Alwéér Tronk Toe!

27 November, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Alwéér Tronk Toe!

Handelinge 21:27-36

VIDEO | OUDIO

Ons is al te dikwels baie gou om iemand wat verdink word van die een of ander misdaad te veroordeel en dan sommer die gerugte te versprei op sosiale media nog voordat ons die ware feite ken!

Paulus help vier manne om 'n Nasareërgelofte af te lê en betaal vir hulle offer tydens die reinigingshandeling. Dis Pinksterfees en daar is Jode van regoor die wêreld in Jerusalem om saam te kom feesvier. Onder andere is daar ook van Paulus se ou “vriende” uit Asië, daardie manne wat hom tydens sy sendingreise so baie gas gegee het! Hulle kan hulle oë nie glo as hulle vir Paulus in die tempel raakloop nie. Die manne kry amper 'n hartaanval van pure skok. “Dan was dit tóg Paulus wat een van die manne saam met 'n Griek hier in Jerusalem gesien het!” hyg een kêrel.

Ja, en hy het hom sékerlik in die tempel ingevat!”

En al die kennisgewings is hier baie duidelik selfs in Grieks en Latyn - slegs Jode mag die tempel ingaan!” kerm 'n ander Jood.

Paulus het wél saam met Trofimus, 'n Griek deur die stad gestap maar hy is dééglik bewus daarvan dat dit gróót sonde sou wees om 'n heiden in die tempel in te neem, hulle mag nie 'n tree verder as die voorhof gaan nie! Dus maak Paulus séker dat die manne saam met hom daar wegbly. Hy is dus totaal onskuldig aan die dinge wat hierdie omgesukkelde Jode hom hier toedig!

Die ontstoke Jode roep hulle volksgenote nader en dan neem hulle sommer aan dat Paulus die tempel verontreinig het met heidene. Hulle gryp hom en sleep hom hardhandig uit die tempel uit. Baie gou is daar 'n klomp nuuskieriges wat wil weet wat aan die gang is. Binne sekondes weet almal dat Paulus 'n baie ernstige misdaad gepleeg het en in 'n japtrap is daar 'n oproer! Binne 'n ommesientjie is die hele stad daar. Inderhaas sluit die priesters die tempeldeure om te voorkom dat die tempel nog verder ontreinig word deur 'n moord ook. Terwyl hulle vir Paulus wegsleep, slaan hulle hom pimpel en pers. Die gepeupel is woedend en Paulus kry géén kans om te verduidelik dat hy eintlik onskuldig is nie. Mense wil nie rede verstaan nie! Nou het hulle bloed geruik en hulle wil vir Paulus dáár en dan dood hê!

Intussen bereik die berig van die oproer die ore van die plaaslike kommandant in bevel van 1000 soldate van die Romeinse garnisoen, Klaudius Lisius. Die Romeine het 'n kaserne, Fort Antonia reg langs die tempel aan die noordwestelike kant van die tempel gebou. Daar was trappies af na die tempelterrein sodat hulle baie gou op die toneel kan wees as dinge dalk sou skeef loop. Die tempel was beskou as 'n brandpunt waar humeure baie gou kon opvlam en gróót moeilikheid kon uitbreek. Dis darem so tragies dat júís die plek waar liefde gekweek moes word, die plek was waar mense mekaar aan die keel gegryp het!

Wanneer die kommandant van die moeilikheid hoor, vat hy dadelik 'n afdeling soldate om die opstand in die kiem te smoor. Die Jode bedaar sommer dadelik as hulle die soldate aangehardloop sien kom. Paulus word in hegtenis geneem en geboei met twee kettings. Klaudius probeer nog uitvind wat hierdie arme drommel dan gedoen het dat die mense so kwaad is vir hom, maar die skare rumoer en skreeu só hard, dat die kommandant niks kan hoor nie!

Vat hom kaserne toe!” beveel hy sy soldate en hulle begelei Paulus na Fort Antonia. Die skare is egter só kwaad vir Paulus, dat die soldate genoodsaak is om hom na die kaserne te dra terwyl die skare woedend skreeu: “Weg met hom! Weg met hom!”

Nou het die uitsprake van Agabus en ander gelowiges almal waar geword. Maar Paulus skram nie vir één oomblik weg hiervan nie. Hy is bereid om die volle pad enduit te loop, al gebeur wát ookal!

Paulus se prediking was nie maar net lippetaal en mooi woordjies nie. Hy het gedoen presies wat hy gepreek het. Hierdie was die taal van sy hande en sy voete, inderdaad van sy hele lewe!

Ek en jy moet biddend sorg dat ons lewe ook, soos dié van Paulus, wys dat ons nie van vervolging sal wegskram nie. Vervolging is vandag gewoonlik baie meer subtiel as in Paulus se tyd. Dit is dikwels 'n sielkundige aanval wat poog om ons af te kraak. Dikwels kom dit ook in die vorm van leuens wat doelbewus versprei word. Wees bedag daarop en staan op vir die Here ten spyte van die aanvalle.

Nét voordat hulle hom die kaserne indra, draai Paulus na die kommandant en vra in suiwer Grieks vir hom: “Mag ek u iets vra?”

Klaudius steek in sy spore vas, geskok dat iemand uit hierdie geweste hom aanspreek in sy eie taal: “Ken jy dan Grieks?” wil hy weet. Nou is hy totaal oorbluf. Hierdie man is beslis nie 'n Jood nie en nog minder is hy 'n Egiptenaar! “Dan is jy nie die Egiptenaar wat in opstand gekom het nie?”

Hoeveel opofferings is ek en jy bereid om te maak vir die uitbreiding van God se Koninkryk? Is ons werklik bereid om absoluut alles op die spel te plaas? Is ons bereid om ons reputasie, ons vryheid, gemak en vriende op te offer vir die Evangelie? Nie eers gepraat van ons vryheid en selfs ons lewe nie. Inderdaad is daar mense wat bereid is om absoluut alles op te offer vir die Evangelie. As jy luister na die verhale wat vertel word deur organisasies soos Geopende Deure dan kom jy agter dat daar selfs vandag nog baie Paulusse is! Bid vir hulle! Hulle het ons gebede bitter nodig om staande te kan bly in die verskriklike stryd!

Gebed:

Here, my hart gaan vandag uit na elkeen wat gemartel en vervolg word ter wille van die Evangelie!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026