144’000

9 September, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie 144’000

Openbaring 7:1-8

Kyk die Video

Twee-twee kom hulle die straat afgestap, ‘n pakkie pamflette in die hand wat hulle van huis tot huis uitdeel. Hulle klop aan my voordeur, en voordat ek nog ‘n dwars woordjie kan inkry, vra hulle die vraag wat hulle die afgelope week geleer het: “Wat dink jy van die huidige situasie van aardverwarming? Waar gaan dit eindig?” Eintlik stel hulle nie die minste belang in my opinie nie, maar dis net ‘n aanknopingspunt om ‘n voet in die deur te kry. En natuurlik word alles haarfyn uiteengesit in die pamflet wat hulle die week verkoop of weggee. Voordat ek nog kan sê dat ek nie belangstel in hulle propaganda nie, nooi hulle sommer hulleself binne, en neem die gesprek oor.

Maar dan speel ek my troefkaart: “Onthou julle vir Oom Gert?” Uiteindelik het ek ‘n woordjie ingekry toe die vrou asemskep. Natuurlik onthou elke Jehovah’s Getuie vir Oom Gert, want hy was een van die “heilige” manne onder hulle, en baie hoog gerespekteer. Toe hy nog die aarde bewandel het, was Oom Gert en my pa broers. “Oom Gert was my oom, en hy het dikwels by my tuisgegaan wanneer julle konferensies in Durban hou, en ons het baie diep gesprekke gevoer. Hy kon my nog nooit van julle geloof oortuig nie! Hoe sal júlle dit dan ooit regkry?” En daarmee draai hulle dan gewoonlik teleurgesteld om en loop druipstert weg. Sien, Oom Gert, so glo hulle, is een van die 144’000 uitverkorenes, moontlik die héél laaste een ooit! Want die getal is afgesluit. Niemand kan verder nog in die Hemel kom nie!

Openbaring 7 was al vir baie mense ‘n groot probleem. As daar dan uit al die biljoene Christene maar net 144’000 is wat die saligheid kry, dan is dit mos ‘n ramp! Waar pas ek dan in? Help dit dan ooit dat ek nog probeer om vir God te lewe?

In Johannes se visioen is die vernietiging van die aarde op hande, en die engele wat dit moet voltrek staan gereed. Maar eers moet hulle wag sodat die uitverkorenes ‘n seël op die voorkop kry. Hierdie seël is ‘n simboliese merk om te sê dat hulle eg is, en aan God behoort. Later sien ons dat die ongelowiges ook ‘n soortgelyke simboliese merk kry. Johannes verneem dat daar 144’000 mense is wat die seël kry. Maar wat beteken dit? Waarom so ‘n snaakse getal?

Hier is een verduideliking, wat die simboliese samestelling van die getal 144’000 verduidelik.

Ons begin met die getal 3, wat dui op die Drie-eenheid van God. Tweedens die getal 4 wat dui op die hele skepping, die 4 windrigtings van die aarde. Vermenigvuldig die twee met mekaar, en jy kry die getal 12. Wanneer die Drie-eenheid die verlossingswerk op aarde voltooi, vind ons in die Ou bedeling die 12 aartsvaders en in die nuwe bedeling die 12 Apostels. Om nou by die Kerk van die Ou en die Nuwe bedeling uit te kom, moet die twaalftal met 12 vermenigvuldig word = 144. Ons lees ook later in Openbaring 21 van die Nuwe Jerusalem met 12 poorte met die name van die 12 stamme en 12 fondamente met die name van die 12 Apostels daarop geskrywe. Om daarop klem te lê dat die Kerk in sy totaliteit, volkomenheid, met ander woorde die strydende kerk op aarde en die triomferende kerk in die Hemel bedoel word, word 144 met 10x10x10 (‘n volkome kubus) vermenigvuldig, wat dui op dubbele volkomenheid.

Wanneer Johannes dus hoor van die 144’000 verseëldes, dan is dit die totale Strydende Kerk op Aarde, uit die Ou sowel as die Nuwe bedeling, al die dienaars van God. Hulle is wél onderworpe aan die groot verdrukking, vervolging en lyding, maar hulle bestemming is gewaarborg, al is die reis ook hoe onstuimig. God verseker dat elkeen wat aan Hom behoort, nie alleen staande sal kan bly gedurende die voltrekking van Sy verskriklike oordele oor die Goddeloses nie, maar ook Oorwinnend sal triomfeer in die NAAM van die LAM.

Johannes word meegedeel dat die 144’000 uit twaalf stamme bestaan. Maar as ons mooi kyk, sien ons ‘n paar onreëlmatighede in die samestelling van die stamme. Waarom?

Juda en nie Ruben nie (oudste seun) verskyn bo aan die lys. WAAROM? Omdat Jesus Christus uit die stam van Juda gebore is. Manasse en Josef is by die lys ingesluit, maar Dan en Efraim is weggelaat, waarskynlik vanweë hulle latere afgodediens. Dit is dus duidelik dat ons die verseëldes uit die 12 stamme nie letterlik kan interpreteer nie, maar dat hierdie stammelys wys op die simboliese Volk van God, die Kerk van Christus as die Nuwe Israel, die Nuwe Volk van God van die eindtyd, wat die Nuwe Uittog na die Nuwe Jerusalem onderneem.

Die vraag is dus: is ek en jy, die gelowiges deel van daardie 144’000? En die antwoord is ‘n onomwonde “Ja! Verséker!”

Gebed:

Dankie Here, dat ek, en saam met my ‘n reuse skare van gelowiges, U seël op ons voorkoppe kry, en dat ons bemoedig en vertroos kan word dat U ons staande hou deur die groot verdrukking. Dankie dat U ons uitverkies het.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026