Alweer Petrus!

23 June, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Alweer Petrus!

Galasiërs 2:11-14

Video

Oudio

Ek het jare gelede vir Jan leer ken, 'n wonderlike mens, nederig, vriendelik en altyd daar wanneer jy hom nodig het. Niemand was ooit benede hom nie, en jy kon jou donkerste geheime aan hom toevertrou want jy het geweet dat dit by hom veilig is. In kort: ‘n ware Christen wat in Jesus se voetspore gevolg het. Op 'n mooi dag kry Jan 'n oproep. Hy word 'n fantastiese aanstelling aangebied, een waarvoor hy net eenvoudig nie kon nee sê nie. En so is hy weg.

Jare het gekom en jare het gegaan. En toe, eendag, klim hierdie Blink Stefaans uit sy spoggerige motor en ek gaap hom oopmond aan. En skielik herken ek hom: Maar dis mos Jan! “Jan, waar val jy uit?” Ek is oorstelp van blydskap. Ons gaan drink ‘n koffietjie êrens in ‘n kafee en gesels ‘n hond-uit-’n-bos-uit. Maar weldra kom ek agter dat Jan van ouds nie meer is nie. Hierdie nuwe Blinkjan is propvol van homself, en hy stel skaars belang in my of enigiemand anders. “Wat’s fout, Jan?” wil ek uiteindelik weet.

Nee, niks”, wil hy voorgee, “kannie beter nie!” Maar ek kan sommer sien dat Jan êrens langs die pad iets verloor het. Daardie nederigheid, die passie vir mense, die liefde vir God, dit is nie meer daar nie. Dit is met ‘n swaar hart wat ek totsiens sê, want Jan is dood. Die ou Jan wat ek onthou is nie meer nie.

Deur die jare het ek talle mense leer ken wie se harte brandend was vir die evangelie, maar om die een of ander rede geblus is. Wat maak dat mense wegdryf van die heel belangrikste in die lewe? Sonde! Sonde kom in vele monderings, en jy moet elke oomblik van die dag bly waak daarteen, want sonde dryf ‘n wig in tussen jou en Jesus, en dit maak dat jy jou passie verloor, soos wat met Jan gebeur het. Was dit sy rykdom en sukses wat hom hoogmoedig gemaak het? Het hy dalk bloot nie meer tyd gehad vir God nie? O ja, hy was steeds betrokke by die kerk en hy was voorsitter van elke kommissie en bedrywigheid wat verdienstelik was, maar dit was net ‘n masker.

Is ek en Jan nie dalk een en dieselfde mens nie?

Paulus vertel van ‘n man wat ook verander het, ‘n man vir wie ek baie respek leer kry het: Petrus. Ek onthou Petrus as die heethoofdige dissipel wat gepraat het voor hy gedink het, die man wat vir niks bang was nie. Was hy nie die een wat in die stormagtige see gespring het en op die water geloop het na Jesus toe nie? Ag, en toe begewe sy moed hom toe hy die reuse branders sien!

Petrus was die een wat vir Jesus verseker het dat hy deur dik en dun by Hom sou staan, ja dat selfs die dood hom nie sou skrikmaak nie. Slegs enkele ure later, doodbang vir ‘n diensmeisie, lieg hy dat hy nog NOOIT vir Jesus geken het nie. Na Pinkster het ons ‘n totaal ander Petrus leer ken. Skielik styg hy uit as ‘n leier van die kerk soos daar nog nooit was nie. Onverskrokke het hy selfs die Joodse Raad aangevat, want sy passie vir die evangelie was onblusbaar. Hy was bereid om sy diepgewortelde Joodse tradisies totaal opsy te skuif sodat mense Jesus in hom kon sien. Was Petrus nie brándend vir die evangelie nie!

En nou kom Paulus, en hy vertel van die “ander” Petrus, ‘n Petrus wat weer bang geword het vir die golwe, bang vir die diensmeisie. Hierdie keer was dit nie seegolwe nie of die diensmeisie van die Hoëpriester nie. Nou was Petrus bloot bang vir Jode wat neus-in-die-lug op die nie-Joodse Christene neergekyk het. Skielik het hy begin vergeet van die “ander” mense in die gemeente, en het hy begin kliek met die Jode. Hy was tog immers sélf ‘n Jood!

Het Petrus begin hoogmoedig raak? Het sy passie vir die evangelie begin verflou? Het Jesus dalk nie meer die plek in sy lewe ingeneem wat Hy vroeër ingeneem het nie? Het die suksesse wat hy behaal het, deur “hoof” van die kerk te wees, dalk na sy kop gegaan? Het hy miskien terug verlang na sy ou Joodse lewe? Of was daar dalk ander dinge wat Petrus verlei het? Ons sal nie weet nie. Wat ons wel weet is dat hierdie “afdwaal” van Petrus dalk die “verkramptes” wat nou besig was om moeilikheid te maak in Galasië, die nodige hupstoot gegee het om hulle ding te doen.

Ek en jy moet baie mooi luister na wat Paulus hier vertel, en gedurigdeur selfondersoek doen, of ons nie dalk besig is om dieselfde paadjie as Petrus te loop nie, dalk net op ‘n ander spoor. Is daar dinge in my lewe wat besig is om ‘n muur te bou tussen my en Jesus? Is daar dalk iets wat verhoed dat ek met dieselfde passie my liefdeswerk kan voortsit? Het iemand dalk iets gesê wat my vies of seergemaak het, en nou loop ek met opgekropte gevoelens wat my Christenskap vertroebel in plaas van om te vergewe en te vergeet? Het ek dalk bloot lui geword, of gemaksugtig, of hoogmoedig of te ryk of te verhewe bo die “gepeupel”?

As ons besig is om weg te dryf, dan het dit tyd geword dat ons biddend die wil van God opsoek!

Gebed:

Here, waar ek dikwels so van U af wegdryf, smeek ek dat U my hand styf vashou en my terug trek na U toe.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Hy Leef!
30 April, 2024
Kruisig Hom, Kruisig Hom!
29 April, 2024
Petrus se Verraad
26 April, 2024
Hosanna, Hosanna!
25 April, 2024
Nasaret Verwerp Jesus
24 April, 2024