Alwéér tronk toe!

22 November, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Alwéér tronk toe!

Handelinge 21:27-36

Die gillende, vuisswaaiende skare beur vorentoe, en die arme polisiemanne moet keer vir al wat hulle werd is om hulle in bedwang te hou. As hulle nie die vermeende misdadiger wat hulle gemeenskap so getreiter het in die hande kan kry nie, gooi hulle klippe, bakstene en alles wat kan seermaak in sy rigting, en die manne van die gereg moet koes vir ‘n vale. Hulle meen dat die man wat nou in die vangwa geboender word verantwoordelik is vir daardie misdaad, en hulle wil hom straf! Hulle het klaar besluit dat hy skuldig is, al het hy nog nie eers ‘n verhoor gehad nie. As dit nie vir die geregsdienaars was wat gekeer het nie, was hy dalk nou reeds met brandende motorbande om sy nek tereggestel.

Hierdie is ‘n alledaagse toneel waarvan ons in die koerante lees en feitlik daagliks op die nuus sien. Mense is keelvol vir misdaad, en dit dring hulle om dikwels baie onverantwoordelik op te tree deur iemand tereg te stel, dikwels onskuldig.

Maar dit is nie net die “gepeupel” wat mense so veroordeel nie, ek en jy is dikwels sélf skuldig daaraan! Die gerug doen dalk die rondte dat iemand verdink word van die een of ander ding, dalk ‘n skandaal of knoeiery of iets dergeliks, en dan besluit ons sommer dat hy skuldig is. Ongelukkig bly dit nie daar nie, en jou vermoedens word oorvertel, totdat dit algemene kennis is dat die arme persoon skuldig is. Sulke kwaadpratery het al baie skade berokken aan totaal onskuldige mense.

Maar kom ons gaan kyk ‘n bietjie wat met Paulus gebeur het. Lukas vertel dat hy na die tempel gegaan het om reëlings te tref vir sy reinigingsritueel en om die offer te betaal vir die vier mans wat die Nasareërgelofte afgelê het. Dit was in die tyd van die Pinksterfees, en daar was baie mense wat van heinde en verre gekom het om die fees by te woon. Paulus se ou “vriende” uit Asië wat hom al soveel hoofpyn besorg het was ook daar, en daar kry hulle toe amper ‘n hartaanval van skok toe hulle niemand anders nie as hulle ou vyand, Paulus, in die tempel sien. Hulle roep hulle volksgenote nader en gryp vir Paulus. Hulle het sommer aangeneem dat hy vir Trofimus, ‘n nie-Joodse gelowige, saam met hom die tempel ingeneem het. Só ‘n verskriklike oortreding het die doodstraf verdien! Paulus was egter onskuldig. Nogtans is hy hardhandig die tempel uitgesleep onder die voorwendsel dat hy die tempel verontreinig het. Binne ‘n oogwink is daar ‘n skare van jillende, vuisswaaiende Jode wat Paulus met alle mag wil doodmaak. Hy word geslaan en beskree, en die priesters moet inderhaas die tempeldeure sluit om te keer dat daar nie dalk ‘n moord gepleeg word binne die heiligdom nie. As hulle hom dan wil vermoor moet hulle dit immers buite die heilige tempel doen!

Die Romeinse kommandant, ‘n bevelvoerder oor 1000 man, kom gelukkig tot Paulus se redding en arresteer hom. Die skare is teen hierdie tyd so opgesweep dat die arme Paulus letterlik deur die soldate gedra moet word om hom te beskerm.

Wat het die man gedoen?” wil die offisier weet. Maar die lawaai is so oorverdowend dat hy nie eers kan agterkom waarvoor hy Paulus in hegtenis moes neem nie. Oor en oor en oor skree hulle: “Weg met hom! Weg met hom! Weg met hom!”

n Klompie jare vantevore het dieselfde woedende skare, opgesweep deur die Joodse Raad vir ‘n ander Man geskree: “Kruisig Hom! Kruisig Hom! Kruisig Hom!” Hy was óók onskuldig. En Hy is gekruisig…..

Paulus se prediking was beslis nie lippetaal nie. Hy het nooit weggeskram van die dinge wat moeilik is nie. Oor die afgelope paar maande het ons al telkemale gesien hoedat Paulus keer op keer in die leeu se bek inloop om die Evangelie te bring aan almal wat wil hoor, asook diegene wat níé wil hoor nie. Soveel male het hy al onskuldig in die tronk beland, en is hy verwerp, geslaan, met klippe gegooi. En as hy uit ‘n stad uitgedryf was, was dit net ‘n paar maande, dan was hy weer terug in dieselfde plek, ten spyte van die feit dat die mense hom verwerp het. Vir Paulus was die Evangelie, die blye boodskap van Jesus Christus se verlossing só belangrik dat hy willens en wetens van die gevare wat dreig, net eenvoudig voortgegaan het met sy prediking. Nee, lippetaal was dit beslis nie! Dit was die taal van sy hande en voete, ja van sy hele lewe.

Hoeveel opofferings is ek en jy bereid om te maak vir die uitbreiding van God se Koninkryk? Is ons werklik bereid om absoluut alles op die spel te plaas? Is ons bereid om ons reputasie, ons vryheid, gemak en vriende op te offer vir die Evangelie? Nie eers gepraat van ons vryheid en selfs ons lewe nie. Inderdaad is daar mense wat bereid is om absoluut alles op te offer vir die Evangelie. As jy luister na die verhale wat vertel word deur organisasies soos Geopende Deure, dan kom jy agter dat daar selfs vandag nog baie Paulusse is! Bid vir hulle! Hulle het ons gebede bitter nodig om staande te kan bly in die verskriklike stryd.

Gebed:

Here, my hart gaan vandag uit na elkeen wat gemartel en vervolg word ter wille van die Evangelie.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026