Langs Jakob se Sterfbed

13 February, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Langs Jakob se Sterfbed

Genesis 47-50

Wanneer Jakob in Egipte aanland in Josef se luukse wa, neem Josef die ou man om die Farao te gaan ontmoet. Farao vra uit oor wat Jakob en sy seuns se nering is, en dan verduidelik hy dat hulle veeboere is. Die Farao is beïndruk met Jakob, en hy verneem of daar nie dalk ‘n paar knap manne in sy groep is wat die koninklike vee kan versorg nie. Die Farao kan sien dat ou Jakob al baie myle op het. Hy is nuuskierig oor hoe oud hierdie man dan kan wees. “Honderd en dertig jaar,” deel Jakob hom mee, maar dan voeg hy vinnig by dat hy eintlik maar nog jonk is in vergelyking met pa Isak en oupa Abraham. “Maar dis al die swaarkry en verdriet wat my so oud laat lyk,” verduidelik hy. “Boonop is ek eintlik maar net ‘n vreemdeling hier op aarde,” voeg hy by. Ja, na al die jare wat hy en sy voorvaders nou al in die beloofde land Kanaän bly, altesaam byna 300 jaar, is ál eiendom wat hy kan wys, ‘n put, ‘n graf en ‘n klein lappie grond. Dit maak hom nou nie juis die eienaar van die land nie!

En dan kom die groot verrassing: Jakob en sy mense word ‘n stuk grond toegesê in die land Rameses, ‘n vrugbare stuk aarde. Dit word hulle eiendom. Nou is hulle nie meer bloot bywoners en vreemdelinge nie, maar hulle is grondeienaars. “Maar dis dan in die verkeerde land!” wil ons uitroep. Inderdaad het selfs die naam van die gebied ‘n onheilspellende klank aan hom. Ja, Egipte het nou die land van Jakob (Israel) se afstammelinge geword.

Die verskriklike droogte was op hierdie stadium maar nog in sy kinderskoene. Daar het nog ‘n volle vyf jaar daarvan oorgebly. Van heinde en verre het mense by Josef kom graan koop. Uiteindelik begin die kopers se geld opraak, en word hulle gedwing om hulle vee te verruil vir graan. Later is selfs dié op, en word hulle eiendom verruil sodat hulle maar net aan die lewe kan bly. En deur dit alles, bestuur Josef hierdie graanbesigheid met groot vernuf, en maak hy die Farao ‘n skatryk man. As mense selfs hulleself as slawe aan Josef verkoop om iets te kry om te eet, dan word vir ons gesê dat die ganse Egipte se eiendom sowel as sy mense nou aan die Farao behoort. Volgens ou Egiptiese inskripsies het Farao Rameses III nie minder nie as 3264 veewagters gehad - feitlik almal buitelanders. Dit gee jou net ‘n idee van hoeveel vee hy bekom het uit die ruiltransaksies.

Later, na die hongersnood verby is, het Josef vir die mense saad gegee, maar ‘n vyfde van hulle opbrengs moes aan die Farao gegee word. Hulle sowel as hulle grond het mos nou aan hom behoort!

Maar terug by Jakob. Sy jare het aangestap, en hy het geweet dat sy einde naby is. Op 147 is ‘n man nie meer ’n kuiken nie! Josef word laat roep - Pa wil met hom praat. Jakob is ‘n bekommerde man: Egipte is nou alles goed en wel, maar hy wil tog nie hier begrawe word nie. Hy wil by die huis begrawe word. Josef belowe hom dat hy sal sorg dat Jakob in oupa Abraham se graf begrawe sal word.

Nie lank daarna nie, word Josef weereens ontbied: “Jou pa is baie siek!” Die einde is in sig. Josef word geseën asof hy die oudste seun is, met ‘n dubbele seën. En dan, die verrassing: Josef se twee seuns, Efraim en Manasse word as Jakob se eie seuns verklaar. Hulle word dus ook nou stamvaders soos die ander seuns. Ook húlle word geseën, en daarmee bind hy die twee wat in Egipte gebore is aan die beloftes wat God aan hom en Isak en Abraham gegee het.

Dan word al Jakob se seuns nadergeroep. Die tyd het aangebreek: hulle moet nou hulle seën kom ontvang. Dit is soos om in ‘n prokureur se kantoor te sit wanneer ‘n belangrike persoon se testament uitgelees word, propvol spanning en verrassings.

Ruben is uit die aard van die saak eerste aan die beurt. Hy is immers die oudste en natuurlik ook die hoof erfgenaam, en leier van die volk. Maar hier kom die eerste verrassing: Hy word sy status ontneem omdat hy hom vergryp het aan sy pa se byvrou. Dit maak hom onwaardig. Ook Simeon en Levi kwalifiseer nie as leiers nie, oor hulle geweld. Hulle het mense koelbloedig vermoor. Juda is die een wat aangewys word as leier. “Jy is ‘n leeu, my seun Juda,” sê Jakob. “Jy sal altyd regeer tot Silo kom.” Dawid en Jesus is uit die stam Juda gebore.

Terwyl Jakob se seuns om hom staan, het Jakob vrede. Sy taak is afgehandel. Dan sterf hy. Josef het hom huilende gesoen. Jakob is volgens sy wens in die Makpelagrot in Kanaän, die beloofde land begrawe saam met sy pa, Isak en oupa Abraham. Hy kry ‘n staatsbegrafnis soos slegs die mees hooggeplaaste Egiptenare kan kry.

Na die begrafnis, wat twee maande geduur het, is Josef se broers bekommerd. “Nou is Pa dood, en nou gaan Josef ons terugbetaal vir wat ons aan hom gedoen het!” Hulle kom val voor hom neer en smeek om vergifnis. Josef is in trane: “Ek is nie God nie”, sê hy vir hulle, en dan verduidelik hy dat God eintlik hulle wandade omgekeer het, sodat hulle eie redding en dié van hulle volk daaruit sou voortkom. “Moenie bang wees nie, ek sal sorg dat julle en julle kinders kos het.” En daarmee is Josef se vergifnis finaal.

God se vergifnis vir my en jou sondes is nog soveel groter as dié van Josef. Aanvaar dit en beleef dit!

Gebed:

O Here, dankie dat U vergifnis so allesomvattend is, en dat ek in vrede kan leef, met die gedagte dat U my totaal en onvoorwaardelik vrygespreek het in Jesus, U Seun.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Vergifnis
19 April, 2024
Entoesiasme
18 April, 2024
Wedloop van die Lewe
17 April, 2024
Die Here se Bevel
16 April, 2024
Die Woord
15 April, 2024