Hoe Word Ek 'n Christen?
My liewe Vriend,
Vandag lees jy waarskynlik, nee, BESLIS die beste nuus wat jy ooit
gehoor het!
JY KÁN VIR EWIG LEWE!
En wat kos dit? Alles het mos deesdae 'n prys.
Wel, hierdie een is gratis. GRATIS! Absoluut gratis!!!
Nou vra jy my waar die vangplek dan is.
Daar is GEEN vangplek nie! Maar daar is tóg 'n opoffering.
Nuuskierig?
Nou, lees dan verder!
Baie jare gelede het God mense geskape. Hy het hulle
perfek gemaak, sonder enige sonde en hulle het in volkome harmonie
gelewe met God, mekaar en die natuur. Maar God het nie robotte gemaak
nie: Hy het vir hulle die vermoë gegee om sélf te dink
en keuses te maak, selfs tussen goed en kwaad.
Hulle het die kwaad verkies bo 'n lewe saam met God, die God wat hulle
lewe gegee het.
God se straf vir hierdie daad was die doodstraf.
Ek en jy is afstammelinge van hierdie eerste mense
wat God gemaak het, en tot vandag toe kan ons maar net nie wegbreek
van die verskriklike gewoonte om die kwaad bo God te verkies nie.
Daar gaan nie 'n enkele dag om dat ons nie ten minste een van God
se wette oortree nie
En ons is gedoem tot die doodstraf!
Of is ons?
God het besef dat dit absoluut onmoontlik is vir
ons mense om weg te breek van die kwaad af, toe stuur Hy sy enigste
Seun, Jesus, om vir 33 jaar tussen ons te woon. Dit het 2000 jaar
gelede gebeur. Hy was die enigste mens wat ooit gelewe het wat nooit
toegegee het aan die kwaad nie. Maar die mense het Hom gehaat. So
groot was hulle haat dat hulle Hom aan planke vasgespyker het en
Hom daar in die versengende hitte van die ongenadige woestynson laat
hang het totdat Hy dood was.
'n Afgryslike verhaal, sê jy?
Ja, moontlik, maar God het dit Sélf so beplan.
Sien, Jesus het met hierdie handeling ál die blaam op Homself geneem
vir die sondes wat ek en jy doen. Hy het die volle prys betaal van die
volle straf van God.
Nou wat het dit dan met jou te doen?
Jesus lewe! Hy is nie dood nie!
Drie dae nadat hulle Hom doodgemaak het, het Hy weer lewendig geword. Hiermee
het Hy die weg gebaan vir ek en jy om ook vir ewig te lewe.
Beteken dit dan dat jy outomaties die ewige lewe kry?
Nee! En hier is waar die opoffering inkom.
In die eerste plek moet jy besef dat daar
net een God is, die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees,
die Skepper van die hemel en die aarde. Hy is ook die outeur van
die gewildste boek wat ooit geskryf is: die Bybel, waarin die geheim
van die ewige lewe opgesluit is.
Tweedens moet jy besef dat jy nie volgens
God se wette leef nie, en maak nie saak hóé hard jy
probeer om goed te lewe nie, jy bly maar sondig teen Hom. Sy wet
sê dat jy Hom met jou hele hart moet liefhê, en dat jy
ander mense ook moet liefhê, so lief as wat jy vir jouself
is, ja, selfs jou grootste vyand moet jy liefhê. Dit mag na
'n eenvoudige wet lyk, maar glo my: dit is absoluut onmoontlik om
elke dag daarby te hou. God se straf vir hierdie ongehoorsaamheid
is die dood. Maar nog meër: dit beteken ook die ewige straf
in die Hel!
Derdens moet jy met jou hele hart glo dat
God sy enigste Seun, Jesus, gestuur het om die volle, verskriklike
prys vir jou te betaal. Hy was in jou plek gestraf, en dit beteken
dan dat jy nooit weer gestraf hoef te word omdat jy God se wette
verontagsaam het nie. Nog meër: dit beteken dat jy die ewige
lewe het!
Om hier op aarde ste sterwe is slegs die begin van 'n splinternuwe lewe
met 'n splinternuwe liggaam wat nooit, ooit oud sal word nie, of siek nie
en wat nie pyn sal voel nie.
Is dit nou nie die wonderlikste nuus wat jy ooit
gehoor het nie?
Om meer uit te vind oor hierdie
wonderlike nuus: kontak my by louis@chl.co.za of leraar@noordkus.co.za
Johannes
3:16
God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun
gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan
nie maar die ewige lewe sal hê.
Romeine 3:23
Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God
nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van
sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.
Romeine 6:23
Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God
gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.