Ons Dag Se Brood
'n Projek van die N G Gemeente Noordkus Evangelisasie Diensaksie
Dagstukkie Argiewe > 2015 > Maart > 27 - 'n Nuwe Mens
27 Maart 2015
'n Nuwe Mens
2 Korintiërs 1-9

Luister na hierdie Dagstukkie asook vorige Dagstukkies en Preke

Oor die volgende week of wat benut Paulus sy tyd om die brief aan die gemeente in Korinte te skryf, en Timoteus het die taak om Paulus se gedagtes op perkament neer te pen. Paulus voel gefrustreerd dat daardie gemeente nie altyd mooi verstaan wat hy vir hulle skryf nie. Hoe kan hy dit duideliker stel? In hierdie brief bekla hy sy lot aan hulle: "In ons briewe skryf ons aan julle niks wat julle nie self kan lees en verstaan nie. Ek hoop net julle sal ons eendag heeltemal verstaan. Tot nou toe het julle ons maar gedeeltelik verstaan."

Timoteus skud sy kop. Hy kan ook nie verstaan waarom die mense nie kan verstaan nie. Alles is tog so helder en duidelik gestel.

Inderdaad is daar 'n paar dinge wat ek eendag vir Paulus wil vra, want ek verstaan óók nie altyd mooi presies wat hy bedoel het nie. En dan sal Paulus daaroor lag. Sommige van die dinge wat hy geskryf het, het sy lesers al baie laat kopkrap, en daar is selfs tradisies geweef rondom sommige van die dinge, bloot omdat hulle misverstaan is. Vat nou byvoorbeeld die hoed: vir baie jare het almal geglo dat 'n vrou 'n hoed moet dra in die kerk! En dit bloot omdat ons nie verstaan het wat hy bedoel het nie!

In sy brief aan die gemeente in Korinte skryf Paulus mooi dinge. Hy skryf oor die triomf wat die Evangelie behaal het, waar die Here onder meer in Troas die deure wyd oopgemaak het vir die Evangelie. In Masedonië is die kennis van Christus versprei soos 'n aangename geur. Vir diegene wat Jesus se verlossing aangeneem het, was dit 'n lewensgeur. "Ons verkondig die Woord in opregtheid, in verbondenheid met Christus, in opdrag van God en in verantwoordelikheid aan God," skryf Paulus (2 Kor 2:17)

Maar dan is hy baie vinnig om te sê dat hy hiermee geensins sy eie stert probeer prys nie. "Ons sê dit omdat ons deur Christus ten volle op God vertrou. Uit onsself is ons nie in staat om iets te bedink asof dit uit onsself kom nie. Ons bekwaamheid kom van God, wat ons bekwaam gemaak het om bedienaars van 'n nuwe verbond te wees, nie van die letter nie, maar van die Gees" (2 Kor 3).

Paulus gee die troos (2 Kor. 4) dat ons soos kleipotte is, broos en maklik breekbaar, maar dat dít wat binne-in ons is, kosbaar is. Ja, ons liggame mag dalk verniel of gebreek word, maar dat Jesus juis sigbaar word in ons sterflike bestaan. "Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly" (2 Kor. 4:16,17).

Dan gaan hy aan met die triomferende woorde: "Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar 'n tent is, afgebreek word, ons 'n vaste gebou in die hemel het. Dit is 'n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan" (2 Kor. 5:1).

Paulus besef ook dat versoening noodsaaklik is: "Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou" (2 Kor. 5:17,18). Paulus pleit by die lesers: Omdat God hierdie versoening deur Christus bewerkstellig het, moet hulle dan ook as versoende kinders van God lewe.

En dan skryf Paulus een van daardie dinge wat baie lesers al laat kopkrap het: "Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie." Beteken dit in vandag se taal dat ek nie saam met 'n ongelowige mag werk nie? Nee, ek dink nie dit is wat Paulus wou sê nie. Dit beteken eerder dat 'n gelowige nie dieselfde soort lewe kan lei as 'n ongelowige nie. Jy is 'n nuwe mens (so het ons hier bo gesien) en dus lei jy 'n nuwe lewe.

En dan doen Paulus 'n beroep op die gemeente: die gemeente in Jerusalem trek finansieel baie swaar. Nou vra hy dat die Korintiërs hulle hande diep in hulle sakke sal steek om hulle te help. Hy sê dat die gemeentes in Masedonië alreeds ruim bygedra het hiervoor, al gaan dit daar ook maar dikwels broekskeur. Hy sal vir Titus stuur om hulle bydraes te gaan haal. En terloops, hy was só bly toe Titus die dag by hom opdaag uit Korinte om vir hom die goeie nuus te kom vertel, dat dit goed gaan in die gemeente.

Oor hierdie bydraes, maak Paulus dit duidelik dat dit vrywillig is. Elkeen moet self besluit hoeveel hy sal gee, nie uit teësin of dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief. Maar onthou: wie karig saai sal karig maai, en wie volop saai sal volop maai (2 Kor. 9:6)!

Dan sluit Paulus die brief af en stuur dit saam met Titus na Korinte. Ja, jy het reg gelees: die oorspronklike 2 Korintiërs-brief het net gegaan tot by hoofstuk 9. Paulus het eers 'n paar maande later hoofstukke 10-13 geskryf, en as 'n aparte brief aan hulle gestuur. Dus het hy altesaam 5 briewe aan die Korintiërs geskryf waarvan ons weet. Daar mag dalk nog meer gewees het, maar daaroor is ons nie seker nie.

Gebed:

Here, dankie vir al die wonderlike waarhede in Paulus se brief. Help my asseblief om waarlik soos 'n nuwe mens vir U te leef.

26 Maart 2015
Vandag se Skriflesing
2 kOR 1:1-11

2 Korintiërs 1

1 Van Paulus, 'n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, en van die broer Timoteus. Aan die gemeente van God in Korinte en aan almal wat aan die Here behoort in die hele Agaje.

2 Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

3 Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee.

4 In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig,

5 want net soos daar vir ons 'n oorvloed van lyding is ter wille van Christus, is daar ook vir ons 'n oorvloed van bemoediging deur Christus.

6 As ons dus in beproewing kom, is dit dat julle bemoedig en gered kan word. As ons bemoedig word, is dit om julle te bemoedig en te versterk, sodat julle met geduld dieselfde lyding kan verduur wat ons ook verduur.

7 En wat julle betref, het ons 'n vaste verwagting: ons weet dat net soos julle saam met ons deel het aan die lyding, julle ook aan die bemoediging deel het.

8 Ons wil hê, broers, dat julle moet weet van die moeilikhede wat ons in die provinsie Asië ondervind het. Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het.

9 Trouens, dit het vir ons gevoel asof die doodvonnis klaar oor ons uitgespreek is. Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe.

10 Dit is Hy wat ons uit so 'n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Op Hom is ons hoop gevestig: Hy sal ons ook verder red.

11 Daartoe werk julle mee deur vir ons te bid. So sal die gebede van baie 'n seën van God vir ons bring, en dan sal baie Hom vir ons dank.