Markus - Die Evangelie

Markus 1:1

Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, begin só: - met hierdie kort sinnetjie kondig Markus aan waaroor sy boek handel. Dit is nie alleen die inleiding tot die eerste vyftien verse van die boek nie, maar dit dui die ganse wese van sy boek aan. Markus noem sy boek bloot: Die Evangelie - Goeie Nuus! En waaroor gaan hierdie goeie nuus? Natuurlik oor Jesus en oor die verlossing wat Hy kom bied. Sy ganse boek draai slegs om een enkele Persoon: Jesus.
‘ n Kritikus oor goeie boeke sou vir Markus ‘n nul gegee het oor die begin van sy boek. In ‘n goeie speurverhaal sal jy moet wag tot die héél laaste bladsy om uit te vind wie die skuldige is. In Markus se verhaal blaker hy sommer in die héél eerste sinnetjie uit wie die belangrike Persoon is. Maar dan is dit so dat jy reg van die begin af moet verstaan: Jesus is die Christus - die Seun van God. Sonder hierdie feit is die boek van géén waarde nie.
Maar is dit werklik die moeite werd vir my om hierdie boek te lees? Is dit vandag nog enigsins van waarde vir ons moderne gelowiges? Het die boek werklik vir ons vandag ‘n aktuele boodskap?
Markus se boodskap is in ‘n sekere sin baie kontroversieel. Ek het al baie mense hoor sê, dat as jy ‘n Christen is en ernstig is oor jou geloof, dan sal alles net goed gaan met jou. Dan sal teëspoed jou pad nooit kruis nie, en jy sal gesond wees. Jou sake sal suksesvol wees en voorspoed sal jou metgesel wees. Markus sê: Nee, dit is nie waar nie! Ons sien in sy boek dat die teenoorgestelde eintlik waar is, want as jy werklik vir Jesus wil volg, dan moet jy bereid wees om swaar te kry.
Nou waarom sal ‘n mens dan al die moeite doen om Jesus te volg, as dit vir jou net swaarkry in die sak bring? Die eenvoudige rede, volgens Markus, is dat as jy die dag werklik in die geloof besef wie Jesus waarlik is - dat Hy die Seun van God is, dan kan jy net eenvoudig nie anders nie as om Hom te volg soos wat Hy gevolg wil word. En dit is nie ‘n maklike paadjie nie! Die Jode van daardie tyd wou Jesus eintlik heeltemal anders volg - hulle wou dit hê dat Jesus hulle van die Romeinse juk sou verlos, en dat hulle dan natuurlik triomfantlik sou leef in vrede. Selfs vir die dissipels was dit moeilik om te begryp dat dit nie is wat Jesus kom doen het nie - dat Hy gekom het om te ly en te sterf.
As ons dit werklik begryp, dan besef ons as gelowiges dat as die Seun van God moes ly - hoe kan ek dan aanspraak maak op ‘n lekker lewe? Ek moet ook bereid wees, nes Jesus, om my kruis op te neem, myself te verloën en Hom te volg.
Wie is die man wat hierdie evangelie geskryf het? Baie eenvoudig: Sy naam was Markus. Ongelukkig is dit al wat ons van hom weet. Daar is baie teorieë oor wie presies hy was, maar hulle bly almal maar net gissings. Ons weet absoluut niks van hierdie onbekende skrywer nie, buiten dat hy ‘n Joodse Christen was, en dat Grieks nie sy moedertaal was nie. Ons weet egter dat dit die heel eerste evangelie is wat geskryf is - nog voor Matteus en Lukas. Dit is so ongeveer 65 of 70 nC geskryf, sowat 35 jaar na Jesus se kruisiging en opstanding. Voor Markus sy verhaal geskryf het, is die gebeure mondelings oorgedra, en Markus maak gebruik van hierdie vertellings om die boek saam te stel.
Ons mag dit egter nooit uit die oog verloor, dat Markus nie sommer maar net gaan sit het en die verhaal van Jesus begin skryf het nie. Dit was ‘n Goddelike inspirasie wat gelei het daartoe dat hy dit begin skryf het, en deur die inspirasie van die Heilige Gees het Markus hierdie wonderlike, meesleurende verhaal geskryf - die verhaal van Jesus, die Seun van God wat gekom het om te ly en te sterf vir ons verlossing.
Nadat Markus sy verhaal geskryf het, het Matteus en Lukas dit onder oë gekry, en hulle het gebruik gemaak van baie van die materiaal in Markus se boek om hulle eie weergawes van die evangelie neer te pen. Elkeen van hulle het egter sy eie unieke stempel afgedruk, want hulle het elkeen die verhaal geskryf uit ‘n totaal ander oogpunt.
Vir wie het Markus oorspronklik geskryf? Ons kan aflei dat dit vir gelowiges was wat in ‘n baie moeilike tyd van konflik geleef het. Die Romeine het oorlog gemaak teen die opstandige Jode, en dit kon dalk vir hulle bedoel wees. ‘n Ander moontlikheid is ook dat dit geskryf is vir die gelowiges wat so wreed deur Nero vervolg is. Vir hulle was die boodskap dat Jesus nie maar net iemand was wat in Palestina geleef het nie, maar dat Hy ook hulle soort lyding moes verduur.
Vandag wil Markus met ons praat en moed gee in die situasie waarin ons onsself bevind, waar geweld en oorlog en konflik en swaarkry aan die orde van die dag is. Jy sal dan ook duidelik sien dat Markus nie eers meld van die geboorte en kindertyd van Jesus nie, maar dat hy sommer wegval in die héél eerste hoofstuk met Jesus in die genadelose woestyn en die duiwel wat Hom versoek.
Ek nooi jou uit om saam met my deur die bladsye van hierdie aangrypende boek te stap op soek na God se wil vir ons lewe.
Gebed:
Here, ek wil U graag dien met my hele hart, al kos dit dan ook vir my swaarkry.


 

 

Vorige Dagstukkies

Markus - die Evangelie
‘n Stem uit die Woestyn
Jesus se Doop
Jesus se Taak Begin
Die Besetene van Kapernaum
Simon se Skoonma
Die Melaatse Word Genees
Die Verlamde Man (deel 1)
Die Verlamde Man (deel 2)
Levi - die Tollenaar
Om te Vas
Jesus, Here van die Sabbat
Die Gebreklike se Genesing
Jesus Trek Groot Skares
Laster teen die Heilige Gees
Jesus se Familie
Die Saaier
Die Lamp Onder die Emmer
Die Sonneblomland