Romeine 5:12-21
‘n Paar jaar gelede het Pik Botha op TV ’n gesprek gevoer met Steven Hawking, die Einstein van die moderne tyd. Pik se vraag aan hom was: "Wat gebeur met jou selfbewussyn wanneer jy sterf?" Hierdie briljante fisikus wat alles weet van die kosmologie, antwoord vir Pik: "'n Mens is maar dieselfde as ‘n rekenaar en ek glo beslis nie in ’n hemel vir rekenaars nie! As jy sy prop uittrek is hy morsdood! Die ewige lewe is maar net ’n feëverhaal vir mense wat bang is vir die donker."
Hoe skrikwekkend, aaklig verras gaan Steven Hawking nie eendag wees nie! En saam met hom gaan daar ‘n menigte ander wees wat die boodskap van die evangelie helder en duidelik gehoor het, maar die “belaglikheid” daarvan uitgelag het. ‘n Man sê eendag vir my: "jy beweer dat God alomteenwoordig is - dis tog totaal onmoontlik! Hoe kan ek glo in ‘n God wat as onmoontlik beskryf word?”
Inderdaad is God hééltemal te groot en onbeskryflik vir ons nietige verstandjies om te begryp, selfs té groot vir die verskriklike slim Steven Hawking! Omdat die skepping totaal onverstaanbaar is, was sy bewering dat die heelal maar net "toevallig" ontstaan het tydens die oerknal!
Snert! Die skepping - Gód se skepping - was die grootste wonderwerk waaroor ons óóit kan droom!
Maar daar het ‘n tweede groot wonderwerk plaasgevind, een wat soos ‘n duiselingwekkende bergspits uitstaan in die geskiedenis van die heelal. Ek praat van die wonder van God se versoeningsdaad op Golgota. Ons kan dit met reg beskou as die tweede skepping, want op hierdie dag het God vir die ganse mensdom vryspraak geskep!
Een van die belangrikste elemente van die eerste skepping was die mens, Adam. Hy sou die vader word van baie nasies en sekerlik een van die belangrikste sleutelfigure in die mens se geskiedenis. Daar is egter ‘n baie groot ooreenkoms, maar ook baie prominente verskille tussen die resultate van hierdie eerste “skeppingsmens” en dié van Jesus tydens die “tweede skepping”:
Adam veroorsaak straf vir die mensdom - Jesus bewerkstellig redding.
Adam doen sonde - Jesus bewerkstellig genade.
Adam is die oorsaak van dood - Jesus gee die ewige lewe.
Adam veroorsaak veroordeling - Jesus koop vir die mensdom vryspraak (teen 'n reuse prys!)
Adam veroorsaak vyandskap tussen God en die mens - Jesus bewerkstellig versoening.
Adam verval in ongehoorsaamheid en sleep sy nasate saam - Jesus lei die mens tot gehoorsaamheid.
Inderdaad was Adam ‘n baie belangrike persoon in die geskiedenis maar Christus se verteenwoordiging het soveel meer vir jou bereik as Adam s’n. Paulus doen groot moeite om hierdie feit te beklemtoon. Dink net: watter dinge sou baas wees in jou lewe as Jesus jou nie aan die kruis verteenwoordig het nie? Daar is sekerlik nog van Adam se nalatenskap oor in jou lewe, maar deur Christus heers hulle nie meer oor jou nie!
Dikwels voel dit vir my asof Adam se optrede nog oor my lewe regeer. Iemand skryf eenmaal vir my hoedat sy lelike dinge kwytgeraak het wat haar kleinkinders in skok laat weghardloop het. Ja, sulke dinge gebeur! Sy skryf dat sy egter later aan hulle erken het dat sy verkeerd was. Wanneer Christus in jou lewe is, het die veel ryker en sterker gevolge van Sy optrede, sodanig die oorhand in jou lewe dat jy selfs jou foute kan erken en bely. Jou sekerheid lê egter nie in die huidige toestand van jou lewe nie. As dit die geval was, sou ons almal verlore wees. Jou sekerheid lê in wat Jesus vir jou bereik het deur Sy groot versoeningsdaad.
Steven Hawking en Albert Einstein het albei ‘n baie besonderse insae gehad in die werking van die heelal en die geskiedenis van die kosmos. Hulle het die wonder van God se skepping verstaan soos min mense ooit. Hawking kon die God van die skepping nooit daarin herken nie, maar Einstein het wél die eer aan 'n panteïstiese god gegee. Hulle was die meesterbreine agter verbysterende teorieë. Maar die ware God en verál die waarheid van God se vryspraak deur Jesus Christus was vir beide van hulle totaal onbegryplik. Moontlik was dit vir hulle net té eenvoudig!
Paulus was ook ‘n hoogsgeleerde man en ek dink ons kan hom vandag akademies op dieselfde vlak stel as Einstein en Hawking. Een baie groot verskil is egter dat Paulus dít raakgesien het wat daardie geleerde manne totaal misgekyk het: Hy het naamlik raakgesien dat God ‘n mens deur die rykdom van Sy genade tot geloofsekerheid lei en dat daar ‘n onuitputlike bron van genade en liefde is waaruit ons elke dag met sekerheid kan leef. Met God se genade kan jy ook vandag jou lewe in Sy hande plaas en vrede hê!
Gebed:
Here, ek loof en prys U vir die groot genade wat U ook aan my bewys het!