Aanvaar Mekaar

23 August, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Aanvaar Mekaar

Romeine 14:1-12

VIDEO | OUDIO

Opgewonde stap ek die oggend die kerk binne. Ek het met die druiwerankie langs gehoor dat die voorsang by die erediens vir die eerste keer die oggend met kitaarbegeleiding gedoen sou word. My hart klop sommer vinniger as die briljante musikant sy verskyning maak met kitaar in die hand. Met groot entoesiasme spoor hy die gemeente aan tot lofprysing en ek is seker die engele in die hemel sing saam!

Maar alles is nie pluis in die paradys nie. In die ouderlingsbanke sit ‘n omie wat borrel en kook. Uiteindelik kan hy dit nie meer hou nie en hy spring op en storm die kerk luidrugtig uit terwyl hy hardop iets mompel van ‘n “sirkus” en “heiligskennis”. Soos ou Genis van Koöperasiestories destyds is hy diep, diep beswaard oor hierdie nuwe onheilige instrument wat nou die heiligdom van die kerk ingesmokkel word!

My eerste reaksie was om die man net daar en dan te veroordeel. Hoe kan iemand so kleingeestig wees? Wat is verkeerd met ‘n kitaar? Hy is erg verkramp, dis al! Dit het baie mooipraat en soebat gekos om hierdie geskil in die kerk op te los, want mense het kant gekies. Sommige (waarvan ek een was) was verheug oor ‘n vernuwing maar ander het gevoel dat dit nou darem ‘n bietjie dik vir ‘n daalder is en skielik is die gemeente in twee kampe en die arme dominee moet vure doodslaan!

In Rome was daar ook verdeeldheid: in die een hoek het die Joodse gelowiges gesit. Húlle was van mening dat daar spesifieke heilige dae was wat onderhou móés word en dat jy aan varkvleis nie mag proe nie! Hulle het ‘n swetterjoel reëls en regulasies vir die geloof gehad. In die ander hoek was daar natuurlik die gelowiges uit die heidennasies wat bloot die vryspraak van Jesus aanvaar het sonder enige voorbehoud. Vir húlle was al hierdie Joodse fieterjasies pure onsin. Die Jode wou hierdie “losbandige” klomp probeer bekeer en op húlle beurt het hulle weer probeer om die Jode van hulle verkramptheid te verlos. En daar raak die hele klomp aan die stry en die arme Paulus moet vure doodslaan!

Vandag kom hierdie soort verskille nog stééds hard en duidelik voor in baie gemeentes. Ek voel dit kort-kort aan my eie baadjie met die skryf van hierdie dagstukkies want as ek per ongeluk iets skryf wat iemand se geloofsoortuiging raak, dan word ek gelooi! Ek moet bitter versigtig wees wat ek sê want ek skryf vir mense wat wyd-uiteenlopende geloofsoortuigings het.

Selfs binne denominasies, soos byvoorbeeld die NG Kerk, kom daar dikwels groot verskille voor tussen verskillende gemeentes. In Ballito, wat ‘n vakansiedorp is, is die kleredrag in die kerk redelik informeel, veral met vakansietye. In ander gemeentes sal ek weer baie skeef aangekyk word as ek die kerk instap en ek dra nie ‘n pak klere en ‘n das nie. In sommige gemeentes is die enigste manier van begeleiding wat toegelaat word die statige ou orrel, terwyl ander weer vrolik en opgeruimd saam met ‘n alternatiewe begeleiding sing. Sommige gemeentes word deur die ander uitgekryt as “verkramp”, terwyl hulle weer op hulle beurt die ander klomp beskuldig dat hulle “liberaal” is. Wie is reg? Kies jy dalk ook kant? Maar Paulus skreeu: “Hokaai! Stop die lôrrie! Laat los daardie nuttelose gestry!

Paulus pleit in vanoggend se Skrifgedeelte dat ons mekaar moet aanvaar. Ons het by ‘n paar geleenthede in Ballito interkerklike dienste gehou. Vir my as stoere NG lidmaat was dit ongemaklik en vreemd wanneer almal gelyktydig hardop begin bid of wanneer mense in die kerk ronddans. Vir hulle was dit weer sekerlik ewe ongemaklik wanneer ons stywenek klomp alles stil en stemmig probeer hou. Maar ons gun mekaar hulle verskillende aanbiddingsmaniere. Ons moet probeer om op alle terreine ons verpligtinge as gelowiges teenoor mekaar na te kom sonder om voorwaardes te stel dat sekere “probleme” eers opgelos sal word. Daar is sekere kantlynsake waaroor gelowiges nooit sal saamstem nie!

Waarom moet ons mekaar aanvaar soos ons is? In die eerste plek omdat God ons almal aangeneem het MET FOUTE EN AL! Dieselfde genade wat aan my bewys is, is ook aan jou bewys, al verskil ons. En niks kan ons van Jesus se liefde skei nie, nie eers ons menings nie! Boonop glo ek met my hele hart en siel en verstand dat die Heilige Gees wat binne-in my woon, my lei. Lei Hy jóú as gelowige nie ook nie? Natúúrlik! En so ook die ander gelowiges, waarvan sommige radikaal van my en jou verskil. Hoe durf ek dan sê dat hy of sy verkeerd is! Al stem ons nie saam oor sekere standpunte nie, het ons één gemeenskaplike doel, naamlik om God te verheerlik. Nog meer: Hy verheerlik Homself deur óns!

Laastens kan ons net sê dat ek en jy nie gemagtig is om enigiemand te oordeel nie. Alleen God is bevoeg om te kan oordeel. Kom ons vat dus mekaar se hande in liefde, al verskil ons ook.

Gebed:

Here, hou asseblief my oog gevestig op U alleen sodat ek verby die verskille kan kyk en U in my medegelowiges sal raaksien!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026