Adam en Jesus

28 June, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Adam en Jesus

Romeine 5:12-21

n Paar jaar gelede het Pik Botha op TV ’n gesprek gevoer met Steven Hawking, die Einstein van die moderne tyd. Pik se vraag aan hom was, wat met jou selfbewussyn gebeur wanneer jy sterf? Die antwoord van hierdie briljante fisikus wat alles weet van die kosmologie, vergelyk die mens met ‘n rekenaar: “Ek glo nie in ’n hemel vir rekenaars nie. Die ewige lewe is ’n feëverhaal vir mense wat bang is vir die donker."

Hoe skrikwekkend, aaklig verras gaan Steven Hawking nie eendag wees nie! En saam met hom gaan daar ‘n menigte ander wees wat die boodskap van die evangelie helder en duidelik gehoor het, maar die “belaglikheid” daarvan uitgelag het. ‘n Man sê eendag vir my dat die boodskap wat die Bybel uitstuur tog totaal onmoontlik is, byvoorbeeld die gedagte dat God alomteenwoordig is. “Hoe kan ek glo in ‘n God wat as onmoontlik beskryf word?”

Inderdaad is God heeltemal te groot en onbeskryflik vir ons nietige gedagtetjies om te begryp, selfs te groot vir die verskriklike slim Steven Hawking! Omdat die skepping totaal onverstaanbaar is, sê hy dat dit maar net gebeur het. Die heelal het maar "toevallig" ontstaan tydens die oerknal!

Snert! Die skepping (God se skepping!) was die grootste wonderwerk waaroor ons óóit kan droom!

Maar daar het ‘n tweede groot wonderwerk plaasgevind, een wat soos ‘n duiselingwekkende bergspits uitstaan in die geskiedenis van die heelal. Ek praat van die wonder van God se versoeningsdaad op Golgota. Ons kan dit met reg beskou as die tweede skepping, want op hierdie dag het God vir die ganse mensdom vryspraak geskep.

Een van die belangrikste elemente van die eerste skepping was die mens, Adam. Hy sou die vader word van baie nasies, en sekerlik een van die belangrikste sleutelfigure in die mens se geskiedenis. Daar is egter ‘n baie groot ooreenkoms, maar ook baie prominente verskille tussen die resultate van hierdie eerste “skeppingsmens” en dié van Jesus tydens die “tweede skepping”:

Adam bewerkstellig straf vir die mensdom terwyl Jesus redding bewerkstellig.

Adam veroorsaak (doen) sonde, maar Jesus veroorsaak (gee) genade.

Adam is die oorsaak van dood; Jesus gee die ewige lewe.

Adam haal die mensdom se veroordeling op die hals; Jesus koop vir die mensdom vryspraak (bitter duur!)

Adam veroorsaak vyandskap tussen God en die mens; Jesus bewerkstellig versoening.

Adam verval in ongehoorsaamheid, en sleep sy nasate saam, maar Jesus lei die mens tot gehoorsaamheid.

Inderdaad was Adam ‘n baie belangrike persoon in die geskiedenis, maar Christus se verteenwoordiging het soveel meer vir jou bereik as Adam s’n. Paulus doen groot moeite om hierdie feit te beklemtoon. Dink net: watter dinge sou baas wees in jou lewe as Jesus jou nie aan die kruis verteenwoordig het nie? Dalk is daar nog van Adam se nalatenskap oor in jou lewe, maar deur Christus is hulle nie meer baas van jou lewe nie.

Dikwels voel dit vir my asof Adam se optrede nog oor my lewe regeer. Iemand skryf eenmaal vir my hoedat sy lelike dinge kwytgeraak het wat haar kleinkinders in skok laat weghardloop het. Ja, sulke dinge gebeur! Sy skryf dat sy egter later aan hulle erken het dat sy verkeerd was. Wanneer Christus in jou lewe is, het die veel ryker en sterker gevolge van Sy optrede, die oorhand in jou lewe, sodat jy selfs jou foute kan erken en bely. Die feit is dat ‘n mens se sekerheid nie lê in die huidige toestand van jou lewe nie. As dit die geval was, sou ons almal verlore wees. Jou sekerheid lê in wat Jesus vir jou bereik het deur Sy groot versoeningsdaad.

Steven Hawking en Albert Einstein het albei ‘n ongelooflike insae gehad in die werking van die heelal en die geskiedenis van die kosmos. Hulle het die wonder van God se skepping verstaan soos min mense ooit. Hawking kon die God van die skepping nooit daarin herken nie, maar Einstein het wél die eer aan God gegee. Hulle was die meesterbreine agter verbysterende teorieë. Maar die waarheid van God se vryspraak deur Jesus Christus was vir beide van hulle totaal onbegryplik. Moontlik was dit vir hulle net te eenvoudig!

Paulus was ook ‘n hoogsgeleerde man, en ek dink ons kan hom vandag op dieselfde vlak stel as Einstein en Hawking. Een baie groot verskil is egter dat Paulus dít raakgesien het wat daardie geleerde manne totaal misgekyk het: Hy het naamlik raakgesien dat God ‘n mens deur die rykdom van Sy genade tot geloofsekerheid lei, en dat daar ‘n onuitputlike bron van genade en liefde is waaruit ons elke dag met sekerheid kan leef. Met God se genade kan jy ook vandag jou lewe in Sy hande plaas en vrede hê.

Gebed:

Here, ek loof en prys U vir die groot genade wat U ook aan my bewys het.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026