie toe te gee aan dwalinge nie. In ‘n hegte geloofsverhouding met Jesus is daar nie plek vir ‘n dwaalleer oor Christus nie! Dwaling kom van die antichris af. In teenstelling hiermee moet die gelowige streef na ware geloofskennis deur die Heilige Gees.

Die vraag word dikwels gevra oor die vervulling met die Heilige Gees, en daar is verskillende sieninge hieroor. Soos ek dit verstaan, word jy vervul met die Gees die dag wanneer Jesus in jou lewe kom. Ek wil dit vergelyk met ‘n emmer (jou lewe) waarin ‘n klomp klippe (sonde) is. Wanneer Jesus die dag jou Verlosser word, word jou lewensemmer volgegooi met die Heilige Gees. Hoe meer klippe (sondes) jy uitgooi, hoe meer plek is daar in jou lewensemmer vir die Heilige Gees, en hoe duideliker kan jy Hom hoor en ervaar. Sonder Jesus kan die Heilige Gees nie in jou lewensemmertjie wees nie. En sonder die inwoning van die Heilige Gees sal Jesus ook nie by jou wees nie, want Hulle is onlosmaaklik, saam met die Vader die enigste ware God. Kindskap van God en ‘n intieme, persoonlike verhouding met die Vader en die Seun is dus alleenlik moontlik wanneer die Heilige Gees jou onderrig. In hierdie noue geloofsverbintenis met Jesus Christus ondervind ek en jy as gelowiges die leiding en begeleiding van die Heilige Gees.

Gebed:

Here, help my asseblief om van daardie sondeklippe ontslae te raak sodat ek die Stem van die Heilige Gees duidelik in my lewe kan hoor.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026