Jakobus 4:13-5:6
Gister het ons gesien hoe maklik jy jou onafhanklikheid kan verloor. Vandag moet ons vra wat dit werklik beteken om in volle afhanklikheid van God te leef? Jakobus verduidelik vanoggend hoe jy dit NIE moet doen nie.
Die rykes het in daardie tyd volgens die genotsbeginsel geleef, waar die vervulling van hulle eie, selfsugtige begeertes die heel belangrikste was. Vir hierdie rykes was die materiële dinge so belangrik dat hulle nie eers ‘n gedagte gegee het aan die dieper geestelike dinge in die lewe nie. Hulle was in volle beheer van hulle eie lewens, tyd en lotgevalle en dan het hulle gespog oor die dinge wat hulle in beplanning gehad het en oor wat hulle van plan was om te doen of waarheen hulle volgende sou reis. Hulle het gespog oor hulle sakevernuf en die baie geld wat hulle gemaak het. Hoe hulle bedrywighede ander mense geaffekteer het, het hulle maar min geskeel!
Het dinge werklik verander oor die afgelope tweeduisend jaar? Ek dink ons kan maar net rondom ons kyk om te sien dat ons steeds met presies dieselfde probleem sit. Suid-Afrika is veral ‘n land van geweldige sosiale kontraste: aan die een kant kry jy die brandarmes, en aan die ander kant die stinkrykes. En die afgelope twee jaar se pandemie het dit net vererger! Daar is miljoene mense in ons land wat in die haglikste omstandighede leef, en nie weet waar die volgende stukkie droë brood vandaan gaan kom nie. En dan is daar talle mense wat nie die einde van hulle skatte ken nie, en in die grootste weelde leef.
Die vraag is of dit dan sonde is om ryk te wees? Met die eerste oogopslag lyk dit asof Jakobus wil sê dat dit wel sonde is. Wat dan van Job? Hy was dan so verskriklik ryk, en tóg het hy so naby aan God geleef! Dit maak dan mos nie sin nie?
Kom ons kyk ‘n bietjie mooi waaroor dit éintlik gaan in hierdie gedeelte.
Onafhanklikheid is ‘n baie mooi woord. Dit beteken dat jy nie gebonde is aan ‘n ander persoon of instansie nie. As ‘n klein landjie deur ‘n groot moondheid onderdruk word vir jare, en een dag besluit die onderdrukker om hulle vry te maak, dan is daardie nuwe onafhanklikheid wat hulle smaak heerlik soet! Nou kan hulle maak wat hulle sélf wil. ‘n Mens wil nie graag leef in afhanklikheid van iemand anders nie. As jy arm is, is jy gewoonlik afhanklik van ander mense se gunste en gawes, en dan moet jy maar maak soos húlle sê. Baie van die misdaad in ons land word bedryf onder hierdie beginsel. Diewe en kapers word in diens geneem deur sindikate, en hulle moet maak wat die grootbaas sê. Dikwels word dwelms ook op daardie manier ingespan om ‘n totale afhanklikheid van die sindikaat te verseker.
As jy egter ryk genoeg is, het jy nie nodig om afhanklik te wees van enigiemand nie, en jy kan basies maak wat jy wil. Dit is alles baie mooi en goed, maar daar is ‘n reuse prys wat jy moet betaal vir hierdie onafhanklikheid! Hoe ryker jy is, hoe groter raak jou verantwoordelikheid en hoe moeiliker raak dit om naby God te leef. ‘n Arm gelowige besef elke oomblik van die dag sy afhanklikheid van God, want sonder die sorg van die Here kan hy nie oorleef nie. As jy ryk is, dan is daar nie die bekommernis oor waar die volgende ete vandaan gaan kom, en of jy ooit môre nog ‘n dak oor jou kop gaan hê nie. Dit word dan só maklik om te vergeet waar jou rykdom eintlik vandaan kom en dat dit eintlik alles slegs God se genade is! Dit word dan só maklik om te beplan wat jy volgende gaan doen, dat jy baie maklik vir God uit jou beplanning kan weglaat. Wanneer jy met jou kop in die wolke leef, is dit so maklik om die ou kleintjies daar onder totaal te vergeet en as hulle onder jou voete beland, hulle net eenvoudig te vertrap.
Inderdaad ken ek skatryk mense wat só behep geraak het met hulle aardse skatte dat hulle totaal van God en hulle medemens vergeet het. Aan die ander kant ken ek skatryk mense wat diep gelowig gebly het en in totale, nederige afhanklikheid van God leef. Dit is beslis nie ‘n maklike pad nie en so ‘n mens moet tienkeer so hard werk aan sy geloofslewe as die arm man. Vir iemand wat kan bekostig om die lewe ten volle te geniet en hom te enige tyd te kan oorgee aan wêreldse genot is dit soms bitter swaar om nee te sê daarvoor. En vir so ‘n persoon om homself te verneder om op die vlak van die eenvoudige arme te kom is ewe moeilik. Ja, soos wat armoede skielik vir Job getref het, so moet die ryk gelowige ook gedurig leef met die gedagte dat sy rykdom in ‘n oogwink van hom weggeneem kan word. Die onsinkbare Titanic met al sy rykdom aan boord het binne ‘n uur totaal vergaan. Alles was verlore!
As jy dalk ryk is - moenie saam met jou rykdom sink nie. Deel dit met die behoeftiges voordat dit te laat is, en besef jou totale afhanklikheid van God.
Gebed:
Maak my asseblief elke oomblik van die dag bewus van my totale afhanklikheid van U, Here.