Ahasveros

21 April, 2020

Ester 1:1-8

Dit is die jaar 484 vC. Op die troon van die magtige Persiese Ryk sit die flambojante Koning Ahasveros, ook bekend as Xerxes 1. Dit is nou reeds sy derde jaar op die troon. Sedert die dinamiese koning Sirus die Grote 70 jaar tevore die troon van Persië bestyg het, het die ryk net teen ‘n angswekkende tempo uitgebrei totdat dit uiteindelik die wêreldryk van sy tyd geword het. Die ryk strek van Griekeland, reg om die Middellandse See tot by Egipte  en grens aan Indië in die ooste - waarlik ‘n magtige ryk! Ahasveros is nou al die vyfde koning wat sy sit kry op daardie gesogte troon in die hoofstad Susan.

In die eerste toneel van ons verhaal sien ons vir Ahasveros in al sy prag en praal. Vir ‘n volle ses maande lank word die stad opgetooi tot ‘n wonderwêreld van kleur en rykdom. Spierwit en bloedrooi linnedoeke word aan marmer pilare gedrapeer, versier en vasgemaak met pers linnetoue aan silwer ringe. Silwer en goue rusbanke versier die plaveisel - natuurlik géén vaal ou gewone plaveisel nie! Dit is kunstig uitgelê, en gekap uit verskillende soorte kosbare klip. Hier word voorberei vir ‘n fees van astronomiese omvang.

Die hoogtepunt van die fees is ‘n weeklange onthaal. Daar word géén koste en moeite ontsien nie. Wyn is daar in oorvloed, natuurlik slegs die heel beste vir die magtigste koning op aarde. En natuurlik word dit bedien in goue bekers wat spesiaal vir die geleentheid ontwerp is. Almal wat saakmaak is daar, al die hoë amptenare uit die Persiese ryk. En natuurlik is dit nie net die manne wat bederf word nie. Elders is  Koningin Vasti besig om haar eie ding te doen. Sy onthaal al die invloedryke vroue van die Persiese Ryk.

En die koning is baie vrolik, want die geselskap is goed en die wyn nog beter! ‘n Joviale losbol, hierdie gemoedelike koning wat so vryelik sy deure oopgooi vir al sy vername onderdane. Géén moeite word ontsien om hulle gelukkig te maak nie. En natuurlik om hulle guns te wen! Die paleisbediendes kry opdrag om sy gaste soos konings te behandel. Na al hulle wense moet omgesien word.

Gemoedelik, vrolik, vrygewig en joviaal, dis Ahasveros! Maar wees maar versigtig vir hom, moenie hierdie man op sy baadjie takseer nie. Hy is ‘n bitter gevaarlike man! Jy moenie in sy verkeerde boekies kom nie, want jy gaan beslis tweedebeste daarvan afkom! Boonop leen hy baie maklik sy ore uit aan ander invloedryke manne. Onwetend laat hy toe dat slinkse manne hom manipuleer, en dan vang hy dinge aan wat jou hare laat regop staan!

En dan is daar Ester, die beeldskone vroulike hoofrol in ons verhaal. Op die harde manier leer sy van haar verantwoordelikheid en om beheer te neem van ‘n situasie, selfs in die aangesig van die dood. As vrou sonder status of seggenskap, neem sy haar posisie in in ‘n wêreld gedomineer deur die magstrukture van mans. Soos ‘n Moses van ouds lei sy haar onderdrukte volk uit die verdrukking. Deur haar sagte woorde verander sy die gang van die geskiedenis. Dan is dit eintlik hierdie brose, sagte vrou wat in werklikheid die septer swaai in die koninkryk van hierdie gevaarlike koning Ahasveros.

Maar nou loop ek mos my storie ver vooruit......

Ons besef maar al te deeglik dat diegene met die leisels in die hand, die regeerders, mag het oor ander mense. Daagliks kry ons daarmee te doen. Die magsbehepte verkeersman wat die lewe vir jou bitter moeilik maak. En as hy boonop ‘n korrupte streep het, kan hy jou dalk selfs afpers om die verkeerde ding te doen. Dit is veral die groot leiers in Afrika wat ‘n geweldige mag het oor hulle onderdane. Selfs al stem hulle gladnie saam met sy beleid nie, sal hulle hom steeds volg tot die dood toe, omdat hy so ‘n geweldige houvas op hulle het.

Ons hele lewe word beheer deur wette en regulasies - sommige waarmee ons gladnie eers saamstem nie. Dikwels word daar wette gemaak wat gelowiges dwars teen die bors stuit. Dink maar aan die aborsiewet. Die vraag is, hoe hanteer ek dit? Goeie wette is tot almal se voordeel, maar hoe gemaak met wette wat nie tot eer van God is nie, of wat vir baie mense ‘n nadeel inhou? Wat maak ek en jy met sulke wette?

Jesus het ons geleer dat daar sekere dinge is waaraan jy nie gaan torring nie, al lyk hulle dalk vir jou bitter onregverdig. As die bombastiese soldaat met die mag in sy hand vir jou sê om sy pak ‘n myl ver te dra, dan doen jy dit met ‘n glimlag - bied selfs aan om dit twee myl ver te dra. En as die keiser sê dat jy belasting moet betaal, dan betaal jy sonder ‘n bohaai, al is hy ‘n heiden wat afgode aanbid.

Deur protesaksies en petisies en stakings jaag jy net die owerhede die harnas in. Selfs drastiese stappe soos ‘n eetstaking gee die manne net rede om jou te bespot en uit te lag.

Kom kyk saam met my hoe Ester ‘n netelige saak benader het. Die lewe van baie mense was op die spel, maar sy het ‘n plan gehad!

Gebed:

Here, dankie vir die mooi verhaal van Ester, en dat ek daaruit kan leer.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Getsemane
29 October, 2026
Die Wingerdstok
28 October, 2026
Die Paasmaal
27 October, 2026
Voorberei vir die Dood
26 October, 2026
Voetewas
23 October, 2026