Laat U Wil Geskied

19 April, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Laat U Wil Geskied

2 Timoteus 1:1,2

As iemand vandag vir my sou vra waarom ek die moeite doen om elke dag die dagstukkies te skryf, dan sit dit my aan die dink: Is dit omdat ek 'n pligsbesef het of omdat ek lief is om te skryf? Of is dit eerder omdat ek lief is vir die Here? Dalk is dit omdat ek ‘n passie het om die Woord die wêreld in te stuur? Of eerder omdat God se liefde my daartoe dring? Kom ons gooi die vraag om: waarom doen jy, liewe leser, die koninkrykswerk waarmee jy besig is? Dominee, Pastoor, Ouderling, Dienswerker, wat is die dryfveer agter jou werk vir die Here?

Daar is seker baie antwoorde op hierdie vraag, antwoorde wat baie edel en mooi klink. Paulus sê in sy eerste brief aan Timoteus dat hy as apostel optree in opdrag van die Here. In hierdie tweede brief stel hy dit anders: hy doen dit “deur die wil van God”. Hy is ‘n apostel, suiwer omdat die Here wil hê dat hy een moet wees. Dit behoort dan ook die hoof dryfveer te wees van elkeen van ons se arbeid in God se wingerd, omdat Hy dit so wil hê. Dit bring ons by ‘n baie belangrike gedagte: dat sonde is om NIE die wil van God te doen nie. As jy dus nie die werk doen wat Sy wil vir jou bepaal nie, dan is jy mos besig om te sondig!

Ons het in die eerste brief gelees hoedat jy daardie opdrag tot Christenleierskap ontvang, en hoe jy dit moet uitvoer. In hierdie brief verskuif die fokus egter so ‘n bietjie. Ons sien hoedat God se wil bepaal hoe jou bediening verloop. Dikwels is Sy wil baie anders as wat ek en jy wil, en verloop dit soms verrassend anders as wat ons ooit kon droom. Vat nou maar vir Paulus: Terwyl hy daar in die dodesel besig was om hierdie brief te skryf, kon hy sekerlik baie maklik in die versoeking kom om te redeneer dat sy lewe ‘n totale mislukking was. Waarvoor het hy dan so hard gewerk? Net om in die tronk te sit en krepeer? En skaars iemand te kon bereik deur daardie klipmure? Was alles wat hy in sy vol lewe opgebou het nou besig om te verkrummel? Ja, inderdaad was Paulus dikwels seker teleurgesteld terwyl hy in die gevangenis gesit het, vasgeketting, vuil en verwaarloos.

Ten spyte van sy haglike situasie, sien ons egter ‘n uitgesproke, positiewe, borrellende Paulus wat sy brief begin deur sy geloof in die wil van God te bely. Wat ‘n wonderlike troos is hierdie belydenis van hom nie vir jou en my nie! Veral wanneer dinge dikwels so baie anders verloop as wat ons beplan het. Dit is nie deur my eie wil of opdrag dat ek ‘n Christenleier geword het nie. Daarom gebeur dit dikwels dat dinge gladnie uitdraai soos wat ek dit graag sou wou hê nie. As ek jare gelede my eie sin kon kry, was ek waarskynlik vandag ‘n predikant met ‘n krimpende, klein gemeentetjie iewers op die platteland. Die wil van God was egter vir my baie anders, en al was ek destyds bitter teleurgesteld toe dit my nie beskore was om ‘n dominee te kon word nie, is ek vandag jubelend dankbaar, want Hy het soveel groter dinge vir my in Sy “verrassingspakkie” gehad, en ek het die voorreg om die wonderlike boodskap daagliks met baie duisende mense te kan deel.

Kortom kan ons sê dat God die mag het om selfs baie negatiewe resultate (uit óns oogpunt) te laat uitwerk in wonderlike positiewe gevolge. In 2 Tim. 2:9 stel Paulus dit so mooi, as hy sê dat hy in boeie is soos ‘n misdadiger, maar dat die Woord van God nie geboei kan word nie.

Dalk sit jy vandag in ‘n baie negatiewe situasie. Moontlik is jy ‘n leraar, en dinge lyk bitter vaal in jou gemeente. Miskien het jy die verlossingsboodskap met ‘n kollega gedeel, en hy het dit verwerp. Dan moet jou gebed steeds wees soos wat Jesus ons geleer het: “Laat U wil geskied....” God sal op Sy regte tyd die regte ding laat gebeur.

Dit mag dalk baie ironies klink dat Paulus hierdie brief begin deur die belofte van lewe te verkondig, terwyl hy self besig was om die dood in die oë te staar. Paulus was egter só oortuig van die oorwinning van die lewe in Christus Jesus dat hy nie toegelaat het dat die omstandighede in die tronk, en selfs die dood hom beïnvloed nie. Op dieselfde wyse moet jou oortuiging van die saak waarvoor jy staan ook rotsvas wees. Dit help niks as jy vir ander die pad na Jesus wys, en jou eie geloofslewe wankel nie. Leef jou geloofslewe positief, doelgerig en oortuigend uit. Kyk na Paulus vir ‘n voorbeeld van hoe dit gedoen moet word!

2 Timoteus is ‘n testament, soos ons reeds gister gemeld het. Dit is egter nie ‘n regsdokument nie, maar ‘n liefdesbrief waarin Paulus sy kosbare geestelike erfgoed aan Timoteus agterlaat. Hy deel met sy “geliefde seun” dinge van onskatbare waarde vanuit ‘n vaste geloofsfondament. Hy kyk terug oor sy lewe (1:3-2:18), maar terselfdertyd kyk hy ook in die toekoms in (3:1-4:18). Paulus het kosbare lewenslesse geleer, en nou deel hy dit, nie alleen met Timoteus nie, maar ook met jou en my, onder inspirasie van die Heilige Gees. Sodoende gee God vandag hierdie rykdom vir ons sodat ek en jy as Christenleiers getrou kan volhard tot eer van Hom, die Almagtige en al die pligte van ons bediening sal uitvoer volgens die wil van God.

Gebed:

Hemelvader, maak my asseblief getrou om te werk volgens U wil.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Vergifnis
19 April, 2024
Entoesiasme
18 April, 2024
Wedloop van die Lewe
17 April, 2024
Die Here se Bevel
16 April, 2024
Die Woord
15 April, 2024