x
 

Hoe het Ons Dag se Brood begin?

 

Ons Dag se Brood het sy beslag gekry in Julie 2000, toe God die NG Gemeente Noordkus die visie gegee het om die Blye Boodskap oor die oorweldigende medium van die Internet te versprei.

Aanvanklik is kort boodskappies wat verkry is van die organisasie "Netwoord" aan gemeentelede uitgestuur. Mettertyd het dit uitgebrei na buite die gemeentegrense, en ver buite ons landsgrense.

In Januarie 2002 droog die materiaal van Netwoord egter op, en word ons gevorseer om self boodskappies te produseer. Ek het wyd en syd pleidooie gestuur na verskeie predikante om te help met die skryf van dagstukkies, maar al my pleidooie het op dowe ore geval. God het 'n ander plan met my lewe gehad - Hy wou hę dat ek self die pen opneem. Maar ek is nie 'n teoloog nie! Wat weet 'n leek soos ek tog van geestelike literatuur? Soos Moses van ouds het ek hard geprotesteer, want ek is dit nie waardig om sulke verhewe dinge te skryf nie. Die Here se antwoord aan my was dat Hy Self vir my die woorde sal voorsien!

God is getrou en regverdig, en na meer as 1700 dagstukkies wat uit my pen gevloei het kan ek terugkyk met groot dank aan Hom wat gereeld die woorde voorsien het aan my, Sy sekretaris.

Hierdie oordenkinkies bereik tans minstens 10'000 mense (dalk baie meer) węreldwyd deur verskeie kanale. Dankie aan elkeen wat meewerk om dit te versprei op verskillende maniere.

Dit is die visie van die NG Kerk Noordkus om ook op hierdie manier toe te sien dat die Woord van God uitgedra word na al die nasies, soos Jesus ons die opdrag gegee het in Matteus 28:19: "Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels".

Louis Nel - Ouderling NG Kerk Noordkus.

 

 

Louis Nel