Bybelse Tevredenheid

16 April, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Bybelse Tevredenheid

1 Timoteus 6:3-16

Wat is die primêre motief agter jou betrokkenheid in die gemeente? Dis nou ‘n baie snaakse vraag om te vra! Maar dis nie so ‘n voor-die-hand-liggende vraag nie. Hulle sê dat Godsdiens een van die mees winsgewende besighede op aarde is, en dat daar evangeliste is wat stinkryk geword het uit hierdie bedryf.

Maar kom ons begin voor: Paulus was bewus van die feit dat daar in Efese mense was wat geldelike voordeel uit Godsdiens wou put. Ons moet dit nie hier verwar met ’n behoorlike vergoeding vir predikers, soos wat ons in ’n vorige dagstukkie gesien het nie. In daardie tyd was daar rondreisende filosowe wat onderrig gegee het, en goed geld gemaak het daaruit. Evangeliste het hierdie gaping gesien, en ook in daardie winsgewende bedryf ingeklim, dié slag met die Evangelie. Hulle primêre doel was nie om die Evangelie te verkondig nie, maar om geld te maak, en dit is waar die probleem ingekom het. Hulle motiewe was totaal verkeerd!

Wanneer ons met die verkeerde motief by Godsdiens betrokke raak, dan is die simptome gewoonlik twis, jaloesie en beledigings wat rondgeslinger word. “Ek is die enigste een wat die volle waarheid het, en al die ander gaan verlore!” is gewoonlik die boodskap van so ‘n persoon, en hy het ‘n obsessie om altyd reg te wil wees. Mettertyd begin hy Jesus Christus, die Een wat die sentrale punt van sy boodskap moet uitmaak, na die kantlyn skuif. Jesus is nie meer die boodskap van verlossing nie, maar sy ideologie word sy boodskap van verlossing.

In verband met wat ons hier bo gesê het, moet ons ook byvoeg dat rykdom gevaarlik kan wees. Paulus sê dit baie duidelik in vers 9. Nee, dit is nie ‘n sonde om ryk te wees nie! Ek ken pragtige gelowiges wat skatryk is, en terselfdertyd hulle geloof ten volle uitleef. Rykdom wemel egter van allerhande soorte versoekinge, en die ryk persoon moet daarom tien keer so hard werk aan sy geloof as die arm persoon. Die probleem is dat as jy ryk is dan kan jy bekostig om jou oor te gee aan die versoekinge wat die wêreld bied - peperduur dobbelplekke, bandelose partytjies en nog baie meer. ‘n Ander, dalk nog groter gevaar is die een van geldgierigheid. Iemand wat baie het, is gewoonlik nie tevrede met wat hy het nie, en dit word naderhand ‘n obsessie om meer en meer te kry. In die proses gee hy naderhand nie meer om op wie se kop hy trap om héél bo uit te kom nie. “Geldgierigheid is die wortel van allerlei kwaad,” sê Paulus in vers 10. Die grootste gevaar daaraan verbonde is dat die obsessiewe najaag van geld ‘n mens uiteindelik jou geloof kan kos. Ek het al self gesien hoe verwoestend so ‘n obsessie kan word.

In teenstelling hiermee, moet jy tevrede wees met wat jy het, al is dit net die klere aan jou lyf, en ‘n ietsie om te eet. As jy God met die regte motief dien, sal jy tevrede wees met jou besittings. Hier moet ons dalk onderskei tussen ‘n Bybelse en on-Bybelse tevredenheid. Wanneer iemand bloot lui en sonder ambisie is, is dit 'n onbybelse tevredenheid. So 'n persoon gaan sit gewoonlik op ‘n hopie en doodgaan, en hy benut nie die gawes wat die Vader hom gegee het nie. Lees maar in Matt. 25 wat Jesus vertel het van die diensknegte wat die talente gekry het om mee te woeker. Ware Bybelse tevredenheid is om ten volle te vertrou dat jy deur Jesus ‘n kind is van die Vader, en dat Hy daarom geestelik en liggaamlik vir jou sorg. Uit dankbaarheid daarvoor, kom jy pligsgetrou jou roeping na. Die voordeel is dat jy nou kan fokus op die regte verhouding met die Here, en dat die sorge van die lewe jou nie hoef onder te kry nie. Natuurlik beteken dit nie dat jy maar net bakhand sal gaan staan en wag vir manna om uit die hemel te val nie! Hy het jou immers talente gegee om jouself mee te onderhou, en jy durf nie jou talente verwaarloos nie!

Paulus beskryf die stryd om Bybelse tevredenheid as ‘n wedloop in vers 12. Dit is ‘n wedloop wat deur God uitgeroep is en waaraan gelowiges deelneem. Die wegspringblokke is die geloof wat die Heilige Gees jou gegee het. Voor, op die eindstreep wag die groot trofee: die Ewige Lewe. Soos met enige wedloop, is ook hierdie een nie maklik nie, en dit verg uiterste inspanning. Tussen die wegspringblokke en die eindstreep is daar talle hindernisse wat jy moet oor, hindernisse soos selfsug en gierige motiewe in die diens van God. Dit kos harde werk, konsentrasie en uithouvermoë om op die baan te bly. Dan moet jy ook deurentyd in die regte verhouding met die Here bly.

Soos in enige wedren, gaan jy nie maar jou eie paadjie volg en eers ‘n draai op die pawiljoen, of erger nog, in die kantien maak op pad na die wenstreep nie! Daar is sekere reëls wat stiptelik en onberispelik nagekom moet word, anders kan jy dalk net gediskwalifiseer word.

Die wenstreep, Jesus se wederkoms, is alreeds baie naby. Hou jou oog gevestig op Hom, en gooi al jou krag in om daardie laaste treë na die wenstreep met deursettingsvermoë en onderskeiding te hardloop.

Gebed:

Here, gee my asseblief ‘n Bybelse tevredenheid, en gee my krag om die wedloop met onderskeiding te voltooi.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Petrus se Verraad
26 April, 2024
Hosanna, Hosanna!
25 April, 2024
Nasaret Verwerp Jesus
24 April, 2024
Jesus se Doop
23 April, 2024
Géén Plek vir Jesus
22 April, 2024